Die Afrikaanse Taalraad is diep bekommerd oor die verhitte gemoedere in die huidige taaldebat waar oproerige studente selfs ‘n sambok gebruik het om hulle protes teen die taalsituasie by die Landboukollege Elsenburg krag by te sit. Studente wat hulle aan hierdie soort gedrag skuldig maak, se diskoers oor die plek van taal in onderwys laat veel te wense oor. Dit getuig van gebrekkige insig in die werklikheid van die Suid-Afrikaanse onderwystaalbedeling, het die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, Anne-Marie Beukes, gesê. Volgens ‘n woordvoerder van Elsenburg het die rus intussen weergekeer en is besluit tot tot ‘n redelike gesprek.
In die lig van onlangse gebeure doen Beukes ‘n beroep op die Minister van Hoër Onderwys om sy beoogde beraad oor transformasie wat taalbeleide by hoëronderwysinstellings in die besonder sal raak, oop te stel en nie net interne belanghebbendes by die beraad te betrek nie. Sy het waardering uitgespreek vir die Minister se positiewe standpunt oor meertaligheid en sy onlangse verklaring oor die rol van Afrikaans as onderrig- en navorsingstaal.
Die ATR het begrip daarvoor dat die taallandskap in die onderwys oor die afgelope twee dekades ingrypend verander het vanweë die snelveranderende demografie van Suid-Afrika se universiteite. Die resultaat van die massifikasie van hoëronderwys met ‘n groei van sowat 62% is dat Engels nou die verstektaal van onderrig en leer aan ons 22 hoëronderwysinstellings is, terwyl géén histories Afrikaanse universiteit daarop aanspraak kan maak dat alle voorgraadse onderrig daar slégs in Afrikaans geskied nie.
Daar is in die openbaar min tekens van ‘n beredeneerde taalgefundeerde gesprek waar faktore soos grondwetlike bepalings en ‘n taal-in-onderwysbeleid, wat meertaligheid erken, ‘n rol speel, het Beukes gesê. Die stem van oproerige en studente-aktiwiste vir wie Engels in baie gevalle ‘n tweede of derde taal is, gesteun deur die media, is sterker as die stem van die rede. Dit is ook nog maar die vraag of dit net studente was wat geprotesteer het. Ook niestudente wat nie aan die instellings verbonde is nie, is by die oproerigheid en het gemoedere opgesweep.
Die veeltalige erfenis van die Suid-Afrikaanse samelewing kom in die diskoers – juis oor taal - weinig aan die bod. Daar is min – indien enige - vernuwende denke wat na vore kom oor hoe om talige gelyke toegang tot onderwys te bewerkstellig en terselfdertyd gelyke, goeie gehalte onderwys in ‘n diverse opset aan te bied.
Die ATR erken dat Suid-Afrika swaar dra aan die littekens van die verlede – ook wat hoëronderwys betref. Dit is egter geen rede om instellings en onderwysprogramme te ontwrig en kampusse onveilig te maak nie. Vernuwende denke is nodig van die kant van die regering, van onderwysleiers en belanghebbendes sodat die land goeie rendemente kan oes op sy ruim belegging in onderwys. Opsies moet oorweeg word waar plooibare veeltaligheid in onderwysinstellings bedink en uitgevoer moet word. Dit beteken dat "uit die boks" gedink moet word, weg van wat ‘n mens kan bestempel as "dubbele eentaligheid" wat tans as alternatief aangebied word.
‘n Beroep word op die regering gedoen om sy hand diep in die sak te steek wat betref die befondsing van plooibare veeltaligheid by universiteite. Tot dusver het die regering voete gesleep wat betref die befondsing of subsidiëring van hierdie komponent van die universiteitswese. ‘n Oop hand ten opsigte van subsidiëring sal hierdie kritieke situasie in die hoëronderwys wat baie verder gaan as die Wes-Kaap (Stellenbosch en Elsenburg) kan ontlont. ‘n Beroep word op Minister Nzimande gedoen om in hierdie verband met visie op te tree.
Kommentaar
Op kenmerkende wyse bepleit die Afrikaanse Taalraad eerder veeltaligheid as Afrikaans. Op hierdie manier word die heil van Afrikaans nie ten beste gedien nie.