
Akademia en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op Woensdag 16 Oktober 2024 tydens ’n geleentheid in Centurion die nuus bekendgemaak dat dié twee instellings voortaan in ’n dinamiese samewerkingsooreenkoms met mekaar sal tree ten einde die hoëordefunksies van Afrikaans te bevorder.
Luidens die ooreenkoms sal VivA as onafhanklike kontrakteur by die nuutgestigte Taalsentrum van Akademia aansluit ter ondersteuning van verskeie projekte en aktiwiteite. Laasgenoemde sluit onder meer in die bevordering van navorsing in Afrikaans, betrokkenheid by programontwikkeling, internskapgeleenthede en taalpraktykgerigte kortkursusse. Die aanbied van nasionale en internasionale konferensies word ook in die vooruitsig gestel namate die ooreenkoms verder ontwikkel.
Volgens Alé Steyn, die departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe en Taalsentrum-koördineerder by Akademia, sal die vennootskap geleenthede vir albei partye skep om Afrikaans op verskeie wyses te bevorder. Sy verduidelik voorts dat die ooreenkoms ook direk spreek tot die instelling se bestaansrede as ’n Afrikaanse hoëronderwysinstelling – nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook op die internasionale verhoog.
Volgens Marlie Coetzee, die uitvoerende direkteur van VivA, is die bevordering van Afrikaans, op welke terrein, nie ’n taak wat alleen aangepak kan word nie en daarom werk VivA graag mee met ander organisasies wat hulle beywer vir die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans.
“Die belange van Akademia se Taalsentrum belyn baie goed met ons eie, en daarom is dit ’n voorreg om by wyse van hierdie samewerkingsooreenkoms die Afrikaanse taalgemeenskap te mag bedien,” sê Coetzee. “VivA is opgewonde om nouer met Akademia te kan saamwerk ten einde Afrikaans as akademiese taal en taal van onderrig in hoëronderwysinstellings te kan bevorder.”
Op sy beurt meen Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dat die samewerking met VivA nie net ’n taalviering verteenwoordig nie, maar ook ’n opwindende voortsetting is van Akademia se hoopgewende verbondenheid tot die Afrikaanse universiteitswese. Hy meen dat die aankondiging nóg ’n hoogtepunt op die instelling se jaarkalender is en dat dit onomwonde getuienis lewer van die groei wat Akademia binne die milieu van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe beleef.
Danie Goosen, die uitvoerende hoof: Akademie, is deur Akademia as ’n direkteur op die direksie van VivA aangewys. Volgens Goosen moet die noue samewerking tussen Akademia en VivA as ’n positiewe stap beoordeel word in die verdere uitbouing en versterking van Afrikaans wat betref sy hoogste funksies.
Die Taalsentrum, wat vroeër vanjaar op ’n luisterryke wyse tydens die bekendstelling van die instelling se nuwe BA (Taalstudies)-program in Centurion aangekondig is, het dit ten doel om Afrikaans as akademiese, algemene én vreemde taal uit te bou. Hierbenewens is die sentrum, wat in die Fakulteit Geesteswetenskappe se Departement Tale en Kultuurwetenskappe gesetel is, ook gemoeid met die uitbou van die akademiese taalvaardigheid van Akademia-studente tot op die hoogste vlak. Laasgenoemde rus studente toe om hul studies en beroepe in die werksplek met groot sukses te kan voltooi en beoefen.
VivA is ’n gevestigde navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste. Sy hoofdoelstelling is om die gebruik asook die gehalte van Afrikaans uit te bou deur onder meer die beskrywing en bestudering van die taal in sy volle omvang; die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir geskrewe Afrikaans; sowel as die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste deur middel van tegnologie.

Die Akademia-taalsentrum en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) sal voortaan as Afrikaanse voorlopers in ’n dinamiese samewerkingsvennootskap met mekaar tree. Marthinus Visser (besturende direkteur van Akademia), Danie Goosen (uitvoerende hoof: Akademie by Akademia), Alé Steyn (departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe en Taalsentrum-koördineerder) en Marlie Coetzee (uitvoerende direkteur van VivA) klink ’n glasie tydens die geleentheid.
Meer oor Akademia
Akademia is ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Die instelling streef daarna om ’n akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Studente het ’n keuse tussen nauurse afstandstudie oor ’n landswye netwerk van sentrums of via e-leer, en voltydse studie by twee tussentydse kampusse in Centurion. Die instelling brei eersdaags sy geografiese voetspoor na die Wes-Kaap uit, en het onlangs in samewerking met die eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Kanton, die planne vir ’n omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria bekend gemaak. Klik hier vir meer inligting.
Meer oor VivA
Verskeie stigtersorganisasies dra sedert 2015 by tot die uitbouing van VivA, waaronder die ATKV, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierbenewens beywer verskeie ander organisasies en instellings, waarvan Akademia een is, hul vir die voortgesette aktiwiteite en gepaardgaande ontwikkelingswerk van die instituut. Hierdie vennote sluit onder meer in die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Onderwysnetwerk, die Meertens Instituut en Zuid-Afrikahuis (albei in Nederland), die universiteite van Gent en KU Leuven (albei in België), RSG, die Taalkommissie, Afrikaans.com, die MOS-inisiatief, die WOW Spelfees en ander plaaslike openbare universiteite. Klik hier vir meer inligting.

