PEN Afrikaans Nuusbrief: Augustus 2014

  • 0

1.

Twee onverwante sake van die afgelope ruk laat die gevaarligte flits. Die een is Hlaudi Motsoeneng, uitvoerende hoof van die SABC, se versugting dat alle Suid-Afrikaanse joernaliste geregistreer moet word alvorens hulle as joernaliste mag werksaam wees. Die ander is Vredendal se versoek dat Steve Hofmeyr nie toegelaat moet word om op te tree by die Namakwafees op Vredendal nie.

Hoe ’n mens ook daarna kyk, is albei verteenwoordigend van die soort bekrompe denke wat in die apartheidsjare aanleiding gegee het tot staatsensuur, en in Nazi-Duitsland en in die Sowjet-Unie tot die effektiewe beheer van wat joernaliste mag doen.

Dit gaan nie oor joernaliste wat destyds en nou steeds geaffilieer en geregistreer is by nasionale en internasionale liggame nie, en waardeur in effek net bewys gelewer word dat hulle meer is as gewone bloggers. Dit gaan oor ’n  mediareus wat strukture wil skep waardeur joernaliste wat die wêreld vir magshebbers warm maak, hokgeslaan kan word.

Indien Motsoeneng voortgaan met sy planne, is dit iets waarteen skrywers en joernaliste in alle felheid stemming moet maak.

In Vredendal se geval is die sensuur baie meer blatant. Hofmeyr het homself in sekere kringe baie gewild gemaak deur sy promovering van – onder meer – Die Stem, en in ander kringe weer ongewild, omdat dit ’n lied is wat met die ou apartheid-regime geassosieer word en slegs in gestroopte weergawe deel is van ons volkslied omdat dit só ’n breër nasionale belang dien.

Ongeag van wat ’n mens se mening oor Hofmeyr is, kan Vredendal se optrede teen hom nie goedgepraat word nie. Sy vryheid van spraak word op die ergste manier geskend deur ’n daad van sensuur. Om sake te vererger, het die optrede teen Hofmeyr gelei tot die afstel van die hele fees. Een daad van sensuur met baie groot gemeenskapsimplikasies.

In ’n demokratiese staat is die aangewese manier om jou afkeer van Hofmeyr se dade te laat blyk baie eenvoudig – as hy jou nie aanstaan nie,  moenie na hom gaan luister nie. Hy sal baie gou die boodskap kry. Maar laat diegene wat hom graag wil hoor toe om te gaan luister.

Afrikaanse skrywers was in die verlede, veral deur die Afrikaanse Skrywersgilde, van die voorste vegters teen staatsensuur. Dit lê op PEN Afrikaans se weg om die stryd voort te sit.

2.

Dit is vir my aangenaam om besonderhede te kan bekend maak oor PEN Afrikaans se eerste groot boekprojek.  Die agtergrond hiervan is die agteruitgang van biblioteke by skole. Die toegang tot boeke – en veral Afrikaanse boeke – is kommerwekkend en veroorsaak dat baie leerlinge nooit bewus word van die voordele en verryking wat ’n leeskultuur bring nie.

Ons moet iewers begin om die probleem aan te pak , en om praktiese oorwegings het ons besluit om  dit te koppel een van ons bestuurslede se huidige betrokkenheid by gemeenskapswerk.

Bettina Wyngaard, ’n gekoöpteerde bestuurslid van PEN Afrikaans, het ’n opsomming van die huidige situasie in die Grabouw-distrik in die Wes-Kaap gemaak. Sy bevind:

  • Baie biblioteke word deur mediasentrums vervang, met rekenaars en dies meer;
  • Elke skool ontvang 50% van hulle begroting vir leerderondersteuning, en daarvan word 10% toegesê  aan biblioteke. Hulle word egter nie gemeet aan hulle biblioteke nie, maar wel aan goed soos wiskundegeletterdheid. Die meeste hoofde skuif dus daardie 10% na ander projekte, en veral instandhouding, wat onderbegroot is in die meeste skole;
  • Die skole wat wel een of ander vorm van biblioteek het, het nie personeel om dit te beman nie. Dit word dus aan elke onderwyser oorgelaat of hulle ekstra werk vir hulleself wil skep deur ook biblioteekdiens te doen. Die meeste stel nie belang nie. Die meeste hoofde plaas ook druk op hulle onderwysers om eerder op Wiskunde te konsentreer.
  • Baie skole het ook nie akkommodasie vir ’n biblioteek nie
  • Die gevolg is geweldige leesverarming. Hulle vind ook dat leerders in staat is om ’n stuk perfek te lees, maar hulle het g’n begrip van wat hulle lees nie, en kan nie verduidelik wat die stuk probeer sê nie.
  • Baie onderwysers het ook ondersteuning nodig, want hulle het ook nie ’n breë leeservaring nie.

