PEN Afrikaans Nuusbrief: Desember 2014

  • 0

1.

Dit is lekker om die afsluitingsbrief van vanjaar op ’n positiewe noot te kan begin. Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans, het in die eerste week van Desember op ons versoek deelgeneem aan PEN International se weeklange kongres in Johannesburg vir hul Afrika-lede uit lande met Statebondsverbindtenis.

PEN Afrikaans se deelname aan dié kongres was uiteindelik van besondere belang – nie alleen omdat dit vir die internasionale literêre gemeenskap ’n baie duidelike teken gegee het dat PEN Afrikaans besig is met belangrike werk vir die inheemse tale wat plaaslik onder beleg staan en toenemend ’n ondergeskikte rol jeens Engels moet verrig nie, maar ook omdat PEN Afrikaans ’n versoenende rol kon speel binne ’n groter Afrika-konteks.

Ek stel Danie self aan die woord:

Die PEN-kongres van Afrika-PEN-sentrums in Johannesburg, 30 November – 5 Desember 2014

In die eerste week van Desember het ek deelgeneem aan die PEN-kongres in Johannesburg vir hul Afrika-lede uit lande met ’n Statebondsverbintenis. Die kongres is befonds deur die Statebond en Finlandia, en is bygewoon deur drie ampsdraers van PEN International uit hul hoofkantoor in Londen – Romana Cacchioli ("Director of International Programmes"), Sarah Clarke ("International Policy and Advocacy Officer") en Paul Finegan ("Centres & Committees Officer"). Afgevaardigdes van PEN South Africa, Ghana, Kenia, Malawi, Uganda en Zambië het hul onderskeie sentrums verteenwoordig.

Gedurende die week het die verteenwoordigers van elke sentrum die geleentheid gekry om hul werk en projekte voor te stel. Verskeie temas, relevant tot PEN International se visie en missie is indringend bespreek – dikwels in gesprek met gassprekers, waaronder prof. Anton Harber (WITS, joernalistiek), Alan Finlay (digter en joernalistiek-dosent by WITS), Makhosazana “Khosi” Xaba (skrywer sowel as gay- en vrouregte-aktivis), regter Edwin Cameron (skrywer en aktivis vir gay-regte), Mandla Langa (digter, romansier en prominente kulturele administrateur) en Carole Bloch (moedertaalonderrig-aktivis verbonde aan Nalibali en voorheen ’n medewerker van die ontslape Neville Alexander).

Die temas het die volgende ingesluit:

  • vryheid van spraak en uitdrukking in Afrika
  • kriminele laster op die wetboeke van verskeie state wat gebruik word om skrywers en kunstenaars wat die status quo kritiseer, stil te maak
  • taalregte
  • taal- en literêre opvoeding en onderwys
  • vroueskrywers
  • die manier waarop gay-lesbiese en/of gender-identiteitskwessies vryheid van uitdrukking op die kontinent beïnvloed
  • die opbou en versterking van PAN – die PEN African Network.

By terugskoue staan veral twee dinge uit:

  • Al die verteenwoordigers van Afrika-PEN-sentrums het die versugting uitgespreek tot groter ondersteuning van moedertaalonderrig en meer publikasiemoontlikhede in Afrika-tale. Die gebrek aan politieke wil en befondsing om hierdie strewe te verwesenlik, is allerweë betreur.
  • Gay-lesbiese en gender-identiteitskwessies is veel meer heftig omstrede op die Afrika-kontinent as ek vermoed het. Soveel so dat sekere afgevaardigdes verduidelik het hoe bang hulle is om gay-lesbiese regte hoegenaamd te bespreek, aangesien dit daartoe kan lei dat hul regerings as gevolg daarvan dadelik hul steun aan ander PEN-projekte ter bevordering van letterkunde in skole sou onttrek.

