
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kondig met groot genoeë die wenners van die gesogte Akademiepryse vir 2026 aan.
Die SA Akademie se pryse word volgens duidelik omskrewe en gevestigde prosesse beoordeel. Die literêre pryse word op grond van inskrywings deur uitgewers vir spesifieke pryskategorieë oorweeg en deur die onafhanklike Letterkundekommissie beoordeel. Elke lid van die Kommissie lees al die ingeskrewe werke, waarna verslae opgestel, bespreek en oorweeg word voordat daar op kortlyste en uiteindelike wenners besluit word. Die beoordeling fokus primêr op die literêre gehalte van die teks self.
Die SA Akademie se ander pryse kan deur lede van die publiek genomineer word en word deur onderskeie keurkomitees beoordeel volgens ’n soortgelyke gestruktureerde proses, waarna aanbevelings aan die Akademieraad gemaak word.
Die pryse word op Vrydag 2 Oktober 2026 tydens ’n bekroningsplegtigheid in Pretoria aan die wenners oorhandig. Hierdie mediaverklaring bevat die besonderhede van vanjaar se toekennings. Die bekroondes is, waar moontlik, reeds mondelings in kennis gestel.
Hertzogprys vir Poësie
Die Hertzogprys is een van die vernaamste prestigepryse in die Afrikaanse letterkunde en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken. Die prys word op aanbeveling van die SA Akademie se Letterkundekommissie toegeken.
Die Hertzogprys vir Poësie word toegeken aan Tom Dreyer vir Nou in infrarooi.

Tom Dreyer
Die kortlys vir vanjaar:
- Asindeton – Joan Hambidge (Protea Boekhuis)
- Nou in infrarooi – Tom Dreyer (Kwela)
- Soekenjin – Bibi Slippers (Tafelberg)
- vloei/stof – Gilbert Gibson (Protea Boekhuis)
- Waterman – Herman Wasserman (Queillerie)
MT Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie
Die toekenning word gemaak aan ’n persoon vir skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of tegnologie (of ’n vertakking daarvan), asook die suksesvolle toepassing daarvan in ’n breër konteks, onder meer tot voordeel van die land. Hierdie prys word as ’n kroon op ’n lewenstaak beskou en kan slegs eenmalig aan ’n persoon toegeken word.
Die prys word vanjaar toegeken aan Johan Schoeman, Departementshoof van die Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

Johan Schoeman
Johan Schoeman, ’n gekwalifiseerde veearts van die Universiteit van Pretoria, het ’n internasionaal erkende loopbaan opgebou met akademiese en kliniese ervaring in die Verenigde Koninkryk en by die Universiteit van Cambridge, en dien tans as departementshoof by die Universiteit van Pretoria. Hy is ’n hoogs produktiewe navorser en mentor met omvangryke publikasies, internasionale kongresbydraes en spesialiskwalifikasies, en lei tans die fakulteit se patobiologienavorsingsprogram. Sy uitnemendheid is bevestig deur ’n NRF B1gradering (2022-2027), terwyl hy hom ook aktief beywer vir die bevordering van Afrikaans in die veeartsenykundige wetenskappe.
SA Akademieprys vir Drama
Een van die SA Akademie se toppryse vir die kunste word toegeken vir ’n lewenslange bydrae tot drama in Afrikaans en kan gevolglik ook net eenmalig aan ’n persoon toegeken word. Hierdie prys word driejaarliks toegeken vir dramawerk in Afrikaans in die wydste sin, insluitend radiodrama, toneel- en verhoogkuns, sowel as rolprent en televisie (akteurs, regisseurs, vervaardigers, ensovoorts).
Die prys word vanjaar toegeken aan die akteur Tobie Cronjé wie se loopbaan oor meer as 50 jaar strek.

Tobie Cronjé
Ná sy dramastudie aan die Universiteit van Pretoria het Tobie Cronjé in 1972 by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit en kort daarna ’n suksesvolle loopbaan as vryskutakteur begin, met sy rolprentdebuut in Die sersant en die Tiger Moth (1973) en later prominente rolle in televisie, radio en teater. Oor meer as vyf dekades het hy hom as ’n besonder veelsydige kunstenaar gevestig met ’n unieke vermoë om beide komiese en ernstige rolle met insig, emosionele diepte en professionaliteit te vertolk. Vandag, bykans 78 jaar oud, bly hy aktief en hoog in aanvraag, en word hy beskou as ’n legendariese figuur en mentor wie se toewyding en integriteit hom ’n ware ikoon in die Suid-Afrikaanse kunswêreld maak.
Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek
Die Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek word driejaarliks toegeken vir langdurige, hoogstaande werk in Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante, tydskrifte, televisie of radio.
Die prys word vanjaar toegeken aan Michélle van Breda, redakteur van SARIE.

