
Doen jou MA in Afrikaanse letterkunde in 2023 by die afdeling vir Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad!
Daar is een beurs van R155 000 per jaar vir twee jaar beskikbaar, met addisionele fondse beskikbaar vir kongresbywoning en teksredigering. Slegs voltydse studente kom in aanmerking.
Die student se navorsing moet by een van die volgende onderwerpe aansluit:
- Die uitbeelding van manlikheid, liggaamlikheid, ouerskap of geskiedenis in die werk van een of meer van die volgende digters: Ashwin Arendse, Diana Ferrus, Veronique Jephtas, Lyntjia Julius, Ronelda S Kamfer, Ryan Pedro, Jolyn Phillips en Nathan Trantraal.
- Die hedendaagse plaasromans van Audrey Jantjies, Ronelda S Kamfer en Engela Ovies, en hoe hierdie romans aansluit by of afwyk van die plaasromantradisie.
- Maatskaplike kommentaar in misdaadromans wat beskryf kan word as huishoudelike noir (domestic noir); dit wil sê misdaadromans wat veral gaan oor die kerngesin en in huishoudelike ruimtes afspeel.
Om aansoek te doen stuur jou akademiese rekord en ’n motiveringsbrief van maksimum twee bladsye voor 31 Januarie 2023 aan bibi.burger@uct.ac.za. In die brief moet jy motiveer waarom jy die beurs benodig en hoe jou beplande navorsing by die bogenoemde fokusareas aansluit. Die beurs sal toegeken word op grond van die volgende kriteria: akademiese verdienstelikheid, finansiële nood en gepastheid van die navorsingsonderwerp. Navrae kan gerig word aan bibi.burger@uct.ac.za.

