Perdebytjie en haar makkers

  • 10

Perdebytjie,

Ek het so gedink. Aangesien Reusedwerg  jou skerptong-gytjie noem. Sal jy net vir vandag  jou angeltjie terugtrek en saam my op reis gaan? Maar jy moet vroeg opstaan – baie vroeg, nog voordat die son sy eerste straal teen spookasem-wolke verf. As dit in Julie is, stel ek voor jy verruil jou vlerke vir dikkeres, want op die wildbesigtigingsvoertuig is dit vroegoggend bibberkoud.

Ek het gedink ons kan jou familie gaan besoek. Die aantal insekte op ons planeet slaan my asem skoon weg. Ongeveer ’n miljoen spesies is wêreldwyd aangeteken, baie meer as al die ander diere saam. In die vorige eeu het ’n SA entomoloog geraam dat daar ten minste 40 000 geïdentifiseerde insekspesies aan die suidelike punt van die vasteland is. Vandag is dit nader aan 80 000. Ek kan jou dus die heeldag rondry sonder dat jy verveeld raak of nodig het om jou angeltjie uit te steek.  

Ek het jou nog nooit aanskou. Kan jou kleure vergelyk met die bloedrooi van die robuuste waterjuffer (naaldekoker) wat op die rande van die stil watermassas voorkom of kan jy soos die botterspinnekop vlytig ’n ragfyn spinnerak uit jou abdominale klier weef as hangmat? In die ou dae was daar ’n raat vir geelsug: om ’n groot lewendige huisspinnekop wat in botter toe gerol is, in te sluk.
 

Ek sien jou makkers, die heuningbye, hou daarvan om stuifmeel op hul vergrote agterpote te versamel. Asof die lelie se misterieuse poeierpers hul betower en naderwink, net om daarna met oorvol pote in die water te beland. Karkasse dryf oral rond. Sommige red hulself en sleep-klim uit teen die blare van die waterplant wat soos borde op die oppervlakte sluimer. Oeps - een van jou luisvriende hierbo het voëlkos geword. Of is dit ’n mopanieboom se blaar?

Jikkk ... jou oom Missie bo-op die misrolle laat my snuif al dra hy status: plaaslik bedreig. Abba hy aanneemkinders op sy rug?  My ma het altyd gewaarsku: “Trienie, bly weg van die mishope – dit stink daar.”  Wat sy eintlik bedoel het is dat jy nie by hole en stinkplekke moet rondlê.  Langs hom is sy skugter maatjie Toktokkie. Veilig woon hy by die lodge. Hardkoppig net soos sy dop en koets weg as ek hom wil kiek. Trek selfs ’n vrekspeletjie op homself!

Jou Ant Suzzzzie met haar botterspinnekoplyf en spikkelrug laat my Zzzz. Is sy gevaarliker dan jou perdebysteek? Ek onthou eenkeer hoe ’n perdeby op my skoot kom sit het. Buite om die kampvuur. Gesien hoe die angeltjie diep in my bobeen inspuit, asof in “slowmotion”. Dit was te laat om af te klap. Agterna het dit soos die hel gebrand en moes ek maar my trane voor die vreemde mense terugknyp.  

 
Slakke interesseer min mense. Maar hierdie linkerkantste reuselandslak is beroemd. Kyk die Jeep se wielspoor aan sy regterkant. Nét gemis. Hier in Limpopo is hulle ’n gereelde en wesenlike bron van proteïenryke voedsel. Klassifiseer hulle onder insekte? Maak nie saak, hul is skulpmooi en verdien dieselfde respek dan die groot vyf.
 

Wow! Kyk vir Wonderwerkie. Moenie dat die kamera jou flous. Hoe lank skat jy hierdie skugter sprinkaantjie met sy lowergroen lyf? Dan verstaan ek nie Perdebytjie, dat jy sulke klein ongewerweldes en fyngekoude ruspes kan dood en vir jou larwes voer?  Oepsie-kedoepsie, jammer, jou oorkruiper vriend hierbo by die voël het sy laaste vlieg op aarde gehad. Jy moet tog versigtig wees Perdebytjie, wanneer jy ’n neushoringvoël gewaar, moenie sluimer of slaap maar vlieg op die stroom van die wind so vinnig soos jou vlerkies jou dra.    

