
Prent: Canva
(Aspirant-) skrywer, digter of literêre vertaler?
Die UV bied aan jou ’n kursus waarvan die vernaamste oogmerk die ontwikkeling van ’n lewensvatbare publiseerbare manuskrip is – en jy doen dit onder leiding van twee bekroonde skrywers, Henning Pieterse en Francois Smith. Dit is ook ’n volledig akademiese kursus waarvoor kandidate teoretiese modules op magistervlak moet slaag. Die gestruktureerde aard van die kursus maak dit moontlik dat dit gevolg kan word deur kandidate sonder ’n volledige honneurskwalifikasie in tale.
Die kursus strek oor twee jaar, waarvan die eerste jaar hoofsaaklik gewy word aan ’n toegepaste teoretiese begronding (’n kursus in literêre stilistiek en ’n navorsingskomponent) en die tweede jaar aan die skryfpraktyk, dit wil sê die afronding van ’n manuskrip gedurende interaktiewe werksessies.
Die fokus van die gestruktureerde MA is oorspronklike literêre skryfwerk en literêre vertaling, en tekste in enige genre mag aangebied word, fiksie sowel as niefiksie, populêr sowel as literêr, prosa sowel as drama en poësie. Die sukses van die kursus kan gemeet word aan die aantal en gehalte van die publikasies wat daaruit voortvloei; enkele voorbeelde is: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé, Weerlose meganika deur Anton Roodt, Mara deur Marida Fitzpatrick, Tenk deur Pieter Stoffberg en Wat ek van klippe weet deur Robert Schall.
Die kursus word in werksessieformaat op kampus aangebied.
Volledige inligting oor onder meer keuring, registrasie en voorvereistes is te kry by hierdie skakel.
Of stuur ’n e-pos aan een van die volgende adresse: smithfah@ufs.ac.za, pietersehj@ufs.ac.za of meiringi@ufs.ac.za.
Sluitingsdatum vir aansoeke vir studie in 2025: 30 Oktober 2024.