Ek is bly om te kan rapporteer dat my deelname aan die debat oor punt 2 deur die afgevaardigdes van PEN International as besonder positief ervaar is. Romana Cacchioli, direkteur van internasionale programme, het die volgende terugvoer per e-pos gegee:

Your contribution to the meeting on race, gender and particularly in the LGBTQI debate were critical – your insightful observations and examples drawn from your own and the centre’s experience helped to dispel the arguments around culture and placed the issues clearly as a ones of freedom of expression and non-discrimination.  It is true the discussions with the Centres on LGBTQI were difficult, perhaps more so than we had expected, but clearly in many African countries this issue is controversial and is driven by conservative and in some places external forces.  Nonetheless and despite the heated discussion I think it was a useful debate, clearly one which we need to have, and one which we will continue to address, it is important for PEN to know that we can count on you to bring an African perspective as hope to provide spaces for dialogue and dedicated support to centres and members around Africa as they seek to challenge powerful homophobic forces.

My voorlegging oor PEN Afrikaans se werk is met groot belangstelling deur die kongresdeelnemers bespreek en uiteindelik baie positief ontvang. Benewens ’n kort uiteensetting oor die projekte wat PEN Afrikaans vanjaar aangepak het en ’n kort toeligting van ons toekomsplanne, het ek as volg gemotiveer hoekom ’n sentrum vir PEN Afrikaans nodig is, hoewel PEN South Africa reeds bestaan:

PEN Afrikaans is noodsaaklik omdat:

  •  ’n beduidende getal Afrikaanse lesers en skrywers in Namibië en elders in die buiteland gevestig is
  •  in ’n land met 11 amptelike tale kan daar nie van een PEN-sentrum verwag word om die literêre kultuur van al 11 tale aktief te bevorder nie – dis gewoon prakties onmoontlik
  • as gevolg van die bevoorregte posisie wat Afrikaans onder apartheid geniet het, sou dit onregverdig wees om te verwag dat PEN South Africa spesiale aandag aan Afrikaanse letterkunde en literêre instellings gee, terwyl soveel ander inheemse tale ’n desperate tekort aan befondsing en ondersteuning het – daar word immers tans nog jaarliks meer Afrikaanse as Engelse boeke in Suid-Afrika gepubliseer
  • baie werk moet nog gedoen word om die wit en nie-wit sprekers van Afrikaans te versoen en nader aan mekaar te bring – PEN Afrikaans hoop om ’n aktiewe rol hierin te speel. Ons wil die proses stimuleer en aanhelp deur moontlikhede vir publikasie en literêre debat te skep.

Ter illustrasie van laasgenoemde punt het ek ’n kort, historiese perspektief gegee en ook die Dookoom-video van “Larney, jou p**s” gewys met ’n Engelse vertaling van die lirieke in ondertitels.

Die Dookoom-video het tot lewendige debat gelei. Verskeie deelnemers het gemeen dié hip hop-proteslied sou wel as haatspraak geklassifiseer kan word, maar wat deur die loop van die bespreking vir almal duidelik geword het, is dat ons hier ’n klinkende, radikale voorbeeld het van die manier waarop die sogenaamde “taal van die onderdrukker” ook die taal van ’n skare onderdruktes en stemloses is. En, nes die voorheen bevoordeeldes, wend verskeie voorheen benadeeldes hulle in oomblikke van blinde woede en verdriet tot hierdie moedertaal.

Ná afloop van die debat het dr. Frankie Asare-Donkoh, president van PEN Ghana, toegegee dat hy, toe daar twee jaar gelede in die algemene vergadering gestem is oor die toevoeging van PEN Afrikaans as erkende PEN-sentrum, daarteen gestem het. Hy sê Afrikaans was vir hom onlosmaaklik deel van ’n koloniale verlede en veral die Soweto-opstande van 1976. Ná my voorlegging en die kongres in Johannesburg het hy egter tot ander insigte gekom en besef die posisie van Afrikaans is veel meer kompleks en verwikkeld as hy gedink het. 

Romana Cacchioli, direkteur van internasionale programme, se terugvoer per e-pos bevestig hierdie positiewe ontvangs:

Lastly, your presentation on the need for an Afrikaans centre and the issues you are addressing around race and language were helpful in dispelling preconceptions, but importantly in explaining that many of the issues you face are in fact shared by other African countries where minority writers and communities are struggling to have their voices and words heard.

Kortom, daar is baie werk. Afrikaans gaan nie outomaties deur die grondwet of enige ander ingryping van buite gehandhaaf en bevorder word nie. Ons taalgemeenskap sal self moet woeker met al die geleenthede tot ons beskikking. Ná die afgelope kongres van Afrika-sentrums in Johannesburg is ek egter oortuig dat PEN Afrikaans breëbors deel geword het van ’n gerespekteerde internasionale skrywersvereniging met ’n ryk, ou tradisie wat hom vir vryheid van uitdrukking en taalregte wêreldwyd beywer.

