
Akademia se Paarl-kampusfasiliteit is voorwaardelik deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se Hoëronderwys-gehaltekomitee (HOGK) goedgekeur. Caitlyn Edwards (adviseur: Bemarking vir die Wes-Kaap), Lindri Jordaan (Personeel en Ontwikkeling: Paarl) en Tony van der Merwe (bedryfsbestuurder: Paarl-kampus) klink saam ’n glasie op dié goeie nuus. (Foto: verskaf)
Akademia, die Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling, is nóg ’n stap nader aan die waarmaking van sy nuwe voltydse kampus in die Wes-Kaap. Dit volg nadat die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se Hoëronderwys-gehaltekomitee (HOGK) sy voorwaardelike goedkeuring vir die instelling se Paarl-kampusfasiliteit gegee het. Dié kampus is in Bredastraat 1, Esterville geleë.
Wat die inrigting van dié fasiliteit betref, meen Tony van der Merwe, bedryfsbestuurder: Paarl-kampus, dat die vestigingsproses in fases aangepak sal word en dat die nodige bouplanne tans by die Drakenstein-munisipaliteit dien. ’n Tenderproses vir die inrigting van die kampus is suksesvol afgehandel en dit word voorsien dat die finale inrigting teen 1 Oktober 2025 voltooi sal wees.
In nóg ’n verwikkeling sal studente wat by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel studeer en by die Paarl-sentrum ingeskakel is hulself óók op die nuwe kampusperseel vestig.
Die nuwe kampusfasiliteit sal as volg daar uitsien:
- Lesinglokale
- Verskeie saamwerkruimtes
- Twee kafeterias – een binnenshuis en een buite
- ’n Ten volle toegeruste mediasentrum
- ’n Sowel-As-koffiewinkel
- Die Winkel (vir die verskaffing van Akademia-handelsmerkprodukte)
- Toegangsbeheer
- Veilige parkering.
Akademia sal op 15 Oktober hierdie nuwe kampusfasiliteit tydens ’n spogfunksie amptelik aan die media, die publiek en voornemende studente bekendstel.
Só sal die Paarl-kampus verder daarvan uitsien
Die kampus sal in Januarie 2026 ’n aanvang neem met ’n personeelkorps van 47 voltydse personeellede. Die instelling is reeds in die proses om poste vir die Paarl-kampus te vul en daar word beoog om uiteindelik 20 akademiese personeel en 27 afdelingspersoneel vir 2026 op die perseel in diens te hê. Dit word in die vooruitsig gestel om teen 2028 méér as 100 voltydse personeel op die kampus werksaam te hê. Die rol van kampushoof sal deur Gawie du Toit vervul word.
Wat die akademiese programverskeidenheid betref sal daar, soos in die geval van die Pretoria-kampus, programme vanuit al vyf die instelling se dinamiese fakulteite aangebied word.
2025 as ’n hoogtepuntjaar vir Akademia
In reaksie op die voorwaardelike goedkeuring van die Paarl-kampusfasiliteit sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dat 2025 ’n gróót jaar vir die instelling verteenwoordig. “Vanjaar word daar hard gewerk om gestalte aan ons droom én roepingsbesef te gee, naamlik om vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe diensbaar te wees,” verduidelik Visser. Hy voeg by dat die instelling daartoe verbind is om teen 2032 ’n voorkeurstudietuiste vir méér as 2 000 voltydse Fonties in die Wes-Kaap te wees en só die voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese te help verseker.