Michélle van Breda
Michélle van Breda, reeds ’n kwarteeu lank redakteur van SARIE, het die ikoniese tydskrif tot ’n dinamiese, multidimensionele handelsmerk ontwikkel en as kulturele anker vir Afrikaanse vroue gevestig. As gesoute joernalis met ’n loopbaan wat in 1981 by Die Burger begin het, het sy deurgaans erkenning verwerf vir haar vernuf, visie en leierskap. Haar bydrae tot die Afrikaanse media- en kultuurlandskap is van onskatbare waarde en het ’n blywende impak op generasies lesers.
Deleen Bekkerprys vir die beste Rolprentdraaiboek in Afrikaans
Hierdie prys word jaarliks om die beurt toegeken aan die beste Afrikaanse draaiboek wat in die voorafgaande twee jaar gebeeldsend (TV-drama) of vertoon (rolprent) is. In 2026 word die beste rolprentdraaiboek in Afrikaans bekroon.
Die wenners van vanjaar se prys is Jason Jacobs en Devon Delmar vir Carissa.

Jason Jacobs en Devon Delmar
Jason Jacobs en Devon Delmar toon met Carissa dat hulle die kuns van draaiboekskryf meesterlik bemeester het, met ’n verhaal wat in die Sederberge afspeel en temas van armoede, drome, gemeenskapsverbondenheid en korporatiewe bedreiging ondersoek. Die teks word gekenmerk deur eerlikheid, visuele trefkrag en genuanseerde karakterontwikkeling, sonder maklike oplossings of stereotipes, en ’n sterk fokus op opoffering, familie en kulturele verlies. Vanweë die hoë gehalte en samehang staan die draaiboek duidelik bo ander inskrywings uit en verdien dit die Deleen Bekkerprys vir 2026.
Havengaprys vir Lewenswetenskappe
Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op die natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied, en kan slegs eenmalig aan ’n bepaalde persoon toegeken word.
Die prys gaan vanjaar aan Louis du Preez, Departement Dierkunde, Skool vir Omgewingswetenskappe en -ontwikkeling, Noordwes-Universiteit.

Louis du Preez
Die prys erken Du Preez se uitsonderlik produktiewe wetenskaplike loopbaan van meer as drie dekades, waartydens hy hom as ’n internasionale kenner in herpetologie en parasitologie gevestig en terselfdertyd Afrikaans as hoëfunksiewetenskapstaal bevorder het. Met bykans 200 ewekniebeoordeelde publikasies, die beskrywing van talle nuwe spesies en toonaangewende werke soos A Complete Guide to the Frogs of Southern Africa, het hy ’n beduidende bydrae tot biodiversiteitsnavorsing en internasionale wetenskapsbeoefening gelewer. As navorser, mentor en wetenskapskommunikeerder speel hy ook ’n sleutelrol in die opleiding van ’n nuwe generasie wetenskaplikes en die toeganklikmaking van wetenskap in Afrikaans, wat hom ’n uiters waardige ontvanger van hierdie bekroning maak.
Erepenning vir Geesteswetenskappe
Die Erepenning vir Geesteswetenskappe word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe, asook die suksesvolle toepassing daarvan in ’n breër konteks, onder meer in landsbelang.
Die prys word vanjaar toegeken aan Karel Prinsloo, taalkundige, sosioloog, maatskaplike en gemeenskapsontwikkelaar en kulturele entrepreneur van Pretoria.

Karel Prinsloo
Karel Petrus Prinsloo ontvang die prys op grond van ’n uitsonderlike loopbaan van meer as 60 jaar waarin hy as taalkundige, sosioloog, navorser, gemeenskapsontwikkelaar en kulturele entrepreneur ’n beduidende bydrae tot die geesteswetenskappe gelewer het. Sy baanbrekers- werk in sosiolinguistiek, taalbeplanning en taalpolitiek, sowel as sy leierskap in belangrike navorsings- en beleidsinisiatiewe en kernpublikasies oor Afrikaans, het hierdie velde in SuidAfrika gevorm en gevestig. Deur sy werk as uitgewer, mediabestuurder en vervaardiger van opvoedkundige en dokumentêre programme het hy sy wetenskaplike kennis verder toeganklik gemaak en volgehoue bydraes gelewer tot die bemagtiging en ontwikkeling van Afrikaanse gemeenskappe.
Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie
Die Erepenning word toegeken vir ’n individu se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of tegnologie (of vertakkings daarvan), asook vir die suksesvolle toepassing daarvan in ’n breër konteks, onder meer in landsbelang.
Die prys word toegeken aan Francois Engelbrecht, direkteur van die Universiteit van die Witwatersrand se Global Change Institute.

Francois Engelbrecht
Francois Engelbrecht word vereer vir sy buitengewone bydrae tot klimaatwetenskap. Sy baanbrekerswerk in klimaatmodellering, insluitend die ontwikkeling van Afrikagesentreerde aardstelselmodelle en die veranderlikeresolusie-oseaan-atmosfeermodel, lewer kritieke insigte vir die verstaan en bestuur van klimaatsverandering, met direkte toepassing op beleid en beplanning in Afrika. As internasionaal erkende wetenskaplike en leier in die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) dra hy beduidend by tot globale kennis én die bevordering van Suid-Afrika se wetenskaplike aansien.
Erepenning vir Visuele Kunste
Hierdie Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die kunste, sowel as die suksesvolle toepassing daarvan in ’n breër verband.
Vanjaar word die prys toegeken aan die kunstenaar Walter Oltmann van Johannesburg.

