Persverklaring: Breytenbach Kultuursentrum se Skryfskool 2019

  • 0

Van die eerste roman wat in ons Skryfskool ontwikkel is, Die daggaboer, sê resensent Jean Meiring in Rapport dit “is ’n opwindende, soms onpeilbare nuwe simbaalgeskal in die Afrikaanse letterkunde”.  Die skrywer van dié debuut, Jean-Pierre de Kock, het voor die Breytenbach Skryfskool ’n paar ander bygewoon. Hy sê vir Huisgenoot, “Die een onder leiding van die skrywer Rachelle Greeff was vir my van groot waarde.”  Sy roman het in 2018 by Human&Rousseau verskyn. 

 Die 5de Skryfskool van die Breytenbach Kultuursentrum begin op 2 Februarie 2019.  Dit duur tien maande. (Tot einde November 2019). Die fasiliteerder en mentor is Rachelle Greeff en die kursus word aangebied met die ondersteuning van die Jannie Mouton Stigting.

Die kursus fokus primêr op die skryf van kortverhale en romans. Hoogstens twee toneeltekste word oorweeg. Die kursus kan ook aanlyn gedoen word, teen dieselfde koste van R1 500 per persoon per maand.  

Help ’n skryfskool?

As jy bereid is om gedissiplineerd te skryf en te herskryf, ja. Hiervan getuig die talle studente wat gedebuteer het sedert hul bywoning van die Skryfskool. Die debuutwerk van nog ’n eksstudent (en Swartlandse boervrou) Lize Albertyn-du Toit verskyn in 2019. Soos Die daggaboer ook by H&R.   

Voormalige studente is in al drie die Woordfees-kortverhaalbundels tot nou opgeneem: Bly (2016), Wys (2017) en 100% (2018). Werk van ons skrywers is ook aanvaar vir Die Burger se “Van Alle Kante”-rubriek en die Saterdagbylae, BY, Die Taalgenoot, Huisgenoot, Sarie, Rooi Rose, Vrouekeur,  Kuier, SABC Opvoedkundige Radio en RSG-kinderstories. Gewese student Alma Nel skryf bekroonde toneeltekste, Theltom Masemila, ook voormalige student, is ’n mededraaiboekskrywer vir Sewende Laan en Suidooster, en die skrywerstudent Francois Verster was verlede jaar ’n finalis vir die kykNET-Rapport Boekprys (nie-fiksie).  Elisha Zeeman was met “Die Mystic en die vlieg” PEN Afrikaans se gekose New Voices-skrywer. Sy het dié storie tydens ’n groepsessie begin.

Wat sê van die oud-studente?

“Ek was in die 2018-skool.  Dit het my kritiese vermoëns in die algemeen opgeskerp,  maar ek het ook dinge in my eie werk raakgesien wat ek vantevore sou gemis het. Belangrikste – dit het my die waarde van detail geleer.  En van aanhou probeer en probeer en probeer.” Irna van Zyl.

“Die tekswerk is goud werd. Dit het my ’n groot hupstoot gegee oor wat gebreke is en wat goeie punte.” Willem Krog

“Gassprekers wat mens deurlopend aanspoor en gerusstel maak die skrywerswêreld menslik en toeganklik.” Lize Albertyn-du Toit.

“Rachelle betrek elke student by besprekings, en prikkel jou deurentyd om kreatief én krities te dink.” Lizette Murray.

“Die tegnieke en praktiese pas van die klas (by die Breytenbach Sentrum én deur middel van internet-afstandsonderrig) gee aan studente die motivering, inspirasie en instrumente tot gehalte-skryfwerk.” René Lötter.

“Daar is boeke oor die skryfkuns, maar dié is van algemene belang. ’n Jong skrywer het spesifieke hulp nodig.” Brian Fredericks.

“Die klasse is interessant, gemaklik en ek sien uit daarna.” Francois Verster.

Hoe werk dit?

Die studente en mentor ontmoet een Saterdag elke maand by die Breytenbach Sentrum op Wellington.

  1. Plaaslike en internasionale fiksie-tekste word in die groep bespreek om studente se kritiese vermoëns te ontwikkel. Soms word ’n film, wat uit ’n kortverhaal in ’n draaiboek ontwikkel is, saam gekyk. Almal kry afskrifte van die betrokke kortverhaal om vooraf te lees.
  2. Die mentor bring onderhoude met skrywers, en artikels deur skrywers, na die klas.
  3. Onvoorbereide skryf- en vertaaloefeninge word in die klas gedoen. Die eindresultaat word tydens groepsessies, wat vertroulik en professioneel is, bespreek.
  4. Kreatiewe denke word geprikkel en ontwikkel, ook met praktiese klasoefeninge. Totdat studente verdiep in ’n eie manuskrip is, word sulke opdragte by die huis voltooi en na die mentor gestuur.
  5. Studente word entoesiasties aangemoedig om soveel as moontlik te lees. (Enigiets van die Pronutro-boks tot die jongste Pulitzer-wenner.)
  6. Uitgewers kom kuier. Studente geniet en waardeer dié persoonlike kontak. In aansluiting hiermee word studente touwys gemaak in die afronding van ’n manuskrip vir voorlegging en meer oor die uitgewersbedryf vertel.
  7. Veteraanskrywers so uiteenlopend soos onder andere Ingrid Winterbach, Karin Brynard, Francois Bloemhof en Wilna Adriaanse word deurlopend by die kursus betrek. Hulle gesels oor hul werkwyse en studente het die geleentheid om hulle met vrae te peper.

Is dit al?

Nee, want die belangrikste werk van die skryfkursus vind tussen die maandelikse groepsessies plaas.

Nou skryf die student by die huis, en is in e-posverbinding met die mentor. Die mentor gee haar oorkoepelende mening, en gebruik die rekenaarfunksie van spoorveranderinge (“track-changes”) om woord vir woord in die ontwikkelende teks te help soos en waar nodig. Haar werkwyse berus op aansporing en eerlike kritiek – met deernis, en dikwels humor.

Kalender

Die eerste groepsessie is op Saterdag 2 Februarie van 9 vm tot 4 nm. Eet- en drinkgoed, middagete en studiemateriaal word by die prys ingesluit.  Groepsessies vind gewoonlik die eerste Saterdag van die maand plaas (buiten as dit ’n vakansiedag of langnaweek is), maar is onderhandelbaar na gelang van uitsonderlike situasies.

Hoe doen ek aansoek?

Skriftelik by Jessica Ruiters by info@breytenbachsentrum.co.za

E-pos navrae of bel (021) 873 2786.

Wat moet in my aansoek staan?

  1. Naam en kontakbesonderhede.
  2. Kort motivering (maksimum 100 woorde) oor hoekom jy die kursus wil doen.
  3. Mini-biografie (maksimum 200 woorde).
  4. Titels van die laaste 10 boeke (ongeag genre) gelees.
  5. ’n Ongepubliseerde of gepubliseerde fiksie-skryfstuk, of ’n uittreksel. Poësie uitgesluit. (Ongeveer 200 tot 500 woorde.)

Belangrike datums

23 Desember 2018        Aansoeke sluit.

27 Desember 2018        Suksesvolle kandidate benoem.

Laat aansoeke sal, indien gemotiveerd, oorweeg word.

Onsuksesvolle aansoekers kry ook kennis, sonder verdere korrespondensie.

Wat kos dit?

Die kursusfooi van R1 500 per persoon per maand is aan die Breytenbachsentrum betaalbaar. Betalingsbewys word gestuur aan Jessica by info@breytenbachsentrum.co.za

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top