Persverklaring: Klas van 2023, begin jou loopbaanreis by Akademia in 2024

  • 0

Studente wat Akademia se nauurse afstandmodel volg het die keuse om klasse óf by ’n sentrum óf via die e-leeropsie by te woon.

Die uitslae vir die matriekjaar van 2023 is pas bekendgemaak en dwarsoor Suid-Afrika brand die vreugdevure hoog. Vir derduisende matrikulante span die suksesvolle aflegging van die eindeksamen nie net die kroon op hul skoolloopbaan nie, maar baan dit ook die weg na die begin van hul loopbaanreis. 

Terwyl die meeste openbare hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika reeds hul aansoekproses vir studies in 2024 gesluit het, bied Akademia steeds aan skoolverlaters die geleentheid om vanjaar studies in Afrikaans aan te pak. Aansoeke vir voorgraadse studie by dié onafhanklike hoëronderwysinstelling sluit  eers op 9 Februarie. Die aansoekproses vind slegs aanlyn plaas en neem ongeveer twintig minute om te voltooi.

Akademia, wat vanjaar sy twaalfde jaar van klasgee vier, streef daarna om ’n akademiese tuiste te wees waar die denke en die hart van studente gevorm word vir ’n vrye toekoms.

Skoolverlaters kan tussen verskeie studierigtings oor vyf dinamiese fakulteite kies. Hierdie fakulteite sluit in: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid. Eenvoudig gestel: Hetsy jy nou ’n studierigting in joernalistiek, die regte, bestuursrekeningkunde, rekenaarwetenskappe of onderwys oorweeg, Akademia is die studietuiste vir jou!

Derhalwe dié verskillende studierigtings, bied die instelling ook aan voornemende studente ’n keuse tussen twee onderrigleermodelle. Die nauurse afstandsmodel bied ’n gerieflike klasrooster en is pasgemaak vir skoolverlaters wat graag wil studeer en tegelykertyd wil werk of ander belangstellings najaag. Hierdie opsie verteenwoordig vir hierdie studente die beste van twee wêrelde. Klasse vir dié model word nauurs by ’n sentrum of aanlyn via die e-leeropsie aangebied. 

Indien jy eerder aan ’n voltydse klaservaring wil deelneem, het jy alternatiewelik die opsie om jou studies by Akademia se kampus in Centurion aan te pak. Dié kampus is ’n miernes van bedrywighede en bied aan studente geriewe soos ’n kafeteria, ’n kliëntedienssentrum, ’n uitgebreide mediasentrum, ’n moderne ouditorium én ’n koshuiservaring. Verskeie ander fasiliteite wat studenteondersteuning bied, is ook beskikbaar. Studente wat die voltydse kampusmodel volg, geniet ’n bruisende georganiseerde studentelewe terwyl daar bedags klasgedraf word. Getrou aan die gedagte dat studentwees die beste tyd van jou lewe beslaan, word lewenslange vriendskappe hier gevorm en gekoester.

Ongeag van jou keuse van ’n onderrigleermodel, kan jy verseker wees van optimale akademiese ondersteuning vanaf ervare ondersteuningspersoneel en kundige dosente. Akademia se aanlyn leerbestuursplatform, Die Spens, verteenwoordig verder ’n eenstopportaal vanwaar studente toegang tot akademiese leesstof, studiemateriaal en belangrike inligting verkry. 

As ’n nuwe Fontie (Akademia-student) kan voornemende eerstejaars uitsien na ’n vol program. Die jaarlikse eerstejaarskamp is een van die hoogtepunte op die jaarkalender en bring elke jaar studente van heinde en verre onder die Akademia-vlag byeen. Tydens dié geleentheid, wat vanjaar vanaf 23 tot 26 Januarie plaasvind, word beide eerstejaarstudente van die nauurse afstandsmodel sowel as die voltydse kampusmodel die unieke geleentheid gebied om die Akademia-familie te leer ken. Hierdie familie bestaan uit medestudente, die studenteraad (SR), huiskomitees asook personeel en studentelewe-ambassadeurs. ’n Propvol program bestaande uit intellektuele sowel as buitelugsessies fokus op leierskapsontwikkeling, lewensafrigting en mentorskap.

Om die sprong vanaf skoolleerder tot studentwees te help vernou, bied Akademia  waardetoevoegende ondersteuning aan om nuwe studente te help om die kuns van studentwees baas te raak. Hierdie kursusse berei studente voor vir hoe om werkstukke aan te pak, basiese rekenaarvaardighede onder die knie te kry asook taal-, skryf-, en navorsingsvaardighede om ’n suksesvolle akademiese reis aan te pak. 

Akademia strewe daarna om ’n akademiese tuiste te bied waar beide die denke en die hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Dit beteken dat die instelling geroepe is om nie net studente met hoogstaande kennis en wysheid toe te rus nie, maar werklik ’n verskil te maak deur afgeronde en gevormde afgestudeerde studente te lewer wat ’n betekenisvolle bydrae sal lewer in die gemeenskappe waarin hulle hulleself bevind.

Akademia se aansoekproses vind aanlyn plaas en neem ongeveer twintig minute om te voltooi.

Waarvoor wag jy? Besoek die Akademia-webblad vandag nog en vergewis jouself van die voorgraadse studiemoontlikhede. Jy kan ook ’n afspraak maak met ’n studentewerwer deur konsultasiesessie aanlyn te bespreek of ’n e-pos na navrae@akademia.ac.za te stuur. Akademia, jou loopbaanreis begin hier!

  • Beeldmateriaal verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top