Persverklaring: Afrikaans blom in ’n meertalige UV-konteks

  • 0

Foto: Canva

Hiermee wil die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV die persepsie dat die dae van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat getel is kontekstualiseer. Hierdie verklaring sluit aan by die universiteit se amptelike verklaring waaroor daar op 18 Junie onder meer op Netwerk24 berig is.

Die inhoud van die UV se taalbeleid en taalimplementeringsplan (soos beskikbaar op die webblad van die Universiteit van die Vrystaat) meld duidelik dat “meertaligheid” en “transtaligheid” en dus by implikasie ook Afrikaans aan die UV ’n tuiste het. Dit is ook binne dié taalbeleid dat die departement funksioneer (language-policy-of-the-university-of-the-free-state.pdf).

Die e-pos van Anthea Rhoda, adjunkvisekanselier vir akademie, moet gelees word in die konteks van ’n respons direk na die parlementêre komitee se besoek, waar studenteleiers verklaar het dat daar steeds onderrig in Afrikaans plaasvind en dat dit nie in lyn is met die taalbeleid nie. Die toonaard van haar e-pos aan dekane en die inhoud van mediaberigte daaroor sedert 13 Junie 2025 kan die indruk skep dat Afrikaans hoegenaamd nie aan die UV welkom is nie. Dit is lynreg strydig met die kernwaarde van meertaligheid wat vervat is in Visie130 se fokus op diversiteit en inklusiwiteit (https://www.ufs.ac.za/vision-130/tenets-of-vision-130/social-justice).

Inisiatiewe soos die nuwe straat-poësieprojek aan die Universiteit van die Vrystaat wat ruimte skep vir gedigte in vier tale, naamlik Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sotho; die vestiging van die Academy for Multilingualism in 2021 (Academy for Multilingualism); die konkrete steun van die UV-rektoraat aan die viering van die 100-jarige status van Afrikaans as amptelike taal op 15 Mei 2025 (https://livestream.ufs.ac.za); die universiteit se ondersteuning van “translanguaging”-inisiatiewe in verskillende departemente (wat juis voorsiening maak vir studente se gebruik van hul eie huistale / eerste tale in diens van akademiese prestasie); en die vestiging en sukses van gesprekstaalmodules (“conversational modules”) in verskillende fakulteite in onder meer Afrikaans, Gebaretaal, Sotho en Zoeloe is alles tekenend van ’n meertalige omgewing waarvan Afrikaans ’n integrerende deel is.

Met hierdie verklaring wil die Departement dus die kommer van die breër Afrikaanse taalgemeenskap besweer. Ons neem kennis van die enkele e-pos van Anthea Rhoda aan dekane soos blyk uit mediaberigte in Junie 2025. Die inhoud van die berigte en die e-pos weerspieël egter nie die werklikheid van Afrikaans in ’n meertalige UV-konteks waarin Afrikaanssprekendes tereg ook kan welkom voel nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top