  
Kan jy die spinnekopjagter tussen ons voete sien? Kom ek zoem bietjie in met die lens (regs). Dit laat my besef Perdebytjie, een voettrap van Reusedwerg  en hy vermorsel jou onder sy voete. Wat hy egter nie weet, is dat perdebye saamtrek. Dat jy nie alleen is. As jy gesteur word, kan jy baie seer piets. Vernaam as jy afstam van die duiwelbye (Social wasps)?

 

Rrrr, wriemel wriemel. Perdebye in klosse. Perdebytjie, ek hoor jy sit met ’n besondere versteekte eierboor. In Suid-Afrika is daar 3 inheemse perdeby-genusse. Watter een is jy? Liewe hemel, kan jou bosluisvriende met hul horde kleintjies nie hierdie arme waterbok uitlos? Dit lyk kompleet of hy neusbelle dra. Bloedsuiers galore. Bosluis lengtes kan tot 12mm rek wanneer volgesuig en verkry dan ’n blougrys kleur.

 

Ons kannie totsiens sê voordat die praglyfie van die brose skoenlapper nie geprent is. Skoenlappers is skaalvlerkig en het 4 vlerke wat met klein, poeieragtige skubbe bedek is wat die vlerkpatrone en kleure dra. Dit vryf taamlik maklik af. Pasop! Stop! Daar is ’n verkleurmannetjie  in die pad. Gou – die kamera, lyk of die teerpad sy voetjies brand ...

Moenie vergeet om vir oulaas op te kyk na die asemskoon mis op die pieke. Daar waar God veld en berg geskape het vir selfs die kleinste insek om in te woon. Die angel en werking van elke perdebytjie het Hy haarfyn beplan. Sy goddelike liefde in jou lyfie volmaak ingebou.

Dit roer my siel ...

Trienie

  • 10

Kommentaar

  • Beste Trienie

     
    Baie dankie vir die pragreis wat ek saam met jou kon onderneem .As jy my egter ken en al my blogs gelees het, sal jy agterkom dat ek 'n ontsettende liefde vir die natuur het. Ek gaan gereeld met my kamera na besondere plekke en ek het al baie vertel op my blogs van my avonture. Verder het ek 'n baie goeie kennis van die natuur en al sy aspekte, want dis een van my studievelde.
     
    Hierbo is jy egter besig om my subtiel oor die vingers te tik, omdat ek dit waag om 'n ander denkwyse as jy te hê. Waar ek ookal my opinies gelug het, het ek dit so ingelig as moontlik probeer doen sonder om mense te vloek of skel. Ek hou dus gladnie van die manier waarop ek baie slinks gebreinspoel word om soos jy te dink nie.
     
    Ek is dit met jou eens oor al die wondere van die natuur en ek sal dit geniet, sonder 'n god en jou uitlos om dit te geniet soos wat jy wil. Ek het nog altyd gewaak daarteen om ooit met jou te stry oor enige iets, want ek dink jy is iemand met 'n diep gevoel vir die mooi dinge in die lewe. Dis daarom jammer dat jy my nou indirek soos 'n kind benader en my angel probeer uittrek!
     
    Perdebygroete met 'n angel.
  • CorneliusHenn

    Goddank vir vroue!

    Liewe Trienie, dis hoe ek jou op die werf respekteer; sag en met 'n diep gevoel vir die mooi dinge in die lewe ... los gerus die testosteroon vir my en die res... ek wens regtig ek kon jou help om weg te kyk waar ek met die "Brokeback Mountian" en "Spirituele Intelligente" brekers op die werf stryd het...

    Hartlike groete,

    Cornelius Henn

  • Hello Trienie, 

     
    Hoekom die steek van die angel?
     
    Laat hy/sy die eerste klip gooi......... 
     
    Maar die fotoreeks is mooi sonder twyfel. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
  • Ouch!

    Eina Perdebytjie, waarom die angel? Het ek iets ge-trigger? Ek's jammer. Sonder dat ek jou avonture gelees het, het ek net geweet dat jy lief is vir die natuur en het ek jou karaktersimbool gebruik om die mooi van insekte te probeer skilder. Jammer as jy meen ek het jou probeer oortuig omtrent my siening, glo my, ek weet gewoonlik voor die tyd of dit met iemand moontlik is.

