Persverklaring: Aantal jeuginskrywings in die AVBOB Poësiekompetisie skiet die hoogte in

  • 1

’n Rekordgetal inskrywings is ontvang in die vierde jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie wat van 1 Augustus tot 30 November 2020 aangebied is. Dit vertel ’n gerusstellende verhaal oor die siel van Suid-Afrika.

In haar lof vir die kompetisie, noem die bekroonde Afrikaanse digter Antjie Krog dit “’n verstommende gebeurtenis wat jaarliks in ons midde ontplof: duisende gedigte in al die tale van ons land! Geskryf, gelees en vertaal! Ek kan aan geen ander kompetisie in die wêreld dink wat so omvangryk is in terme van taal, wat so versorgend uitreik na elke gedig, en so uniek is in effek nie as die AVBOB Poësiekompetisie.”

Kompetisiedata toon dat geen digter te jonk of te oud is om die pen op te neem nie: Vanjaar was ons jongste deelnemer sewe en die oudste 98. Ons het ook ontdek dat daar ’n skerp toename is in kwaliteitgedigte in Siswati en Setswana, met onderskeidelik 254% en 118% méér inskrywings. Ons het gesien dat mense hul gevoelens en vrese, hul ideale en hunkeringe met ons deel – ondanks (of dalk as gevolg van?) die jaar van die pandemie – deur ’n verstommende totaal van 41 139 gedigte; ook dat digters wie se werk gekies is vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek gesamentlik R1,23 miljoen aan publikasievergoeding verdien het.

Die kompetisie het voorts gewys dat die ware uitblinkers die jeuginskrywings is, want byna 75% van die totale getal is dié van skrywers jonger as 35.

Die hoofredakteur, Johann de Lange, sê dít is ’n werklik opwindende verskynsel. “Dié syfers dui op ’n passievolle begeerte by jongmense om hul ervarings te verwoord en om ’n rol te speel in die vestiging van ’n lees- en skryfkultuur. Dis ’n uiters positiewe ontwikkeling wat bewys dat poësie lewendig is onder die jonger generasie, deur dié belangstelling in en toewyding aan skeppende skryfwerk. Indien ons aanvaar dat poësie die kanaal vir die uitbeelding van ons diepste menslikheid is, kan ons ons hoop stel op ’n beter toekoms, omdat jongmense die poësie as ’n band tussen mekaar sien en as ’n manier om vir hulself ’n bepaalde stem te gee.”

Die toename in die belangstelling in Siswati- en Setswana-poësie is belangrik vir die poësiegemeenskap. Vir De Lange beteken dit dat ’n literêre tradisie besig is om as ’n kulturele verskynsel te ontwaak. “Inheemse tale was histories nooit ten volle verteenwoordigend binne die literêre kanon nie, maar ’n splinternuwe tradisie is besig om te ontwikkel. Dis betekenisvol, omdat jong digters nou hul unieke stem op ’n oorspronklike manier ontdek. Dit verskil van dié van hul voorvaders wat die struggle as bevryding beskou het, want hierdie uitdrukkingswyse – in die tyd van COVID-19 – dui op nuwe, energieke vasbeslotenheid en moed.”

Die kategoriebeoordelaar, Stanley Mdonsela, het die gemeenskap Siswati-digters gelukgewens met die merkbare verbetering in die gehalte en die selfvertroue van hul inskrywings. “Dis omdat digters nuanses verstaan dat hul vaardige taalgebruik die beskouings en waardes van die Emaswati weerspieël," sê hy. “Wanneer iemand sy moedertaal gebruik, is dit ’n hartsboodskap. Siswati-digters is besig om ’n nis vir hulself in die wêreld uit te kerf. Hulle het standpunt ingeneem – en dit is dat die Emaswati nie uitgesluit sal word van hierdie merkwaardige geleentheid om troos aan die treurendes te bring nie.” Madonsela voeg by: “Die aantal en gehalte van die gedigte is ongelooflik! Ek is heeltemal oortuig daarvan dat, as jy die getal jeuginskrywings in ag neem, die toekoms van ons taal veilig is in hul hande.”

Die Xitsonga-digter en akademikus, Ximbani Eric Mabaso, besing die lof van die kompetisie: “AVBOB Poësie is ’n verwesenliking van veeltaligheid en multikulturaliteit op ’n ongeëwenaarde skaal – een wat moeilik geklop sal word in die dekades vorentoe. AVBOB het binne enkele jare ’n hele klomp debuutdigters gepubliseer: Dit het ’n onverwagse skeppendheid ontlok op terreine wat jare lank onontgin was. AVBOB Poësie het daarin geslaag om ’n behoefte aan mededinging na vore te bring, waar nuwelinge en gesoute digters ’n verhoog kan deel. Terselfdertyd trek hulle nie net geldelik voordeel uit die publikasie van hul werk nie, maar kan ook toekennings inpalm. Hierdie projek beteken digkuns vír gewone mense, déúr gewone mense – ’n inisiatief wat ook, deur papierpublikasies, die digitale kloof oorbrug. Lank leef AVBOB Poësie!”

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van AVBOB, deel die positiwiteit oor dié betekenisvolle, bemoedigende neigings. Die inskrywings wat tydens die afgelope viermaandetydperk ingedien is, het met meer as 25% gestyg teenoor die 30 573 wat verlede jaar ontvang is. Dit is meer as dubbel die getal inskrywings in 2017, die eerste jaar van die kompetisie.

“Hierdie ongelooflike toename is ’n teken dat al hoe meer Suid-Afrikaners sin in poësie vind. Ons voel geëerd deur hul belangstelling in die kompetisie en deur die indrukwekkende gehalte van inskrywings,” sê hy. “Een van die belangrikste doelwitte van die kompetisie was nog altyd om toegang te hê tot ’n vryelik toeganklike biblioteek van gedigte in al 11 amptelike tale. Elke gedig wat as deel van hierdie biblioteek aanvaar word, ontvang onmiddellik R300 (elektroniese oordrag) sodra die gedig gepubliseer word. Vanjaar het ons beoordelaars altesame 4 100 gedigte vir publikasie gekies. Dit beteken dat AVBOB Suid-Afrikaanse digters ondersteun het deur uitbetalings van altesame R1 230 000 as publikasievergoeding.”

Van der Riet kom tot dié gevolgtrekking: “Om die kunste te ondersteun, is inderdaad iets waaroor ons kan juig! Die statistiek wat hierbo genoem is, is getuienis van die ontwikkeling van ’n lewende monument. Dié sielvolle en dinamies groeiende projek bring hulde aan die mense vir wie ons lief was en wat ons verloor het. Dit bring ook eer aan dié wat nog lewe, dat ons hul skeppendheid in ’n ernstige lig beskou, en dat ons die kunste ondersteun met lewegewende energie en toewyding.”

Die wenners van die AVBOB Poësieprys van R10 000 vir elk van die 11 taalkategorieë word aangekondig by die vierde AVBOB Poësie-galageleentheid middel-2021. Die digters wat die kortlys haal, sal in die eerste helfte van 2021 daaroor ingelig word. Digters word aangemoedig om die AVBOB Poësieprojek op sosiale media te volg om meer te wete te kom oor kompetisieverwante aankondigings, of besoek die kompetisiewebblad-blog by www.avbobpoetry.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top