Pêrels van geluk

  • 0

Vir jou, my liefste kind
stuur ek die mooiste seënwense
uit my moederhart gekerf …

Vir elke keer wat jy opstaan
as jou wêreld in duie stort,
en jou laat struikel en val.
Vir al die kere wat jy dapper
(soos wat nét jy kan wees)
weer en weer vooruit beur
terwyl jy die stof van jou afslaan.

Vir jou wat soveel gee,
vir die stank vir dank wat jy ontvang.
Wat jou liefde so onselfsugtig deel,
terwyl jy self na liefde verlang.

Jý, wat vreugde oral om jou saai,
terwyl jy deur jou eie donker tye
die weë van jou geliefdes
met glimmers van lig oorlaai.

Vir jou stuur ek
my mooiste mooi seënwense,
vasgestring met my pêrels van geluk.
Want jy verryk my lewe –
en hierdie omgekeerde wêreld,
maak jý vir my ’n beter plek!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top