Walter Oltmann
Walter Oltmann is ’n toonaangewende Suid-Afrikaanse kunstenaar met meer as vier dekades se ervaring, bekend vir sy innoverende gebruik van materiale en sterk konseptuele werk. As dosent en mentor aan die Universiteit van die Witwatersrand, en ontvanger van gesogte toekennings, het hy ’n blywende invloed op die kunswêreld gehad. Sy internasionaal erkende werk bevestig sy status as ’n unieke en ikoniese figuur in die beeldende kunste.
LW Hiemstraprys vir Niefiksie
Die toekenning van hierdie prys word sedert 2001 driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie. Boeke wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer is, kom in aanmerking vir die prys.
Die prys word toegeken aan Bun Booyens vir Troep: die dinge wat hulle saamdra.

Bun Booyens
Die kortlys vir vanjaar:
- Bewegende denke: praktiese wyshede en kritiese hermeneutiek in onstuimige tye – Pieter Duvenhage (Naledi)
- Boesman-invloed op Afrikaanse plekname – Peter E Raper (UJ Press)
- Troep: die dinge wat hulle saamdra – Bun Booyens (Penguin Random House)
SA Akademieprys vir Vertaalde Werk
Die toekenning van hierdie prys word sedert 1999 driejaarliks oorweeg vir vertalings in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal.
Die prys word vanjaar toegeken aan Naòmi Morgan vir die vertaalde werk Ons wag vir Godot.

Naòmi Morgan
Die kortlys vir vanjaar:
- Faust – Johann Wolfgang von Goethe (vertaal deur Robert Schall) (Naledi)
- Max Havelaar – Multatuli (vertaal deur Ena Jansen) (Protea Boekhuis)
- Ons wag vir Godot – Samuel Beckett (vertaal deur Naòmi Morgan) (Naledi)
- Reinaard die vos – “Willem” (vertaal deur HJ Pieterse) (Protea Boekhuis)
Eugène Maraisprys vir Poësie
Die prys word toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans. Sedert 2023 word hierdie prys jaarliks om die beurt toegeken vir prosa die een jaar en vir poësie of drama die volgende jaar. Ingevolge die reglement van dié prys, kan die prys aan meer as een skrywer jaarliks toegeken word.
Vanjaar word die Eugène Maraisprys vir Poësie toegeken aan Lynthia Julius vir Kinderlê én toegeken aan Alwyn Roux vir weerskyn.

Lynthia Julius en Alwyn Roux
Die kortlys vir vanjaar:
- Kinderlê – Lynthia Julius (Queillerie)
- prins – Ryan Pedro (Kwela)
- weerskyn – Alwyn Roux (Protea Boekhuis)
Douw Greeffprys
Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte in die natuurwetenskappe wat gedurende die voorafgaande jaar in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gepubliseer is.
Die prys word toegeken aan Shaun Redgard, Johan Venter en Andreas Roodt, verbonde aan die Departement Chemie, Universiteit van die Vrystaat, vir hul artikel “Homogene katalitiese CO2-vasvanging deur epoksiede: kineties-meganistiese studie van gepaardgaande siklokarbonaatvorming” wat verskyn het in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 44(1), 2025.

Shaun Redgard, Johan Venter en Andreas Roodt
Jacques van der Elstprys (2024)
Hierdie prys word jaarliks toegeken vir die beste artikel wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) verskyn het.
Die prys word toegeken aan Fransjohan Pretorius vir sy artikel “Die Britse Intelligensiediens tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902” wat verskyn het in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe 64(4), Desember 2024.

Fransjohan Pretorius
Jacques van der Elstprys (2025)
Die prys word toegeken aan Tobie van Dyk vir sy artikel “Afrikaans as akademiese taal: verlede, hede en toekoms” wat verskyn het in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe 65(1), Maart 2025.

Tobie van Dyk
Poortprys
Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die beste skeppende bydraes – poësie, prosa en drama – deur leerders in grade 10, 11 en 12 wat aan die Poortkompetisie deelgeneem het.
Die pryse word vanjaar soos volg toegeken:
Poësie:
- Afrikaans Huistaal: Micke de Jager, DF Akademie vir “Hout met hartklop”
- Afrikaans Addisionele Taal: Engela Whittle, Hoërskool Curro Durbanville vir “Villanelle virrie Kaap”
Prosa:
- Afrikaans Huistaal: Synteche Hodson, Hoërskool Brackenfell vir “Begrafnis op Mars”
- Afrikaans Addisionele Taal: Cirstie Esau, Hoërskool Curro Durbanville vir “’n Taal wat haar naby hou”


Kommentaar
Joan Hambidge het die Hertzogprys verdien. Sug.