Pelgrimshoop deur Ronel Nel: ’n resensie

  • 3

Pelgrimshoop
Ronel Nel

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383119

Dit is die jaar 1956. Suid-Afrika verkeer stewig in die greep van apartheid. Gemeenskappe en individue se lewens word meer en meer deur die stelsel geraak en dikwels uitmekaargeskeur.

Binne hierdie tydsgreep kom Hannah de Witt as privaatonderwyseres vir ’n boer op die fiktiewe dorpie Pelgrimshoop in die hart van die Laeveld aan. Sy word vergesel deur haar jonger broer Abram, wat vir my een van die interessantste karakters in die boek is. Aanvanklik is die redes vir die ietwat eienaardige reëlings effens wollerig, maar dit word mettertyd duideliker waarom die twee op so ’n outokratiese wyse deur hul andersins goedige pa na Bartelheim gepos word en ook waarom hulle dit toelaat.

Hannah en Abram se koms gaan nie ongesiens op Pelgrimshoop verby nie, want Hannah en Abram pleeg die amper onvergeeflike sonde: hulle is anders. Nie net is hulle kleredrag en informele optrede vir die plaaslike inwoners vreemd nie, maar hulle is boonop half-Joods met ’n wyer wêreldsbeeld en ruimer lewensuitkyk as die mense wat hulle hier teëkom.       

Elias Bart is die baas van Bartelheim en Hannah se “leerling”. Die naam het my onmiddellik aan Jan van Melle se Bart Nel laat dink, en ten regte ook. Op bl 23 trek Hannah self ook die lyn tussen die twee Barte wanneer sy haar leerling aan die letterkunde bekend stel. “Twee Barte. Een in haar kamer tussen blaaie en een aan die ander kant van die heelal, hier op die plaas.” Elias Bart is terughoudend, selfs nors, en meng nie met die ander boere nie. Boonop is hy ’n soort perdefluisteraar wat sy perde se vertroue wen en sonder dwang of geweld met hulle werk. Sy sukses met sy unieke boerdery lei onvermydelik tot jaloesie en wanneer die twee vreemde gaste boonop op sy plaas tuis raak, dryf dit sy verhouding met die gemeenskap op die spits.

Op die oog af is Pelgrimshoop ’n geslaagde historiese liefdesroman. Die ontwikkeling van die verhouding tussen die vurige Hannah en die terughoudende Elias word subtiel, maar oortuigend uitgebeeld. ’n Mens kan wel redeneer dat Elias se naïwiteit aangaande die dinge van die lyf nie heeltemal geloofwaardig is nie, maar dit help wel om die spanning tussen die twee uiteenlopende persoonlikhede verder te verhoog en bring ook oomblikke van humor in die andersins ernstige verhaal. Die liefdestonele word fyn geteken en die leser word nie met clichés gebombardeer nie. In hulle intiemste oomblikke bly die skadu van humor ook nie uit nie (“... dat hy niks kan doen nie./ Toe onthou hy weer van die klavierspelery./ Vingers wat oor die note streep. Nou en dan oktawe gryp en plunder./ Elias Bart volg vir Mozart in die diepstes van sy begeerte en sy verlange in ...”).

Hoewel die twee mekaar vind en die roman op ’n positiewe noot eindig, besef die leser maar alte goed dat daar vir die mense van Bartelheim geen gemaklike toekoms voorlê nie, gegewe die tydvak waarin die storie afspeel. Mettertyd sou die tentakels van apartheid wel ook tot op die afgeleë plaas reik en mense se lewens ontwrig. (Hieruit sou natuurlik ’n nuwe roman kon vloei, as die skrywer so sou voel.)

Op ’n dieper vlak is Pelgrimshoop egter ’n studie van wat dit ’n individu kan kos om “anders” te wees. Mettertyd word dit duidelik dat elke lid van die uitgebreide “familie” op Bartelheim op sy of haar eie manier anders is. Bartelheim word die toevlugsoord vir diegene wat nie elders inpas nie. Binne die politieke bestel van die tyd is dit onvermydelik dat ras ’n groot rol in die verdeling van mense sal speel, maar ander omstrede (veral vir daardie tyd) sake word ook aangeraak. Elias en Hannah word die twee figure wat sterk genoeg is om hierdie andersheid nie net te verdra nie, maar ook te omhels. Saam vorm hulle die basis vir verskeie interessante figure om ook ’n plek van veiligheid en aanvaarding te vind. Die leser weet egter dit kan slegs ’n tydelike toestand van rus en vrede wees.

