Persverklaring: Die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun nuwe vertalings na Arabies, Duits en Bulgaars

  • 0

PEN Afrikaans kondig met trots aan dat die PEN Afrikaans Vertaalfonds drie vertaalprojekte sal ondersteun wat die Afrikaanse letterkunde na nuwe internasionale lesers sal neem. Ná oorweging van die aansoeke wat teen die vorige sperdatum ontvang is, is besluit dat die volgende vertalings ondersteun sal word (alfabeties gelys volgens die skrywer se van):

  • ’n Arabiese vertaling van Moerbeibos deur Dalene Matthee (Mahrousa Publishing)
  • ’n Duitse vertaling van ’n keur uit Charl-Pierre Naudé se poësie (Edition Rugerup)
  • ’n Bulgaarse vertaling van Moordvis deur Irna van Zyl (Aviana)

Mahrousa Publishing, wat in 1986 gestig is en ongeveer 30 vertaalde titels per jaar uitgee,  sal die Arabiese vertaling van Dalene Matthee se geliefde roman Moerbeibos na verwagting in November 2026 uitgee. Die vertaler is Karim Kilani, wat voorheen vir Mahrousa Publishing Kringe in ’n bos in Arabies vertaal het. 

Moerbeibos het oorspronklik in 1987 verskyn. Dit het in 1988 die ATKV-prosaprys ontvang en is in Engels, Nederlands, Duits en Sweeds vertaal. Dit is ’n roman wat ná veertig jaar steeds relevant is, maar ook besonder geliefd, skryf Stefan van Zyl: “Matthee se vermoë om op ’n empatiese wyse die uiteenlopende en komplekse verhale van doodgewone mense in toeganklike, dog beeldryke, Afrikaans te kon vertel, dra grotendeels by tot die voortgesette gewildheid van hierdie bosroman.”  

Edition Rugerup het suksesvol aansoek gedoen vir ’n vertaalsubsidie vir ’n Duitse vertaling uit Charl-Pierre Naudé, bekroonde digter en romansier, se digkuns. Naudé het die Ingrid Jonkerprys in 1997 vir sy debuutbundel ontvang en die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie in 2005. Naudé se digkuns geniet reeds internasionaal erkenning via inisiatiewe soos Poetry International. Hierdie vertaling sal verder bydra tot die internasionale aansien van die Afrikaanse poësie en spesifiek die sigbaarheid daarvan binne die Duitssprekende literêre wêreld. Die beoogde publikasiedatum van die Duitse vertaling is in Maart 2026 en die vertaler is Sylvia Geist. Edition Rugerup, wat ’n sterk fokus op poësie het, is bekend vir die top internasionale digters en skrywers op hul publikasielys.

Die gewilde spanningsroman Moordvis, debuutroman van die ervare redakteur, joernalis en media-entrepreneur Irna van Zyl, sal na verwagting in September 2026 in Bulgaarse vertaling by Aviana Publishing verskyn. “’n Spannende leeservaring en verwikkelde storielyn. Applous vir Irna Van Zyl vir haar eerste roman,” skryf Caitlin Walsh in haar resensie.   Die vertaler is Krasimira Kirova, wat voorheen vir Karolina Ferreira deur Ingrid Winterbach se Bulgaarse vertaling verantwoordelik was.     

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se mandaat is om internasionale blootstelling vir Afrikaanse literatuur te bevorder deur vertalings te ondersteun. Soos met vorige vertalings wat deur die Vertaalfonds gefinansier is, dek die vertaalprojekte verskillende genres en tale en stel dit die veelsydigheid en seggingskrag van Afrikaanse skryfwerk ten toon.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds word moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis.    

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top