Voorts moet ook rekening gehou word met plaasskole wat té ver uit die dorp is om met gerief van die dorp se biblioteke gebruik te kan maak; hoofde wat bereid is om ook ouers toegang tot die biblioteek te gee, sodat ouers en leerders dit kan gebruik; hoofde en onderwysers wat toegewyd is en bereid is om ekstra werk in te sit; huidige infrastruktuur; ’n verarmde gemeenskap en ten slotte die mate waarin ouers betrek kan word – en bereid is om betrek te word.

Uiteindelik het Bettina drie skole geïdentifiseer waar ons sou kon begin om betrokke te raak:

  • Dennegeur – hulle personeelkamer doen diens as biblioteek. Dit beteken kinders moet die fasiliteit gebruik terwyl onderwysers sit en eet, of merk, of wat ookal –  wat nie ’n gewenste toestand is nie. Daar is onvoldoende boeke, en niemand wat diens kan doen in die biblioteek nie.
  • De Rust skool – hulle het ’n mediasentrum/biblioteek. Die hoof het onlangs skenkings  van oorsee gekry om boeke aan te koop, en hy is ’n ywerige fondsinsamelaar. Ons mening is dat hulle ’n biblioteek op die been kan bring sonder ons hulp.
  • Maxonia –  hulle het nie akkommodasie vir ’n biblioteek nie en ook nie boeke nie. Daar is niemand wat verantwoordelikheid kan neem indien ’n biblioteek tot stand sou kom nie.

Om praktiese redes sal ons eerste op Dennegeur fokus.

Wat behels ons betrokkenheid? Volgens Bettina is dit heel eenvoudig: Alle lede van PEN Afrikaans in die Wes-Kaap word versoek om enige boeke wat hulle geskik ag te skenk. Laat weet eenvoudig per e-pos of jy sulke boeke het, en tussen my en Bettina sal ons ’n plan maak om dit te versamel en by Dennegeur te besorg.

Indien enige PEN Afrikaans-lede elders in die land ’n bydrae wil maak, sal dit verwelkom word. Tree net met my in verbinding daaroor.

Uiteraard sal die bestuur van PEN Afrikaans ook kyk na maniere om fondse te in vir die aankoop van boeke, maar ter wille van die vestiging van die projek as stelsel laat ons dit vir eers buite rekening.

Ek hoor graag van julle!

3.

Andries Visagie van die Afrikaanse Letterkundevereniging het ’n kennisgewing aangestuur oor dié vereniging se Raakvlakke-kongres, wat van 30 September tot 2 Oktober by die konferensiesentrum van die Universiteit van Pretoria in Hatfield, Pretoria gehou word. Ek haal graag uit sy kennisgewing aan:

“Na verwagting gaan die skrywers en digters by die kongres die res van die verrigtinge in die skadu stel. Maar ons gee nie om nie – literêre kritici beweeg in elk geval heel dankbaar in die kielsog van kreatiewe skrywers. Marlize Hobbs (Flarde en Score my ’n gwai), Loftus Marais (Staan in die algemeen nader aan vensters en Kry my by die gewone plek aguur) en Henning Pieterse (onder meer Alruin, Omdat ons alles is en Die burg van hertog Bloubaard) gaan aantree om vir die kongresgangers ’n vars blik op hul skryfwerk te gee.

“Sommige sprekers by die kongres is duidelik van plan om lekker ondeund met die kongrestema om te gaan en raakvlakke gaan blykbaar met groot vrymoedigheid verken word. Martina Vitackova (’n Tsjeg wat tans by die Universiteit van Pretoria werk) sal ongetwyfeld aandag trek met haar referaat oor nuwe erotiese verbintenisse in die Afrikaanse literatuur deur vroulike outeurs. Die titel van haar referaat is “En biedêm met die snobs en die sinici.” Uit Stellenbosch kom Francis Vosloo met die volgende vorendag: “Om jou bloes uit te trek op ’n balkon in De Waterkant”, en beloof dan stemmig dat sy eintlik gaan praat oor die fiksionalisering van vertaalteorie in Antjie Krog se 'n Ander tongval.

