Persverklaring: Akademia se tweede honneursprogram in 2025 aangebied

  • 0

Die Departement Tale en Kultuurwetenskappe, soos gesetel in die Fakulteit Geesteswetenskappe, groei van krag tot krag. Dié departement het op Maandag 2 September 2024 die nuus bekendgemaak dat hy vanaf 2025 die instelling se tweede honneursprogram sal aanbied. Die BA Hons (Media en Kommunikasie) sal in Afrikaans via die voltydse kampusmodel by die instelling se Centurion-kampusse aangebied word. 

Volgens Alé Steyn, departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia en die programkoördineerder van die nuwe program, verteenwoordig die toevoeging van hierdie nagraadse program – ’n eerste vir die fakulteit én die departement – ’n spesiale hoogtepunt. Dit is die tweede program wat vanjaar in die departement bekendgestel word, nadat die voorgraadse BA (Taalstudies)-program in April aangekondig is.  

Alé Steyn, departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe, Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia by die bekendstellingsfunksie van die BA Hons (Media en Kommunikasie)-program.

Steyn verduidelik dat dié program studente sal toerus met diepgaande teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritiese vaardighede om as vaardige en aanpasbare media- en kommunikasiepraktisyns ’n kritiese rol in veranderende en uitdagende kontekste te speel. Studente sal voorts die geleentheid hê om te spesialiseer in Strategiese Kommunikasiebestuur óf Joernalistiek. Volgens Steyn sal afgestudeerde studente gevolglik nie net bloot vaardig sal wees nie, maar ook oor die vermoë beskik om gefokus te besin oor die media- en kommunikasiebedryf om só sinvolle en positiewe bydraes in hul gemeenskappe te lewer. 

Dié BA Hons-program val op NKR-vlak 8 en fokus op die ontwikkeling van vaardighede wat studente sal nodig hê om in die snelveranderende postdigitale era te funksioneer. Hierdie vaardighede sluit onder meer in digitale en datageletterdheid, die vermoë om doeltreffend te kommunikeer, multidissiplinêre samewerking, kritiese en sosio-emosionele vaardighede, asook die vermoë om komplekse inligting te verwerk en ’n hoë kognitiewe werklading te bestuur. Die tipiese beroepe wat gevolg kan word ná die voltooiing van die program sluit in: joernalistiek, mediabestuur, sosiale media, openbare skakeling, die advertensiewese, kommunikasiebestuur, die uitgewerswese, opvoedkunde, digitale media, navorsing én die openbare sektor. 

“Gehalte opleiding vir media- en kommunikasiepraktisyns is nie ’n luukse nie, dit is ’n noodsaaklikheid,” meen Steyn. Sy verduidelik dat as spesialiste diesulke praktisyns sentraal staan tot ’n gesonde demokrasie en samelewing. “Hoewel die basiese vaardighede steeds kernbelangrik is, moet studente ook ander noodsaaklike vaardighede ontwikkel ten einde in hierdie bedryf te kan floreer,” sê Steyn. Sy voeg by dat Akademia daartoe verbind is om goed opgeleide, aanpasbare en besinnende media- en kommunikasiepraktisyns af te lewer. Hierdie graduandi beskik oor goeie oordeel, kan gebeure interpreteer en bevraagteken, skep gehalte inhoud, vind praktiese en volhoubare oplossings vir uitdagings in die bedryf én tree ten alle tye eties en verantwoordbaar op. In kort: goed gevormde praktisyns wat méér is as net die somtotaal van hul kennis en vaardighede. 

Volgens Danie Goosen, waarnemende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, voldoen Akademia met die bekendstelling van dié nuwe honneursprogram aan ’n besondere behoefte onder studente. Hy voeg by dat die toevoeging ook ’n noodsaaklike stap verteenwoordig om uiteindelik die instelling se droom te verwesenlik om nagraadse kwalifikasies soos meesters- en doktorale grade in die fakulteit aan te bied.  

Steyn sluit af deur te sê dat elke nuwe program wat bekendgestel word aan die instelling die geleentheid bied om ’n volgende generasie studente op hul loopbaanreis te begelei en hul groei en impak in die bedryf eerstehands te kan ervaar. “Die departement het nóg baie planne vir die toekoms en werk reeds volstoom aan nóg voorgraadse en nagraadse programme – onder meer ’n meestersgraad wat op die BA Hons (Media en Kommunikasie) sal volg.”  

Indien jy belangstel om jouself verder te bekwaam in die media- en kommunikasiebedryf, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar is reeds oop. Let daarop dat daar slegs ’n beperkte aantal studente tot dié nuwe program toegelaat sal word en die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober 2024. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top