Persverklaring: Die jaarlikse ATKV-Digskool

  • 0

Die Louwhuis en Museum Sutherland bied weer die jaarlikse  ATKV-Digskool op Vrydag 27 tot Sondag 29 Maart 2026 in die nuut gerestoureerde Louwhuis aan. Soos met die vorige digskole beloof dit om weer ’n besondere Roggeveldse ervaring te wees.

Die 2025 ATKV Digskool wat deur 24 digters bygewoon is.

Die gesprekleiers gaan professor Bernard Odendaal, gerekende letterkundige, digter en poësievertaler, en die herhaaldelik bekroonde digter Lynthia Julius wees. Praatjies, gesprekke en replieke van hoogstaande gehalte kan dus verwag word. 

Elke kursusganger moet vooraf twee gedigte indien waarop na afloop van die digskool  terugvoering verskaf sal word. Digters wat reeds gepubliseer het, asook digters wat hulle gedigte in die laai wegsteek, is welkom. Daar gaan gedig word dat die sterre spat!

Die naghemel van die Roggeveld

Vanjaar, soos in 2025, gaan gaste almal tuis in die luukse, privaat natuurreservaat, Rogge Cloof, waar jy as ’t ware aan die sterre raak. Dit is volgens seismograwe moontlik die stilste plek op aarde omdat daar geen seismologiese aktiwiteite gemeet kan word nie. Die reservaat is 18 000 ha groot met sowat 2500 stuk kleinwild, vier jagluiperds en bied tipiese wye Roggeveldse tonele met Salpeterkop (1766 m bo seevlak)   altyd op die horison – die laaste aktiewe vulkaan in Suider-Afrika. Dit is ook die tuiste van die hoogste wingerd in Suid-Afrika en ’n wynproe kan gereël word. Alle etes word deur die Rogge Cloof restourant verskaf en word in die deftige Rittersaal bedien. Op die Saterdagaand is daar ’n begeleide besoek aan die teleskope op die plaas.

Die Rittersaal van Rogge Cloof waar etes bedien word

Benewens leidingname in die aanbied van die digskool sal Bernard Odendaal en Lynthia Julius ’n openbare gesprek voer oor haar digterskap, asook oor die betekenis wat digkunsbeoefening in haar lewe het. Dié gesprek word beplan vir vroeg die Vrydagmiddag, dit wil sê vir voordat die digskool om 17:00 daardie middag (27 Maart) afskop. Naas belangstellende digskoolgangers, word ook senior leerders, leeskringlede en ander geïnteresseerdes uit Sutherland en die omringende streek genooi om daarna te kom luister.

Die Saterdagmiddag, ná afloop van die digskool om 13:00, sal die historiese NG Kerk besoek word vir ’n kort orreluitvoering op die manjifieke Schlagg-orrel. Daarna word versit na Rogge Cloof om die inwyding van die nuut ontwikkelde staproete op dié wild- en gasteplaas in te wy. Die digtersroete. Aangesien Gunsfontein, die plaas waarop die digterbroers NP van Wyk Louw en WEG Louw as kinders naweke en vakansies by hulle grootouers deurgebring het, direk langs Rogge Cloof geleë is, is besluit om grepe uit Van Wyk Louw se welbekende volksgedigtereeks “Klipwerk” op metaalplaatjies teen rotse langs dié staproete aan te bring. Die gekose gediggrepe sal in sowel die oorspronklike Afrikaans as in Engelse en Duitse vertalings te lese wees.

Robert Schall, wat die vertalings in Duits waargeneem het, sal ook die staproete-inwydingsgeleentheid bywoon. Ná afloop daarvan, terug by die ontvangskompleks op Rogge Cloof, sal Bernard Odendaal ʼn gesprek met Robert Schall voer oor die waarde van, én die uitdagings rondom, digkunsvertaling. Robert Schall het oor die afgelope dekades agting en bekendheid verwerf as poësievertaler oor en weer tussen Duits en Afrikaans. Dié twee gesprekvoerders het in 2025, as bydrae tot die feesvierings rondom Afrikaans se 100 jaar oue status as amptelike landstaal, tesame die taak onderneem om 100 van die bes geagte twintigste-eeuse Duitse gedigte in Afrikaans te vertaal. Hulle sal dus die gesprek afsluit met verwysing na dié projek, gepaardgaande met voorlesings van enkele van die gedigte wat deel daarvan uitgemaak het en op die digkunswebwerf Versindaba gepubliseer is.

Op Sondagoggend word Gunsfontein besoek. Dit is altyd gewyde oomblikke om by die ou peerboom te staan waarop NP van Wyk Louw sy naam uitgekerf het en om op die ou werf, met die ou opstal, te dwaal waar hulle as kinders gespeel het. Een van die bes bewaarde korbeelhuise staan ook daar by die plaasdam.

Die nuut gerestoureerde Louwhuis

Die Louwhuis en Museum Sutherland beloof om aan die besoekende digters die geleentheid te bied om hulle digwerk te verfyn, maar bied ook die ruimte vir ’n volle inspirerende Roggeveldse ervaring. Dit gaan sterre, veld, berge, geskiedenis, digterspore en musiek wees. En die uitnemendste, om in die sfeer van die Louw-broers se geboortehuis met gedigte, gedagtes en woorde om te gaan.

Kontak Gerard Scholtz by 0833888209 of by admin@louwhuis.co.za vir volledige program en prys.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top