
Die Jakes Gerwel Stigting en die Skool vir Tale: Afdeling Afrikaans en Fakulteit Opvoedkunde aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha nooi alle voornemende Afrikaans skrywers en digters uit om aansoek te doen vir ’n gratis kreatiewe werkswinkel wat vanaf 29 tot 31 Julie 2026 op die kampus aangebied sal word.
Die doel van hierdie projek is om nuwe skrywerstemme te vind en stories en gedigte te help ontwikkel wat ons letterkunde verruim. Die Jakes Gerwel Stigting streef daarna om opkomende talent te identifiseer en te ontwikkel. Daar word veral gesoek na stories oor gemeenskappe wat nog nie voldoende oopgeskryf is nie.
Die Stigting bied jaarliks intensiewe mentorskapsprogramme aan by Paulet Huis op KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap. Hierdie historiese huis het aan Jakes Gerwel behoort, en is na sy dood deur sy weduwee, Phoebe Gerwel, aan die stigting geskenk. Prof Gerwel was ’n intellektueel en brugbouer wat daarin geglo het dat opvoeding en die ontsluiting van alle Suid-Afrikaners se potensiaal die boustene is vir ’n gelyke samelewing.
“Hierdie kursus bied 'n broodnodige geleentheid waartydens ontluikende kreatiewe skrywers hul passie vir skryf begeleidend kan verken en ontwikkel. Dit dien as 'n eerste tree tot die wonderwêreld van die geskrewe woord waarin onontginde kreatiewe stemme gehoor kan word. En wie weet watter skryftalent wag om gehoor te word? Hierdie geleentheid moet reikhalsend aangegryp word," sê dr Dewald Koen, dosent in Afrikaanse letterkunde verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit.
Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, vind dit betekenisvol dat hierdie kursus by die Nelson Mandela Universiteit aangebied word. Gerwel was baie na aan Madiba – hy was sy raadgewer, toespraakskrywer en die direkteur-generaal in sy kabinet.
Belangstellendes moet teen 3 Julie 2026 ’n kort skrywersbio, volledige kontakdetail, en een van die volgende na info@jgf.org.za e-pos: vyf gedigte, een kortverhaal (ongeveer 2000 woorde), of ’n hoofstuk uit ’n roman. Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie, en daar sal geen individuele terugvoer oor die aard van die aansoeke gelewer word nie. Met opkomend word bedoel dat die skrywer of digter nog nie voorheen gepubliseer het nie.
Verdere navrae kan aan Kemp gerig word – theo@jgf.org.za. Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting is beskikbaar op www.jgf.org.za.

