Persverklaring: Lenteskool vir skrywers van romantiese fiksie

  • 0

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met die liefdesverhaaluitgewer Penguin Random House Romanza, bied op twee Saterdae in Oktober (2 en 16 Oktober 2021) ’n aanlyn slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.

Bekende en bekroonde skrywers van romantiese fiksie, naamlik Sophia Kapp, Elsa Winckler en Didi Potgieter, asook die ervare redakteurs by die uitgee en bemarking van liefdesverhale Charlene Hougaard en Cliffordene Norton, tree as sprekers en gespreksleiers op. Liefdesverhaalsoorte soos die romanse en liefdesroman kom onder die vergrootglas. Hans du Plessis, eerste direkteur van die ATKV-Skryfskool en bekroonde digter en romansier, kom gee wenke oor die skryfproses.

Hierdie aanlyn skolingsgeleentheid, aangebied op die Zoom-platform, is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat ’n liefdesverhaal wil skryf. Die inskrywingsgeld daarvoor beloop R1 000 (eenduisend Rand) per persoon. E-pos Kobie van Aswegen te Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za om ’n inskrywingsvorm aan te vra.

Voornemende kursusgangers moet ’n kortverhaal met ’n romantiese strekking (ongeveer 1 500 woorde) of ’n eerste hoofstuk (nie meer as 3 000 woorde nie) van ’n liefdesverhaal by die ingevulde inskrywingsvorm aanheg. Inskrywing sluit op Vrydag 24 September 2021, en moet gestuur word aan bovermelde e-posadres.

Kom leer onder die leiding van mense wat van skryf oor die liefde weet!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top