Die teenpool van Hannah, Elias en hulle kring word deur Vliet Vorster en sy vriende uitgebeeld. Vliet word deur jaloesie en ’n vrees vir verandering gedryf en sleep sy drinkebroers met hom saam. Aanvanklik is die uitbeelding van hierdie groepie betreklik eensydig en strook dit met die opvatting van die bekrompe boer wat teen verandering skop en nie vir homself kan dink nie. Later is daar egter wel pogings tot ’n meer realistiese tekening van die manne en word veral Kareltjie van Aswegen ’n meer veelkantige karakter.

Die besondere skryfstyl val dadelik op en versterk die dinamika van die verhaal en verhoog die tempo. Kriptiese stellings wissel langer paragrawe af en help dikwels effektief mee om die spanning te verhoog. (“Die vertrek ruik na oorlog./ Of ten minste na ’n kleinskaalse rebellie./ ‘Maar Pappa!’ en ‘Die hings snuif, hy’t sag nader aan Elias geloop en wei./ Hy ruik hom./ Hulle ruik mekaar.’”) Die skrywer is ongetwyfeld deeglik in beheer van die taal en telkens duik ’n juweel onverwags op. (“’n Verskuilde son wat vaag agter vlae stof lê, moegdonker bome geëts teen ’n grys en donker lug” en “Die bos sit wagtend op die voorstoep van die beskawing.”) Ook Hannah besef dat die woord die middel is wat uiteenlopende geesteswêrelde met mekaar in verbinding kan bring. (“Hulle lewe in wêrelde so ver van mekaar dat dit maklik is om vervreemd te raak. Maar dan besef sy ook: Die krag van die woord bly die middelman.”)

Die historiese aspek van die roman word besonder knap hanteer. Telkens word ’n vergange tydvak se lewenswyse en omgewing so geteken dat dit selfs jonger lesers helder voor die oog sal staan. Slegs in die toneel waar hulle by Hannah se ouers in die stad kuier, kom haar vertellings van haar kinderdae ietwat gedwonge voor, asof dit uitsluitlik daar is om ’n klomp interessante inligting oor die leefwyse van die Afrikaner in daardie tyd uit te beeld. Heelwat aandag word aan die motors van die tydvak gegee en Hannah se entoesiasme (nog iets wat haar anders maak) vir die rygoed steek selfs ’n nie-entoesias aan. Dis duidelik dat die skrywer fyn navorsing gedoen het, maar feite alleen is nie genoeg om atmosfeer te skep nie. Dis hoe daardie feite aangebied word wat bepaal of die tydvak vir die leser lewend word. In Pelgrimshoop is dit beslis die geval.

Vir my is die beskrywing van die vroueoptog na die Uniegebou op 9 Augustus 1956 die hoogtepunt van die verhaal. Hierdie enkele ware historiese gebeurtenis verleen onteenseglike gewig aan die roman. In haar verduideliking van die situasie aan Elias skets Hannah ook vir die hedendaagse leser besonderhede oor die meedoënlose ontplooiing van apartheid wat nie noodwendig vir almal bekend sal wees nie. Die waardigheid en kalmte waarmee die optog gepaard gegaan het, staan in skrille kontras met wat ons nou feitlik daagliks in ons hedendaagse werklikheid sien gebeur.

Die voorbladontwerp kom aanvanklik effens outyds voor en skep die indruk van ’n vroeëre tydperk. Soos die verhaal ontplooi, kom die toepaslikheid van die mistige beeld van die enkele man op sy perd egter na vore. Ook die titel is funksioneel, in die sin dat Hannah telkens na die groepie mense waarvan sy deel word, as pelgrims verwys en dat sy gedurig die hoop voor oë hou dat elke individu sy/haar plek in die groter bestel kan vind.

Pelgrimshoop kan op meer as een vlak gelees en geniet word en behoort by ’n verskeidenheid van lesers aanklank te vind. Hopelik is dit nie die laaste roman uit Ronel Nel se pen nie.

Foto van Ronel Nel: Izak de Vries

  • 3

Kommentaar

  • Micky Badenhorst

    Dankie Alta vir 'n gebalanseerde resensie, alhoewel ek nie met alles saamstem nie. Mi is die historiese agtergrond nie altyd oortuigend nie - die vrouemars na die Uniegebou kon meer intens aangebied word.
    Jou insigte oortuig my egter om Pelgrimshoop weer te lees! Rustenburg-leeskring bespreek die boek Dinsdag 27 Maart 2018.
    Groete!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top