Persverklaring: Afrikaanse Taalraad se nxa! nuwe direksie fokus op taaldiversiteit en inklusiwiteit

  • 1

“Die voortbestaan van Afrikaans gaan afhang van hoe daar omgegaan word met die taal en of die diversiteit en tongvalle erken word. Diversiteit is ’n enorme bate. ’n Lewenslyn vir Afrikaans. Ons moet dit gebruik om die ryk kultuurerfenis van Afrikaans te vier en dit van negatiewe assosiasies te bevry.”

Michael Jonas

Só sê Michael Jonas, nuwe voorsitter van die direksie van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Jonas het 21 jaar lank by die subdirektoraat museumdienste van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport gewerk. Sedert Junie 2016 is hy die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument, waar hy onder meer betrokke is by werksessies, strategiese beplanning vir instellings en opvoedkundige projekte. Hy dien ook in verskeie direksies, soos die Historium-trust en die CJ Langenhoven-gedenktrust, asook die NuU-museum in Lübeck, Duitsland.

Jonas glo die Afrikaanse taalgemeenskap het die grootste rassediversiteit van al die inheemse tale. “Ons moet daardie diversiteit vier en ruimtes skep waarin dit kan floreer. Pleks van mense uit te sluit op grond van hoe hulle met die taal omgaan, moet alle variëteite omarm word. ’n Taal het standaarde nodig, maar die uitsluitlike klem op die gestandaardiseerde weergawe lei tot vervreemding.”

Frank Hendricks

Frank Hendricks, nuwe direksielid en tot sy aftrede in 2017 verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland, glo inklusiewe Afrikaans gaan om die erkenning van die taal se diversiteit en dat daar meer as een tongval van Afrikaans is. Al die variëteite is Afrikaans en is organies aan mekaar verbind. “As ’n mens die variëteite sou ignoreer, sny ’n mens die voedingsbronne van die taal af. Beklemtoning van slegs die standaardvariëteit sal die taal laat uitsterf. Erkenning van die menswaardigheid van al die sprekers van die taal is noodsaaklik vir oorlewing en groei.”

Annelise de Vries, ’n taalbeplanner en forensiese linguis en die nuwe ondervoorsitter van die Taalraad, stem hiermee saam. “Mense op voetsoolvlak moet weet die Taalraad fokus nie net op Standaardafrikaans nie. Op ’n makrovlak is dit soms moeiliker om mense te oortuig dat Afrikaans nie ’n bedreiging vir ander inhou nie. Daarmee saam is dit ons doel om die verskillende variëteite, dialekte en streektale in ag te neem en te beklemtoon dat alle variëteite gelykwaardig is.”

Nog ’n nuweling op die direksie, kommissaris Aäron Messelaar, meen Afrikaans word bedreig. Messelaar, wat ’n sterk agtergrond in Griekwa-Afrikaans het, is hoof van administrasie in die Griekwa-koningshuis. Hy glo Afrikaans moet in gemeenskappe bemark word. “Afrikaans moenie net as ’n taal nie, maar ook as ’n kommunikasiemiddel tussen Afrikaanssprekendes bevorder word. Kinders moet meer Afrikaans praat, veral omdat die jonger geslag daarop fokus om kinders Engels groot te maak. Gemeenskapsuitreikaksies vir Afrikaans is dus baie belangrik.”

Alana Bailey

Die terugkerende direksielid Alana Bailey het ’n uitgewersagtergrond en meen diversiteit kan ’n taal verryk. “Mense moet minder bang wees daarvoor. Afrikaanssprekendes moet die kennis hê om die standaardvorm te kan praat, maar nie wal gooi teen vernuwing en ander variëteite nie. Kruisbestuiwing moet toegelaat word. Die staat gee nie regtig meer erkenning aan Afrikaans in werksplekke en howe, waar mense hulle in hulle eie taal kan uitdruk, nie. Wanneer mense op hulle gemak kan gesels, doen hulle dit in hulle moedertaal. Maak mense meer gemaklik, want inklusiwiteit gee plek aan mense se identiteit.”

Volgens Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad, is inklusiwiteit van die verskillende vorme van Afrikaans belangrik vir die oorlewing van die taal. “Inklusiwiteit beteken dat al die sprekers van al die variëteite op ’n gelyke basis betrek word. Géén variëteit, die standaardvariëteit ingesluit, word belangriker as die ander geag nie. Afrikaans is die som van die taal se variëteite. Ons moet mekaar kan groet met ’n mirrag, hoesit, saloet en aweh. Ons moet saam kan smul aan melktert, krimpvarkies, tweegevreetjies, koeksisters én koesisters.

“As Afrikaanssprekendes verskille uit die weg ruim en meer begrip vir mekaar ontwikkel, sal hulle in ’n beter posisie wees om ruimtes vir Afrikaans te beding. Dit is net so duidelik dat hulle Afrikaans beter in samewerking met die ander inheemse tale sal kan bevorder. Wye alliansies – in die gees van die veeltaligheidsvoorstander Neville Alexander – is nodig om die hegemonie van Engels teen te staan en ruimte vir die inheemse tale, Afrikaans ingesluit, te skep.

“In die praktyk beteken dit die sprekers van Standaardafrikaans moet ophou om variëteite soos Kaaps te stigmatiseer. Ons moet ook ophou om Pretoria-Afrikaans of die sogenaamde stywe boordjie van Standaardafrikaans bespotlik te maak. Om die variëteite teen mekaar op te stel, is ’n slegte ou gewoonte,” meen Steenkamp.

Volgens Hendricks moet die Taalraad die diversiteit van Afrikaans en al die variëteite bevorder. “Die organiese band tussen die standaardvorm en die omgangsvariëteite moet beklemtoon word. As dit gebeur, help almal saam om die standaardvariëteit op ’n inklusiewe wyse te laat groei. Sonder die omgangsvariëteite is standaardvariëteite niks nie en die wisselwerking tussen variëteite sal almal se kommunikasievaardighede uitbou.”

Steenkamp eggo dié siening: “Die variëteite verteenwoordig taalkreatiwiteit op voetsoolvlak. Dit dra by tot die verryking van algemene Omgangsafrikaans en die aanpassing van Standaardafrikaans is ’n natuurlike uitvloeisel hiervan. Daarsonder sal Afrikaans baie armer wees. Diegene wat taalvermenging as positief beskou én diegene wat bekommerd oor die invloed van Engels is, het die reg om die taal te praat soos hulle wil. Dit is nodig om aan te beweeg van die voorskriftelikheid van die verlede.”

Ander direksielede van die Taalraad is die skrywer en kenner van Gariepafrikaans Anzil Kulsen, die TV-aanbieder Sinki Mlambo, die taalkundige Karien Brits, die taalliefhebber Louis du Plessis en Japie Gouws, voormalige uitvoerende hoof van die ATKV. Lees meer oor die nuwe direksielede by https://www.afrikaansetaalraad.co.za/gaan-groot-of-gaan-huis-toe.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top