Persverklaring: Die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun nog vyf vertalings van Afrikaanse werke

  • 0

PEN Afrikaans maak graag bekend dat, na afloop van die aansoeke wat in November 2024 ontvang is, die PEN Afrikaans Vertaalfonds vyf vertalings van Afrikaanse werke ondersteun.

Die volgende is ter sprake:

  • ’n Nederlandse vertaling van Wieg deur Joan Kruger (Uitgeverij Noordboek)
  • ’n Franse vertaling van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith (Actes Sud)
  • ’n Bulgaarse vertaling van Karolina Ferreira deur Ingrid Winterbach (Aviana)
  • ’n Spaanse vertaling van ’n keur uit Pieter Odendaal se gedigte (Lustra Editores)
  • ’n Albanese vertaling van Skuldig deur Martin Steyn (Ombra GVG)

Uitgeverij Noordboek sal ’n Nederlandse vertaling van Wieg deur Joan Kruger publiseer. Die werk het oorspronklik in 2022 by Litera Publikasies verskyn en handel oor die lewe van Maria du Plessis, née Marie Buisset (1679 – 1751). “Wieg is die werk van ’n meesterlike navorser en woordsmid,” skryf prof. Lizette Rabe in haar bespreking van dié roman. Te danke aan Uitgeverij Noordboek en Rob van der Veer, die bekende vertaler met rondom vyftig jaar ondervinding, sal dit vanjaar in Nederlandse vertaling verskyn. Dit is vir PEN Afrikaans verblydend dat ’n boek wat by ’n kleiner plaaslike uitgewery verskyn het, vertaal word. Hierdeur word die belangrike en gehaltewerk van kleiner uitgewerye ook bevestig.  

Lesers van Frans kan uitsien daarna om Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith (Tafelberg) in Franse vertaling te lees. Dit sal na verwagting in Januarie 2026 by Actes Sud verskyn in ’n vertaling deur Pierre-Marie Finkelstein. Finkelstein het homself sedert 2003 gevestig as een van die voorste en produktiefste vertalers van Suid-Afrikaanse skrywers in Frans. Hy is al drie keer bekroon vir sy vertaling van verskillende boeke deur Karel Schoeman.

Aviana Uitgewery sal Karolina Ferreira deur Ingrid Winterbach (Human & Rousseau) in Bulgaarse vertaling uitgee. Dié roman het oorspronklik in 1993 onder die skrywersnaam Lettie Viljoen verskyn, en het aan Winterbach die Ou Mutual-letterkundeprys (1994) sowel as die M-Net-prys (1994) besorg. Krasimira Kirova sal dit vertaal, vanuit die Engelse vertaling wat as The Elusive Moth verskyn het. Kirova is ’n gevestigde vertaler van vyftien boeke, waarvan sewe vertalings vanuit Engels gedoen is. Aviana bestaan al elf jaar en gee gereeld werk in vertaling uit. Hulle beoog om hul uitgawe van Karolina Ferreira in Junie 2025 te publiseer en sal sodoende die Bulgaarse leserspubliek toegang bied tot ’n hedendaagse, klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde. 

Lustra Editores sal ’n Spaanse vertaling van ’n keur uit Pieter Odendaal se twee bundels (Asof geen berge ooit hier gewoon het nie en Ontaard – beide Tafelberg) die lig laat sien. Die vertaling sal na verwagting in November 2025 verskyn. Die vertaler is Jorge Alejandro Vargas Prado. Die vertaling sal (in samewerking met die digter) vanuit Afrikaans gedoen word, ook met verwysing na die Engelse vertalings van die gedigte. Odendaal is met die Ingrid Jonkerprys bekroon vir sy digdebuut Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018) en is bekend vir die wyse waarop hy aktuele temas soos queer-identiteitspolitiek, geboortegrond, die klimaatskrisis, verlies en vervreemding in sy werk verken. Hy sal na verwagting betrokke wees by die beoogde bekendstellingsinisiatiewe, in Peru en Argentinië, van die Spaanse vertaling van sy werk.  

Ombra GVG, een van die voorste uitgewes in Albanië, sal ’n Albanese vertaling van Skuldig deur Martin Steyn (LAPA) publiseer. Dit volg ná hul publikasie van Steyn se debuutroman, Donker spoor – een van verskeie vertaalde Afrikaanse titels wat op dié uitgewery se fondslys pryk. Steyn is in 2016 bekroon met die ATKV-Woordveertjie se Prys vir Spanningslektuur vir Skuldig. Die vertaler is Sidita Dano, ’n akademikus en ervare vertaler, en die beoogde publikasiedatum is September 2025.

PEN Afrikaans is verheug oor die sterk aansoeke en die vooruitsig daarvan dat ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke lesers buite ons landsgrense in hul eie taal gaan bereik en verryk.

Ons bedank die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen.  

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top