Persverklaring: Museumdag 2020 plaas fokus op Taalmuseum se relevansie

  • 5

Die internasionale museumraad (ICOM) vier sedert 1977 Internasionale Museumdag waardeur museums regoor die wêreld op of rondom 18 Mei die geleentheid gebruik om op skeppende wyses en deur spesiale aktiwiteite uiting te gee aan ’n bepaalde tema. Vanjaar se tema is “Museums vir gelykheid: Diversiteit en inklusiwiteit”, wat weer die kollig plaas op die werklike doelstellings van museums, skryf Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM).

ICOM beskryf ’n museum “as ’n nie-winsgewende, permanente openbare instelling, in diens van die samelewing en sy ontwikkeling, wat die tasbare en nie-tasbare erfenis van die mensdom en sy omgewing versamel, bewaar, navors, kommunikeer en uitstal ten bate van opvoeding, studie en plesier”.

Binne die Suid-Afrikaanse konteks en realiteite word die rol en funksies soos vervat in die definisie, sowel as die kernpligte van wat ’n museum veronderstel is om te wees en doen, helaas verwaarloos. ’n Tekort aan genoegsame befondsing en opgeleide personeel help ook nie juis die nakoming van die rol of funksies nie. Die situasie word vererger deur ’n gebrek aan politieke wil en begrip vir die belangrike rol wat hierdie tipe kulturele instellings as versoeners en brugbouers kan speel.

Ver verwyder van sy tradisionele rol gaan al hoe meer stemme op dat museums die aspekte bekend as “nuwe museologie” en “volhoubare ontwikkeling” moet insluit in hul werksaamhede. In ooreenstemming met hierdie nuwe denkrigting sien ek die grootste uitdagings vir die Taalmuseum (in die Paarl se middedorp) om sy oorwegend Eurosentriese benadering te hersien en aan te pas by behoeftes van die tyd om sodoende relevant te bly. In ’n tyd van voortdurende veranderings, te same met die diverse aard van die Afrikaanse taalgemeenskap, word die Taalmuseum genoop om skeppende en vindingryke maniere te vind om die uitdagings die hoof te bied. Deur die verskaffing van universele toegang ten opsigte taal, toegang, gestremdhede en intellektuele vermoëns word mediums en ruimtes geskep wat die lewensgehalte van mense verhoog, ’n opvoedkundige rol vervul en gemeenskaplike kwessies aanspreek.

Met behulp van ’n uitgebreide kommunikasiestrategie, wat grotendeels fokus op die gedeelde oorspronggeskiedenis van hierdie jong Afrikataal, poog die Taalmuseum om ’n inklusiewe ruimte te skep waar die narratief erkenning gee aan bydraes tot die ontwikkeling van die taal uit al die groeperings – Europa, Suidoos-Asië en Afrika. Voorts poog die ATM (wat vanjaar 45 jaar vier) om deur ons wye spektrum van aktiwiteite die bou van menslike kapitaal, maatskaplike samehorigheid, taaltrots asook inklusiwiteit bevorder en ontwikkel as deel van ’n taak wat ons oor die volgende 45 jaar volhoubaar sal uitvoer.

Die doel van Internasionale Museumdag is voorts om museums die geleentheid te bied om hul te posisioneer as openbare mediums en ruimtes vir die uitruil en verryking van kulture, die ontwikkeling van gemeenskaplike begrip, maatskaplike samehorigheid en samewerking tussen gemeenskappe. In hierdie verband is die vraag seer sekerlik hoe museums die heersende ongelykhede en verdeeldheid binne die Suid-Afrikaanse samelewing kan oorbrug. Hoewel integrasie plaasvind, is Suid-Afrika is grotendeels nog ’n geskeide samelewing weerskante van kulturele, ekonomiese en politieke grense.

Museums kan as die ideale mediums gesien word om menslike kapitaal te bou deur middel van sy openbare programme waarmee idees van goeie maatskaplike waardes, menseverhoudings, kollektiewe identiteit, nie-rassisme en goeie burgerskap bevorder kan word. Openbare programme moet gestruktureer word om gemeenskaplike waardes oor linguistiese, kulturele, religieuse, ras-, klas- en ander grense te bevorder. Voort moet museums aan die spits wees van die skep van ’n omgewing waar diversiteit omarm word terwyl verdraagsaamheid asook verantwoordbare burgerskap gekweek word. Museumuitstallings in hul verskeie gedaantes is kragtige, invloedryke kommunikasiemediums. Die inhoud kan beide ’n opbouende en nadelige impak op die verspreiding van waardes en idees rakende identiteit hê asook hoe mense en kwessies visueel geprojekteer word; uitstallings onderskryf egter dikwels steeds sekere stereotipes, persepsies en konnotasies.

Dit bring my by die waarde van taal, nie net as medium van kommunikasie nie, maar as draer van kultuur en identiteit. Die Grondwet van die Republiek gee erkenning aan elf amptelike tale, daarom is dit van kardinale belang dat alle inheemse tale bevorder moet word en gelyke status geniet. Die aanbieding van museumaktiwiteite en openbare programme moet, waar finansieel haalbaar, voorsiening maak vir veeltaligheid. Die bevordering en viering van veeltaligheid moet ook ’n prioriteit vir museums wees, want dit dien telkens as van die eerste stappe waar uiteenlopende gehore kan leer van ander tale en kulture asook verdraagsaamheid ten opsigte van diversit eit om sodoende begrip vir die ander te ontwikkel.

Laat ons dus, ter viering van Internasionale Museumdag 2020, almal herbesin oor die rol en funksies van museums wêreldwyd en watter waardevolle rol museums kan vertolk as platforms vir dialoog, mediums vir versoening en inklusiewe ruimtes waar diversiteit gevier word.

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    "Museums vir gelykheid: diversiteit en inklusiwiteit." Museums word voorgestel as instansies wat as versoeners en brugbouers moet funksioneer. As daar Eurosentrisiteit by 'n museum is, moet dit glo hersien word. Ek vind die onverbloemde politieke aktivisme in die artikel ontstellend. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is daargestel om ondubbelsinning erkenning aan Afrikaans te gee; nie om sy doelstelling te verwater deur al elf amptelike tale te bevorder nie. Tydloosheid is 'n wesenskenmerk van museums en monumente. Hulle hoef nie, behoort nie - en kan nie vanwee hulle historiese aard - in pas met huidige ideologiese voorkeure wees nie. In belang van die heil van Afrikaans moet die weg wat die ATM deesdae inslaan, ernstig bevraagteken en reggestel word.

  • Francois Lion-Cachet

    Ek hou van "nie-rassisme" in plaas van "nie-rassigheid" – ek dink dit is meer in lyn met Suid-Afrika se realiteit in 2020.

  • Hanno Visagie

    "Non-racialism" = nie-rassigheid.
    "Non-racism" = nie-rassisme.
    Groot verskil tussen die twee.
    Die eersgenoemde was nog altyd die bedoelde, heersende terme.

  • Barend van der Merwe

    Hier gaan ons al weer nog voor ons behoorlik begin het. Afrikaans en al haar afgronde...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top