PEN Afrikaans is ’n skrywersvereniging wat nie net vryheid van uitdrukking en skrywersbelange plaaslik en internasionaal dien en bevorder nie, maar hom as organisasie ook vir gelyke taalregte in ’n meertalige konteks beywer. Teen hierdie agtergrond neem PEN Afrikaans met kommer kennis van klousule 4 van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (“die wetsontwerp”) wat op 13 Oktober 2017 gepubliseer is vir openbare kommentaar.
Klousule 4 van die wetsontwerp bepaal dat die taalbeleid in openbare skole, wat onder die bestaande wetgewing deur die beheerliggaam van die betrokke skool bepaal word, voortaan onderhewig sal wees aan goedkeuring van en hersiening deur die betrokke provinsiale onderwysdepartement.
PEN Afrikaans neem kennis dat die wetsontwerp faktore voorskryf wat die onderwysdepartement in hul besluitneming oor ’n skool se taalbeleid in ag moet neem. Desnieteenstaande is dit volgens PEN Afrikaans kortsigtig en ondeurdag om ’n staatsinstelling wat verwyderd is van die unieke samestelling en behoeftes van die betrokke skoolgemeenskap seggenskap te gee oor die taalbeleid wat daar gevolg moet word.
Die gevaar bestaan dat die bewese waarde van moedertaalonderrig in die proses uit die oog verloor sal word en dat gedwonge verengelsing ’n realiteit kan raak.
Artikel 29(2) van die Grondwet verskans die reg om in openbare onderwysinstellings onderrig te ontvang in die amptelike taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenbaar is.
PEN Afrikaans is dit verder eens met die Girona-Manifes oor Taalregte, ’n inisiatief van die Vertaal- en Taalregtekomitee van PEN Internasionaal, wat onder meer meld: skoolonderrig moet bydra tot die aansien van die taal wat die gemeenskap in die gebied praat.
Die gemeenskap, wat in die geval van skole verteenwoordig word deur ’n verkose beheerliggaam, is volgens PEN Afrikaans die beste geplaas om besluite oor voertaal te neem.
PEN Afrikaans doen daarom ’n beroep op die Departement van Basiese Onderwys om af te sien van staatsinmenging by die taalbeleid van openbare skole. Dit kan uiters nadelige gevolge hê.
Die uwe,
Marga Stoffer
Voorsitter: PEN Afrikaans
Kommentaar
Stem volmondig saam.
Ek steun die standpunt een honderd persent.
Stem saam. Onderseun die beswaar.
Dit lei geen twyfel dat moedertaal-onderrig die taal van keuse moet wees op skoolvlak en selfs voorgraads. Ons sit reeds met 'n onderwyskrisis in ons land en kinders moet onderrig word in 'n taal wat hulle verstaan om abstrakte begrippe te interpreteer.
Goeie samevatting.