Persverklaring 30 Julie 2013

  • 0

Madiba kyk TV.
Hy lig sy hand op om te groet.
Die mense dink hy’s op pad uit
maar onse Madiba is oukei.
Die fotograwe kom van oorsee.
Al die wit rassiste om te peusel
aan die karkas. Maar wie’t nou al
’n aasvoël sien vreet aan ’n lewende dier,
wat nog te sê ’n man, wat nog te sê ’n god
’n lewende god.
Ja, Jesus was ook ’n tipe god, en Mohammed,
maar kon hulle TV kyk met toe oë, huh?
Aanhou praat names Die Party
al gaan hul monde nie meer oop of toe nie?
Nee, nee, onse Madiba is iets anders. Hy’s die
mense se tipe god, hy hou die World Cup vas
in ’n nommer 6-trui.
Hy maak vriende met tronkbewaarders.
Ou nuus daai, sê jy. O, dis waar
jy die fout maak. Onse Madiba gaan
nooit uit die mode nie. Onse Madiba is hier
om te bly. Onse Madiba, onse Nkosi Dalibhungu
steek nie sommer lepel in die dak nie.
Op SABC is daar genoeg programme om te kyk mos.
En nes jy dink nou gaan dinge weer rustig raak
dan wiel ons hom daar uit in ’n gholfkarretjie
regop in sy Madiba-shirt, onse Madiba besig om
Madiba-dinge te doen soos daai lekker Madiba-dansie te dans
soos net Madiba kan. Ja, jy gaan nog wag vir die nag
van die lange messe, dan kom Madiba met sy geweer ra-ta-ta
soos hy op die TV gesien het. Wat, o hy sal nie masjiengeweer
swaai nie? Wat, jy dink ons dokters kan nie ’n ou man
gesond hou nie? Jy dink ons ken nie van taksidermie nie?
Jy dink daai’s die grynslag van die dood? Jy ken nie ons tipe nie, bra.
Onse Madiba boks jou wit neus plat in jou gesig in.
Met daai longmasjien aan, pappie.
Maar laat die man nou met rus. Gee hom ’n blaaskans.
Hy’t ver gestap. Hy slaap nie.
Hy rus net bietjie sy oë.
Hy kyk net bietjie TV.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top