Persverklaring: Afskaling van Afrikaans by Universiteit van Kwazulu-Natal

  • 1

PEN Afrikaans neem met groot kommer kennis van die Universiteit van Kwazulu-Natal se voorneme om die doseer van Afrikaans as taal af te skaal tot eerstejaarsvak. Ons is besorg oor die opleiding van onderwysers in Afrikaans, en die uiters nadelige gevolge wat dit in die toekoms sal hê vir Afrikaans in die skole van Kwazulu-Natal.

UKZN maak tot nou toe 'n onvervangbare bydrae tot die opleiding van onderwysers wat Afrikaans in Kwazulu-Natal kan doseer. Die Afrikaans-departement aan UKZN het vanjaar groot groei op eerstejaarsvlak gehad, en die inkorting sal effektief alle groeimoontlikhede in die kiem smoor.

Dit sal katastrofale gevolge vir die toekomstige dosering van Afrikaans in skole in Kwazulu-Natal hê.

Die departement kom oor die weg met ’n minimum personeel en is geen noemenswaardige finansiële las binne die School of Arts aan UKZN nie. Boonop word Afrikaans beskou as Afrika-taal,  en het 'n belangrike rol gespeel in die vestiging van 'n Zoeloe Literêre Museum in Pietermaritzburg. Hierdie ondersteunende rol wat deur die Afrikaans-departement gespeel word, sal noodwendig deur die afskaling vir die universiteit - en Suid-Afrika - verlore gaan.

Die departement het 'n trotse tradisie binne die Afrikaanse letterkunde, met die digter DJ Opperman, die taalkundige Gawie Nienaber, die egpaar Stoffel Nienaber en Miep Luitingh-Nienaber, die stigter van NALN en literatuurgeskiedskrywer PJ Nienaber, die bekende kritici en professore AP Grové en HP van Coller, die Neerlandikus Jacques van der Elst, asook professor Andries Visagie en die skrywers Ingrid Winterbach en Abraham H de Vries wat in die verlede deur dié universiteit gelok is om daar te doseer.

Ons eis ’n verduideliking van prof Malegapuru Makgoba vir die besluit om Afrikaans aan UKZN te marginaliseer in ’n tyd waarin die departement ’n groot en wesentlike bydrae tot dié universiteit en provinsie lewer.

Uitgereik namens PEN Afrikaans

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

  • 1

Kommentaar

  • Kerneels, dit was te wagte.  Hoe anders?  Soos ek hier skryf preek daar 'n pastoor, ene Henry Pike, oor RSG (Durbanville, Die Bron) maar hy praat amper meer Engels as Afrikaans.  Elke aanhaling uit die Bybel is in Engels (het die ou nie 'n Afrikaanse Bybel nie?) en kort-kort, deur die prek heen, gooi hy 'n Engelse frase in.

    Afrikaans het gedy op 'n stadium by bogenoemde universiteit alleenlik omdat daar so-iets soos Afrikaanssprekende mense bestaan het.  Afrikaans taan nou, oral, omdat Afrikaans nie meer Afrikaanssprekendes se erns is nie.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top