Vriendelike groete en beste wense vir die feesseisoen

Danie Marais
Bestuurder van PEN Afrikaans

2.

Op 15 Desember het PEN International die volgende verklaring uitgereik:

PEN International, PEN Turkey and English PEN are deeply concerned by the news that five journalists and six screenwriters have been detained as part of a wide-reaching anti-terror probe into the Gülen movement in Turkey. The detained journalists and screenwriters are amongst 31 people who were reportedly taken into custody on 14 December 2014 “on suspicion of involvement in an illegal organisation” following a series of police raids in the cities of Istanbul, Eski?ehir and Van. The arrests have come against a backdrop of escalating political tensions between Turkey’s ruling Justice and Development Party (AKP) and the followers of Islamic cleric Fethullah Gülen. The detained journalists and screenwriters could face lengthy sentences in prison if charges are brought under Turkey’s draconian Anti-Terror Law.

Dit sou uiteraard voorbarig wees om van die kantlyn af uitsprake te maak oor die aanhouding en inperking van Turkse joernaliste en skrywers, veral terwyl daar so min inligting beskikbaar is. Maar wat mens wel kan sê, is dat as daar geen onmiddellike aanklagte of bewyse gebring word nie, sodanige inperkings en aanhoudings onder geen omstandighede gedoog kan word nie. Dit verdien ons teenkanting.

Marthie Momberg van Stellenbosch het onlangs self met die onverbiddelikheid van staatsensuur te make gehad – in Israel. Marthie het die volgende angswekkende verslag gestuur:

“Die Israeli-regering het my onlangs verbied om ’n internasionale konferensie in Bethlehem by te woon nadat hulle my vir elf ure by die Allenby-grenspos tussen die Wes-Oewer en Jordanië aangehou het. Twee van my Suid-Afrikaanse kollegas is deurgelaat nadat hulle vir sewe ure op ’n soortgelyke wyse vertraag is. 

“PEN Internasionaal het op 1 Augustus 2014 ’n verklaring uitgereik om die aanvalle op lede van die media in Gaza te veroordeel. Ek maak voorts beswaar teen die feit dat Israel my nie net gekeer het om ’n vreedsame konferensie in die besette Palestynse gebied by te woon nie, maar ook alle toekomstige besoeke aan Israel en Palestina verbied het in ’n uitgerekte en doelbewuste poging tot intimidasie. Dit terwyl ek geen wet oortree het nie.

“Dié stappe beperk my vryheid as outeur en as navorser en dit dra by tot die toenemend negatiewe persepsies van die staat Israel. 

“Dis ironies dat die tema van die konferensie in Bethlehem ‘Life with Dignity’ was. Dis gehou ter viering van die vyfde bestaansjaar van Kairos Palestina. Die deelnemers het bestaan uit bekende outeurs en akademici van dwarsoor die wêreld wat talle Jode insluit, asook verteenwoordigers van die Verenigde Nasies, die Wêreldraad van Kerke en die media.

“Ek sou op Donderdag 4 Desember ’n lesing lewer vanuit die perspektief van Kairos Suider-Afrika. 

“Die insident het plaasgevind op Maandag 1 Desember 2014. Met my terugkeer na Jordanië se grenspos teen 01:00 op 2 Desember het dr. Molefe Tsele, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Jordanië en een van sy kollegas my ontvang. Hulle het my na Amman geneem waar hulle my gehuisves het totdat ek my reisreëlings kon verander.”

PEN International het reeds kommer uitgespreek oor die vertrapping van joernaliste en skrywers se regte deur Israel. Indien mens planne het om dié land of Palestina te besoek, sal dit raadsaam wees om bedag te wees op sulke verwikkelinge soos Marthie Momberg hierbo beskryf.

3.

Die feesseisoen is ophande. Namens PEN Afrikaans ons beste wense vir die groot dae wat voorlê, en mag die nuwe jaar vir al ons lede buitengewone kreatiwiteit en inspirasie bring!

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top