Persverklaring: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary, naby McGregor in die Weskaap

  • 0

Collage deur Jackie Wernberg

Kom kuier vir die donkies en geniet ’n ligte ete by die koffiewinkel. Daar is ook unieke geskenke en allerlei boeke, alles ten bate van die donkies!

Ons leef in ’n baie stresvolle wêreld. Dit verg moed en moeite om vrede, liefde en vriendelikheid te vind – maar dit bestaan wel. Eseltjiesrus Donkey Sanctuary naby McGregor in die Wes-Kaap, slegs twee uur se ry vanaf die bedrywige Kaapstadse metro, is een so ’n veilige hawe.

Die eerste donkies

In 2000 het Johan en Annemarie van Zijl  in McGregor afgetree om “op die stoep te sit en koffie te drink terwyl hulle blokkiesraaisels oplos”. Annemarie se perd in hul groot McGregor tuin is gou deur die plaaslike DBV opgemerk. Hulle het haar genader om skuiling aan twee werkende donkies te bied. Die tweetjies is by ’n plaaslike baksteenfabriek ingespan waar hulle, geblinddoek, eindeloos in sirkels in die brandende son geloop het terwyl hulle ’n spaan gedraai het om klei en strooi te meng wat dan in bakstene gevorm is om in die son te droog.

 Johan en Annemarie het gedink dat perde en donkies nie veel anders van mekaar kan wees nie en was te vinde daarvoor. Die twee verslete wesens het by die Van Zijls ingetrek.  Hulle is Vaal en Japie genoem – “vaaljapie” is die omgangsnaam vir goedkoop witwyn, en ook die handelsmerk van die legendariese grys trekker – ’n gepaste ooreenkoms vir die werkende paar.

Donkies is nie klein perdjies nie

Baie gou het hulle nuwe eienaars geleer dat donkies nie klein perdjies met lang ore is nie! Afgesien van ’n hele paar fisiologiese verskille, maak hul nederigheid ’n diep en blywende indruk op almal wat hulle leer ken. Donkies is dankbaar en aanvaar alles wat die lewe bring, sonder om te kla.

Plaaslike inwoners het die twee nuwe langoor-inwoners in die dorp opgemerk en vriende en familie gebring om hulle te ontmoet. “My kleinkind het nog nooit aan ’n donkie geraak nie” was ’n algemene rede vir interaksie. Daarbenewens het besoekers aan McGregor begin om donkies in nood aan te meld, met hartlike pleidooie “doen asseblief iets om hulle te red”.

Ontwikkeling

Geleidelik het die konsep van ’n rusoord vir werkende en bejaarde donkies vorm aangeneem. Navorsing is gedoen, veral oor befondsing, en na jare se beplanning is grond gehuur, die naam “Eseltjiesrus” is geskep en as ’n liefdadigheidsorganisasie geregistreer. Kort daarna het die eerste behoeftige donkies aangekom.

Die leerkurwe was steil. Voerroetines, hoewe skoonmaak en daaglikse versorging is aanvanklik alles deur die van Zijls uitgevoer. Geleidelik is plaaslike dorpsbewoners opgelei om met noodsaaklike take te help – ’n bonus in hierdie landbougebied waar werk baie seisoenaal is.

Intensiewe fondsinsameling het ’n gesonde finansiële basis geskep en na vyf jaar kon Eseltjiesrus reeds “Ons eie tuiste” vir hul inwonende donkies koop, met die ondersteuning van ’n verband.

Huidige status

’n Totaal van 55 donkies het reeds die poorte van hierdie veilige hawe binnegevaar en 25 is oor die jare sagkens ter ruste gelê. Daarbenewens word ’n paar in goedgekeurde pleeghuise versorg om te verseker dat daar altyd plek sal wees by Eseltjiesrus vir “donkies op krukke”.

Welsynsnavrae word opgevolg en leiding oor beste praktyke word vrylik gegee aan eienaars wat hul donkies die hoogste moontlike vlak van sorg wil gee.

Professionele aandag

In ’n baanbrekersontwikkeling is Eseltjiesrus genooi om lesings aan te bied aan die studente van die bekende Onderstepoort Veeartsenykundige Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria. Donkies kry min aandag in die kurrikulum en hierdie lesings gee vir voornemende veeartse kennis oor die uitdagings wat bestaan. In diep landelike gebiede maak baie gemeenskappe steeds staat op hul werkende donkies vir bestaansboerdery en vervoer.

