Persverklaring: Erfenisstigting en Akademia ontsluit saam kennisskatkis

  • 0

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, en Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, klink ’n glasie op die samewerkingsooreenkoms. (Foto: Niël Langner)

In ’n historiese stap wat die behoud, beskikbaarheid en benutting van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse bronne na ’n nuwe vlak neem, het die Erfenisstigting (ES) en Akademia ’n vennootskap gesluit wat ’n wêreld van kennis vir die volgende geslag oopbreek.

Ingevolge dié samewerkingsooreenkoms verkry die ES, ’n sleutelbewaarder van die Afrikaner se historiese en kultuurgeheue, toegang tot Akademia, die toonaangewende Afrikaanse universiteit met kampusse in Pretoria en die Paarl, se moderne elektroniese databasisstelsel - asook advies en ondersteuning. Akademia se studente en navorsers kry op hul beurt toegang tot die ES se indrukwekkende Afrikanernavorsingsbiblioteek en unieke argief, waar oorspronklike bronne – sommige meer as ’n eeu oud – vir navorsing beskikbaar is.

Die ES se biblioteek beskik oor meer as 30 000 boeke met bykomende pamflette, tydskrifte en koerante. Die ES huisves ook 98 argivale versamelings in die argief wat bestaan uit dokumentasie, briewe, foto’s, plakkate, poskaarte en oudiovisuele rekords.

“Hierdie is ’n plek boordensvol stories, waar oneindige historiese en kultuurskatte bewaar word,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste. “Ons is baie opgewonde om dit vir Akademia se studente oop te stel.

“Dit is verblydend dat hierdie nie net ’n erfenis bly nie, maar deel word van ’n lewende akademiese en navorsingsgemeenskap en natuurlik deel van ’n groter, nuwe bouverhaal. Vir die ES gaan dit nie net oor die verlede nie – Akademia bou ’n nuwe toekoms vir die Afrikaanse universiteitswese en ons gaan deel wees daarvan,” sê hy.

Tradisie en tegnologie ontmoet

Deel van die ooreenkoms is die byvoeging van die ES se biblioteekrekords tot Akademia se moderne Koha-biblioteekstelsel. Dit beteken dat daar wedersydse toegang tot boeke, bronne en rekords is – ’n integrasie wat navorsing aansienlik sal vergemaklik en uitbrei. Akademia se studente sal voortaan vanaf hul eie digitale platform kan sien watter bronne by die ES beskikbaar is, en die ES se katalogus sal op sy beurt ook op Akademia se webtuiste beskikbaar wees.

“Ek is baie beïndruk met die ongelooflike werk wat die ES doen,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, “en ek is bly dat Akademia op ’n plek is waar ons ’n bydrae kan lewer en die kapasiteit het om te kan help, hetsy dit met stelsels of ander hulpbronne is.

“In die toekoms sien ek ’n naatlose integrasie van Akademia met die ES se hulpbronne, om hierdie geskiedenis vir die volgende geslag tot lewe te bring. Dit is ’n ongelooflike kennisskat vir studente en navorsers.”

Bewaring van intellektuele erfenis

Die ES se Afrikanernavorsingsbiblioteek is ’n unieke bewaarplek van boeke, dokumente en versamelings wat oor dekades heen opgebou is. Die fokus lê veral op Suid-Afrikaanse geskiedenis met klem op die Afrikaner se letterkunde, kerk-, kultuur- en plekgeskiedenis. Oor die jare het hierdie biblioteek ’n tuiste geword vir navorsers en skrywers wat die diepte van die Afrikaanse kultuurerfenis kan ontdek.

Die samewerkingsooreenkoms beteken dat Akademia se nuwe akademiese programme – veral in geskiedenis en verwante studierigtings – nou regstreeks by hierdie unieke hulpbronne kan baat vind. Vir studente en dosente ontsluit dit ’n ryk, geïntegreerde navorsingsomgewing waar teorie en oorspronklike materiaal mekaar aanvul.

Langner voeg by: "Ons hoop is dat nie net die politieke, taal- en geskiedenisstudente nie, maar elke student, hier iets sal ontdek wat van waarde is, wat deel van sy of haar storie is, en dit dan deel van dié jongmens se lewensverhaal en identiteit word."

"Hierdie is meer as navorsing én meer as akademie. Dit is iets wat harte raak en jongmense kan vorm, en dit is vir ons belangrik dat die ES deel word van die nuwe geslag en dat hulle in die toekoms eienaarskap hiervan sal neem."

Samewerking met wyer impak

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se Noord-Gauteng-tak se biblioteekversameling, wat reeds by die ES gehuisves word, sal ook in die nuwe Koha-stelsel ingesluit word. Hierdie bydrae versterk die genealogiese en familiegeskiedenisdimensie van die gesamentlike biblioteek aansienlik.

Vir beide die ES en Akademia is hierdie vennootskap nie bloot ’n tegniese samewerking nie, maar ’n simboliese een: dit bevestig dat die bewaring van die verlede die fondament bly waarop die toekoms gebou word, sê Lizette Jansen, bestuurder van die ES.

“Met hierdie historiese handevat tussen die ES en Akademia word nie net boeke en bronne gedeel nie, maar word kennis, identiteit en hoop versprei, in diens van die navorser, die student en die Afrikaanse gemeenskap as geheel,” sê sy.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top