     

    Jy hoef nie aan ‘n god te glo, natuurlik is keuse jou vrye reg. Ek respekteer dit. Vir my kom dit maar net moeilik aangesien ek met my blote oog die naweek weer gesien het by ‘n kamp hoe wonderwerke gebeur, bene aangroei en skeletongenesing onder gebed plaasvind. Ek kan nie vir my eie oë lieg (slimwoorde en gladkommentare op ‘n web mag miskien) maar dit wat jy werklik ‘sien’ gebeur voor die oog, is blywend in gemoed.

     

    Hierdie dinge is in my wese ingebou en mag outomaties uitstraal sonder dat ek dit agterkom. Ek sal volgende keer wyser optree en met meer intensiteit na die angel van die perdeby in die natuur staar ...

     

    Henn,

    ek is bly dat ek jou fokus bietjie weer na die dinge in die lewe kon laat draai wat saak maak. Ek mis jou liefdeshart. En ongelukkig is ek bewus van elke kwaai woord (en gedagtes) wat jy op hierdie werf skryf ...

     

    Wouter,

    miskien was die steek van die angel nodig?

     

    Jan Rap,

    dit lieg jy – jy het nie na die sandale gekyk. Maar na die bene. Terwyl jy veronderstel was om die insek raak te sien! Ek is so bly mans is gemaak om die mooi dinge in die lewe te waardeer ...

  • Beste Trienie

     
    Jy kon nie weet dat ek lief is vir die natuur nie en jy het op 'n bedekte wyse 'n steek ingekry na my en my "makkers"! Wouter het dit ook opgelet en jou kommentaar aan hom wys dat jy deeglik bewus was daarvan.
     
    Ek wil egter nie in 'n woordewisseling met jou betrokke raak nie, want ek weet ek kan jou nie oortuig omtrent my siening nie, netso min as wat jy my kan oortuig. Ek geniet altyd jou mooi verhale en foto's.
     
    Jy moet dalk net weer opvolg oor die bene wat aangegroei het en die skeletgenesing by jou kamp. Ek is baie skepties oor sulke "wonderwerke", want daar is altyd 'n storie van bedrog hierby betrokke.
  • Trienie, wie sal nou na goggas kyk met mooi bene in die omgewing?  Terloops, hoekom gebruik jy nie die dubbele negatief nie?

  • CorneliusHenn

    Ag nou ja Korporaal Mahne... dis werklik tragikomies hoe jy my met dieselfde strydlustigheid as die patetieke bleeksiel Wouter Ferns aanspreek; dit wyl jy vir "Perdebytjie en haar makkers", ewe moederlik as jou kleintjies deur die skepping probeer neem, en jy dan ook jouself weer net so ewe danig tot Kobus de Klerk en sy aanhangers, op hul voorname rig ... wat van Jaco Fourie se homo-mojo en noem my ter wille van afwisseling, sommer ook maar net "Neelsie"? - solank jy net nie daarmee voorgee dat jy my hoegenaamd ag nie ... hel ja-nee, ek kom ook maar net nie verby jou gemaaktheid nie ... derhalwe sou ek ook nie juis omgee om 'n bietjie meer besonderhede omtrent jou "sweeping statement" in aanklag teen my te wou het nie ... maar nou ja, 'n mens is al gewoond aan jou "vinger in die oog druk en hol taktiek"  (ek verwag lankal nie meer enige billike rede van jou nie - had jy maar hierdie keer ook geswyg) ... jou kombersie is gesprei en die res is maar aan my verbeelding gelaat - wat jy ookal daarmee sou bedoel ... ek wil jou egter die versekering gee dat my kussing sag is oor hoe ek myself met jou, en enige van die ander boosdoende dwepers hier voer (gelowig en ongelowig) - bygesê, dat ek ook nog altyd net die hoogste waardering vir enige grondige kritiek teenoor my as persoon het! ... (glimlaggie sonder om te knip), Cornelius Henn

     

  • Ai ai ai Henn (sug) - jy is soos 'n blikkie Coke. Mens kan nie waag om jou te skud of aan te raak ...

    Jan Rap - jy het my vreknuuskierig nou ...

  • CorneliusHenn

      (die volgende is bloot net vir die pedagogiese waarde daaraan; om hierdie soort egotistiese dwepery van Trienie onder die mantel van Godsdiens, met 'n proef aan te toon)  ... en ai tog Korporaal Mahne, wat sal jy jou kommentaar aan my hierbo, dit enigiets behalwe 'n geskuim noem?

     

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top