Elke donkie het sy eie unieke karakter en storie

Alphonse was baie intuïtief en het gou besoekers met emosionele probleme ïdentifiseer. Alice het ’n borrelende en liefdevolle persoonlikheid en geniet drukkies, veral van bejaarde besoekers. Spokie was so maer dat die veearts wat haar die eerste keer gesien het, geskerts het dat hy haar na Eseltjiesrus sou faks, en die liewe Sonop het sy lot in sy eie hoewe geneem en seker gemaak dat hy al die reëls nakom om ’n moeilike reis na Eseltjierus te voltooi.

Elkeen word as ’n individu versorg en behandel om ’n stresvrye aftrede te verseker en, wanneer die tyd aanbreek, ’n waardige heengaan, omring deur sy vriende en mense wat omgee.

Ons gee om

Die leuse van Eseltjiesrus is “Ons gee om” – vir alle lewende wesens en die omgewing. Besoeke deur skole word aangemoedig, met gepaste aktiwiteite en natuurlik leer oor die gevoelens van donkies en alle wesens.

Ná ’n besoek deur ’n groep kinders uit ’n erg disfunksionele gemeenskap, het hulle maatskaplike werker geskryf: “Baie dankie vir ’n onvergeetlike oggend! Dit was so spesiaal om sulke skoonheid te aanskou – die skoonheid en rustigheid van julle plaas, julle personeel en die donkies. Om in ’n omgewing van liefde en veiligheid te wees, is iets wat hierdie kinders selde ervaar. Hul lewens is gevul met vrese – hoe anders as jy in ’n gemeenskap woon wat gekenmerk word deur byna al die sosiale euwels van hierdie wêreld.”

Beskermheer

Sedert Eseltjiesrus se ontstaan ​​is David Kramer betrokke as Beskermheer. David het ’n merkwaardige video saamgestel en opgeneem wat die visie en werk van Eseltjiesrus uiteensit. Tik “Donkiehemel” op YouTube in of volg die skakel.

Aannemingsprogram

Die toevlugsoord se bedryfskoste is hoog om slegs die beste vir elke dier en elke besoeker te verseker. Die aannemingsprogram dek ’n deel van die koste van die versorging van ’n donkie wat steeds by Eseltjiesrus bly. Die stelsel verseker dat ondersteuners ’n noue en betekenisvolle verhouding met ’n spesifieke donkie opbou, deur middel van gereelde verslae en nuusbriewe.

Ondersteuning

Jaareinde is om die draai  en dit is tyd vir geskenke. ’n Donkieaanneming is ’n unieke en blywende geskenk, veral vir geliefdes ver weg. Dit gee ’n “anker” in die Suid-Afrikaanse platteland, en onderstreep die deernis vir hierdie dikwels vergete spesie. Die ontvanger van ’n aanneming kry ’n persoonlike sertifikaat, foto en geskiedenis van die donkie en ses-maandelikse verslae, sowel as ’n kwartaallikse nuusbrief. En natuurlik word besoeke aan die donkie altyd verwelkom.

Daar is geen voorgeskrewe bedrag om ’n aanneming te verseker nie, en Artikel 18A-belastingsertifikate word uitgereik. Kontak: Adopt@donkeysanctuary.co.za

Besoeke

Eseltjiesrus is oop vir die publiek van Donderdae tot Sondae van 10vm tot 4nm. Toegang is gratis maar donasies word waardeer. Groepe is welkom volgens afspraak. Benewens die ontmoeting met die donkies onder toesig van opgeleide gidse, kan besoekers ’n koffiewinkel, ’n donkie-tema winkel, boekverkope, en ʼn rustige wandelpad verken. Kontak: Info@donkeysanctuary.co.za

Eseltjiesrus het ontwikkel om veel meer as net die liefde en sorg vir donkies te verseker. Dit is ’n baken van hoop – wat deernis, sagmoedigheid en omgee versinnebeeld.  Dit is ’n veilige hawe, ’n plek van genesing vir die gebrokenes, beide donkies en mense.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top