Persverklaring: Ingrid Jonker kom eindelik huis toe

  • 4
Versameling vind veilige hawe in Afrika ná lang Europese avontuur

Sestig jaar ná die tragiese afsterwe van een van Suid-Afrika se bekendste digters, Ingrid Jonker, het haar fisieke argief uiteindelik op 4 November na haar moederland teruggekeer. Dit nadat die versameling van manuskripte, briefwisselinge en foto’s ’n kwarteeu gelede na Europa geneem is waar die argief uiteindelik in die Literatuurmuseum in Den Haag, Nederland, beland het.

Volgens Ingrid se niggie, Cathy de Villiers, beskou die familie die restitusie as ’n vorm van “genesing van generasies vir die familie”.

Nadat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) saam met Ingrid Jonker se enigste dogter, Simone, wat in 2023 oorlede is, jare gelede die onderhandelinge oor die repatriasie met die museum begin het, is die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) en sy uitvoerende hoof, Eureka Barnard, as fasiliteerder betrek. Uiteindelik het SASNEV die inisiatief oorgeneem, die onderhandelinge afgerond en danksy ’n bereidwillige skenker die veilige vervoer van dié argief befonds.

Met vernuftige voetwerk het SASNEV boonop die hele projek nog net binne die herdenkingsjaar van Afrikaans Amptelik 100 kon voltooi. Deur bemiddeling van SASNEV se bestuursraadslid Andries Visagie, van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, word die argief nou gehuisves as deel van die Spesiale Versamelings in die Dokumentesentrum van die instelling se Biblioteek- en Inligtingsdiens. Daar word dit bewaar saam met versamelings van ander beroemde Afrikaanse skrywers, soos dié van NP van Wyk Louw, Uys Krige en Jan Rabie.

“In samewerking met haar nou oorlede dogter, kleindogter en kundiges het ons ’n geskikte instelling gevind om Jonker se nalatenskap vir die toekoms te beskerm,” sê Valérie Drost, direkteur van die Literatuurmuseum.

Jonker (1933-1965) is internasionaal bekend, veral danksy president Nelson Mandela wat tydens die inhuldiging van die eerste demokratiese parlement in 1994 ’n vertaling van haar gedig “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga” voorgelees het. Sy het dié legendariese skrywe gepen nadat ’n swart kind in 1960 deur ’n wit soldaat geskiet en toe in sy ma se arms gesterf het.

Volgens Jan Mutton, voorsitter van SASNEV en oudambassadeur van België, het Mandela verstaan dat Jonker se nalatenskap asook die openbare bewondering vir haar ’n unieke simboliese skakel tussen die ou en nuwe Suid-Afrika gevorm het. “Vir Mandela was sy ’n jong vrou wat die moed gehad het om die realiteit van apartheid in digvorm vas te vang.”

Mutton en Ena Jansen, ’n SASNEV-bestuursraadslid, was die afgelope jare ’n paar keer in Nederland om die restitusieproses in oorleg met die universiteit en die Jonker-familie ’n werklikheid te maak. “Haar argief is in Nederland uitstekend opgepas en die Literatuurmuseum het dit volledig gedigitaliseer, maar Jonker se nalatenskap kan slegs op eie bodem die volledige waardering kry wat dit verdien. Ek het onmiddellik geweet: sy moet huis toe kom,” voeg Mutton by.

In Europa was hy self ’n kind van die energieke tyd van politieke verset en studentebetogings van die 1960’s. Mutton sien in Jonker nie net ’n weergalose digter nie, “maar sy roep ook vir my herinneringe op aan ’n boheemse lewensstyl, opstandigheid teen ouers en gesagsdraers asook liefdesverdriet... Kortom, sy is die personifikasie van my eie jeug. Sy is een van ons, een van die Sestigers, en ons moet haar eer.”

Om die repatriasie te vier, vind ’n unieke funksie op 22 November by SASNEV in Pinelands plaas waar Jonker se ongelooflike lewe en invloed op ’n nuwe geslag Afrikaanses verken word. Jonker se familie sal teenwoordig wees en haar kleindogter, Margarita Celeste, sal ’n bydrae tot die dag se verrigtinge maak.

Die hoofspreker is die opwindende jong akademikus Courtneigh Ess, mededosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar lesing sal gevolg word deur ’n paneelgesprek, waaraan onder andere Louise Viljoen, ’n groot Jonker-kenner, sal deelneem. Die geleentheid sal boonop met musikale weergawes van Ingrid se gedigte aangevul word. Die doel is om met woord en klank te besin oor Ingrid se tydlose poësie, haar uitdagings, die seksisme en sensuur waarmee sy te kampe gehad het asook die digter se protesstem teen die apartheidsbestel. Maar selfs belangriker is dat haar relevansie vir ’n jong, diverse generasie Afrikaanse stemme in die kollig geplaas gaan word.

Slegs ’n beperkte aantal plekke is beskikbaar vir die publiek, dus belangstellendes word versoek om so gou moontlik ’n e-pos aan info@sasnev.co.za te stuur.

SASNEV is ’n onafhanklike sentrum waar die kulturele belange van Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika byeenkom met die doel om gedeelde taal- en ander kulturele ervarings te bewerkstellig. Sien ook sasnev.co.za en afrikaans100.org.

L’art poetique

Om myself weg te bêre soos ’n geheim
In ’n slaap van lammers en van steggies
Om myself te bêre
In die saluut van ’n groot skip
Weg te bêre
In die geweld van ’n eenvoudige herinnering
In jou verdrinkte hande
Om myself weg te bêre in my woord

- Ingrid Jonker

  • 4

Kommentaar

  • Dit is wonderlike nuus, ook die feit dat dit in Nederland geskandeer is. Maar hoe het dit in die eerste plek daar beland?

  • Barend vd Merwe

    Die versameling was lank by die destydse NELM (vandag AMAZWI), nadat Jack Cope dit geskenk het, maar is toe daar verwyder. Uiteindelik het die Nederlandse digter Gerrit Komrij die Ingrid Jonkerrekords gekoop en dit na sy huis in Portugal toe gevat. Sy testament het bepaal dit moet Stellenbosch toe. Hy is in 2012 oorlede, maar dit het nou eers hier aangekom. Die hele storie kan gelees word by hierdie skakel:

    https://maroelamedia.co.za/afrikaans/wat-gemaak-met-die-ingrid-jonker-versameling/

  • Petrovna Metelerkamp

    Ingrid Jonker se suster Anna het die versameling van NELM geleen omdat sy 'n biografie van Ingrid wou skryf, wat nie gematerialiseer het nie. Toe sy oorlede is, het haar dogter Catherine die dokumente na haar broer, Anthony Bairos, geneem. Hy het dit aan Komrij verkoop.

  • Erika van Greunen

    Baie interessante initiatief.
    Mens wonder net hoekom daar geen verwysing of insluiting is van Petrovna Meterlekamp nie? Bekend vir haar meesterlike biografie en ander werke oor Ingrid.
    Ons wonder.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top