“Gerekende figure uit die literatuurwetenskap sal oudergewoonte aan die akademiese gesprek deelneem. Daar sal ongetwyfeld belangstelling wees vir Louise Viljoen se referaat oor Breyten Breytenbach. Sy gaan praat oor die topos van uitwissing in Breytenbach se meer onlangse digbundels. Marisa Keuris, sameroeper van die vorige ALV-kongres by Unisa, staan gereed met ’n interessante studie oor die dramas wat oor die jare oor die Fischer-familie geskryf is, naamlik Die Geheime Bloemfontein-Konferensie (1938) en Die Bram Fischerwals (2011). Bernard Odendaal van die Noordwes-Universiteit beplan ’n referaat oor die benutting van niestandaardvariëteite van Afrikaans in die digkuns sedert Sestig.

“Dit is opvallend dat daar tydens die kongres talle referate gaan wees met die Afrikaanse poësie as fokus. Die ALV-bestuurslede Phil van Schalkwyk en Marius Crous gaan albei referate oor die poësie van T.T. Cloete lewer. Marius Crous doen ondersoek na die armes en agtergesteldes in die Suid-Afrikaanse samelewing soos aanwesig in Cloete se werk en Phil van Schalkwyk besin oor verbande met die metaphysical poets in sy studie van Cloete se jongste bundel Karnaval en Lent.

“Dit is verblydend dat ’n stewige groep kongresgangers vanjaar uit die buiteland afkomstig is. Uit Pole is ’n goeie aantal literatore op pad. Jerzy Koch van Poznan gaan Mijn zuster de negerin van die Antilliaans-Nederlandse skrywer Cola Debrot herlees met verwysing na die motiewe van melancholie en neerslagtigheid aan die hand van onder meer Eugène N. Marais se “hesperiese neerslagtigheid”. Uit België beloof Yves T’sjoen om die jongste aflewering in sy navorsing oor Karel Jonckheere met die ALV-kongresgangers te deel. Hierdie keer gaan hy hom toespits op Jonckheere as bemiddelaar van die Vlaamse literatuur in vertaling. Ted Laros (Oldenburg in Duitsland) gaan krities kyk na die hofsaak in 1974 oor André P. Brink se destyds omstrede roman Kennis van die aand. Hy stel spesifiek belang in die rol van buitelandse literatuuropvattings wat in die hofsaak ’n rol gespeel het.”

“Die kongres word voorafgegaan deur ’n werkswinkel vir nagraadse studente in die Afrikaanse letterkunde op 29 September. Daarin sal die studente leiding ontvang oor onder meer die publikasie van hul navorsing in vaktydskrifte en die skryfskole by verskillende universiteite wat uitmuntende werk doen om jong kreatiewe skrywers in hul werk te begelei. Die belangrikste doel van die werkswinkel is egter om nagraadse studente die geleentheid te gee om referate oor hul eie navorsing te lewer en om nuttige wenke van hul portuurgroep en van ervare akademici oor die voortsetting van hul werk te ontvang. Die studente wat wil, sal dan met inagneming van die terugvoer wat hulle tydens die werkwinkel ontvang het by die hoofkongres hul werk met die res van die kongresgangers kan deel as volwaardige deel van die hoofprogram.

“Die werkswinkel gaan afsluit met ’n toer van die UP-kampus en ’n musiekkonsert Skemerpad wat sal sentreer om die toonsettings deur Franco Prinsloo van Afrikaanse gedigte. Kongresgangers wat slegs die hoofkongres gaan bywoon, is welkom om ook na die besonder mooi toonsettings van Franco Prinsloo te kom luister en saam te kuier tydens die skemerkelkie wat ná die konsert sal volg.

“Die goeie nuus is dat danksy ’n ruim borgskap, voltydse nagraadse studente die werkswinkel en die hoofkongres gratis kan bywoon. Slegs die spogdinee wat beplan word, is vir hul eie rekening indien hulle dit wil bywoon.

“Moenie die kans verbeur om woelige en wakker geeste van die Afrikaanse literêre bedryf soos Willie Burger, Neil Cochrane, Franci Greyling, Joan Hambidge, Thys Human, Amanda Lourens, Jacomien van Niekerk en nog vele meer, mis te loop nie. Spring aan die werk en kom praat saam oor die verskillende raakvlakke in die Afrikaanse literatuur!“

4.

Ek heg hierby aan ’n Excel-legger met inligting oor Afrikaanse boeke wat die afgelope maand (Augustus) verskyn het. Enkele uitgewers het nog nie van hulle laat hoor nie.

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

Klik hier om die Excel-legger af te laai: Nuwe Afrikaanse boeke – Augustus 2014

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top