
“Paulus, Gary, Teboho” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
*
Paulus, Gary, Teboho
Teboho doen sy laaste kontrole van voorraad en die dag se verkope. Hy kyk dat al die inligting op die baan se webblad korrek is. Môre se kompetisie se tye is op. Daar is nog ’n paar oop plekke. Hy skrap die inskrywings wat laatmiddag gekom het van die beskikbare lys. Log out. Shut down.
Met vreugde in sy hart steek hy sy nuwe Suzuki Fronx se sleutel in sy sak. Hy aktiveer die alarm, trek die proshop se deur agter hom toe en sluit terwyl hy sy kruk teen die kosyn laat leun. “Cheers, Gary!” hoor hy uit die rigting van die caddymaster se kantoortjie. Sonder om op te kyk weet hy dis oom Dolf wat daar verby loop.
Die ou man loop al met moeite. Hy speel deesdae sy gholf met ’n karretjie, soos die moderne neiging maar is. Hy is drie-en-tagtig en slaag dikwels daarin om die baan te speel in minder houe as sy ouderdom. Een van baie min mense wat breaking your age ooit vermag. Ook een van baie min mense wat Teboho nog Gary noem.
***
Gary voel versigtig met sy voete terwyl hy deur die waterhindernis regs van nommer sestien se setperk waad. Dis die beste plek om balle te soek. Die Boere se gholf is baie soos hulle politiek. Hulle neuk alewig regs. FW de Klerk het nou wel eerste minister geword; kamma meer progressief as Botha. Dis ’n kakstorie. Die een Boer is soos die ander.
Hy vrek van die koue. Balle-soek in Julie is nie grappies nie. Die vroeë skemer van die wintersaand is op hom. Sy oes vir die middag is ’n skrale sewe balle in die plastiekwinkelsak wat hy om sy gewrig knoop. Sy eie balle is weggetrek in sy lyf; sy balsak gekrimp soos ’n gedroogte pruim. Hy byt vas. Nog een; hy kort ten minste nog een.
Tussen die dun riete kry hy nog een. Hy tel dit versigtig met sy tone op. Van die ander caddies wat balle kom soek, duik met hulle koppe onder die water in om balle uit te haal. Gary is nie so dom nie. Die gholfbaan se water kan jou siek maak. Wat help dit jy veg om oorlewing en jy maak jouself siek?
Hy druk die bal met sy regtervoet se tone teen sy linkerbeen vas en skuif dit versigtig boontoe. By sy knie kry hy dit beet. ’n Splinternuwe Titleist! Hiervoor hy tweerand kan kry. Sy dag lyk sommer beter.
Hy klim teen die steil wal uit en kry sy pasboek waar hy dit onder ’n bos weggesteek het. Nou is dit éérs koud. Hy kan nie wag om tussen die warm lywe in die taxi te sit nie. Hy weet die ousies gaan moan: “Hey Wena!” oor sy nat lyf en klere.
In die lokasie wag sy ma met ’n ou handdoek wat sy by haar miesies gekry het en ’n warm kombers. Sy weet Maandag beteken hy staan voormiddag langs die pad om die vorige Maandag s’n te verkoop. Teen die namiddag as alles verkoop is, soek hy balle in die water. Maandag is die enigste dag wat die gholfbaan gesluit is. Dan is daar nie Boere wie se sakke hy kan dra nie. Op Sondae speel party Boere, maar die klubhuis maak nie oop nie. Dan word jy sommer verjaag as jy wil gaan balle soek. Dis nie die moeilikheid werd nie. Dis die Boere se heilige dag; hulle mag nie drank koop of caddies betaal nie.
Op pad taxi rank toe kyk hy uit gewoonte vinnig in sy pasboek. Teboho Paulus Marumo. Teboho is wat sy ma en die ander ousies hom noem, en sy pa en die ooms as hulle tuis is met verlof by die myn. Alle tantes is ousies. Hulle almal maak skoon agter Boere se morsige gatte, vee hulle kinders se snotneuse af en maak hulle met liefde groot. Liefde wat hulle tap by dieselfde fontein waar hulle liefde vir hulle eie kinders ook tap.
Paulus is wat die Boere by die baan hom noem. Dis die naam wat sy ouers hom gegee het vir wit gebruik. Gary is wat die ander caddies hom noem. Hulle weet hy kan speel soos Gary Player, maar wat help dit as jou vel se kleur verkeerd is?
Gary is ’n gewilde caddy onder die Boere. Dinsdag tot Saterdag kry hy omtrent elke dag ’n oggend- en middagspeler. Hy ken sy gholf en sy customers. Vir die meeste gholfspelers moet jy tydens ’n rondte niks sê oor sy swaai nie, al kan jy hom help. Meestal gee hy die regte stok aan voor die Boer vra.
Party wil hê jy moet help met die lyn vir ’n sethou. Om ’n lyn te gee is ’n gevaarlike storie. Partykeer gee die Boer jou sommer ’n klap teen die kop as hy op die verkeerde lyn begin, of te hard slaan deur die breek of so sag dat dit te veel breek. Watter Boer sal sy fout erken as hy ’n caddy kan blameer?
Gary was ’n slim kind maar het gou skool gelos. Bantoe-onderwys is nie vir slim kinders nie. Hy het die Boere se taal geleer. Dit help as jy vir hulle werk. Hy leer homself lees uit ou koerante. Hy spaar geld vir die klubkampioenskappe oor twee weke.
Sy toerusting is gereed. Die Boere gooi nou Dunlop-houte weg wat uit die mode gaan. Elke Boer dink die nuwe TaylorMade stainless steel houte gaan maak dat hy reguit en ver kan slaan. Verrassing, verrassing: As jou swaai kak is, maak dit nie saak wat jy in jou hande het nie.
Saam met die Dunlop-driehout wat die Dolf-Boer vir hom gegee het, het hy ’n paar ou EEE3ZZZ-ysters; ’n drie-, vyf-, sewe- en nege-yster. Hy ken nie die naam van die Boer wat die ysters vir hom gegee het nie. Hy het die ander ysters vir Tsepo gegee. Dis ’n vermorsing. Tsepo kan nie speel nie. Hy het ’n Wilson-wigyster wat ’n Boer in ’n sandput vergeet het en ’n stokou setstok wat hy vir tienrand by die proshop gekoop het. Die ou sak wat vol gate is, het een van die ousies uit haar werkgewers se gemors gehaal en vir hom gebring.
In die kas in hulle makoek hang sy nuwe groen gholfhemp en sy geruite gholfbroek. Hy wil dit dra. Hy het hard gespaar daarvoor, maar sy ma wil niks weet nie. Hy mag dit eers dra vir die toernooi. Hy is deur inlywing. Hy is ’n man, maar sy ma maak nog of sy vir hom kan sê wat om te doen. Een van die dae is hy volgens die Boere se wette mondig. Dan sal hy maak soos hy wil.
Hy sal sy ma wys. En die Boere; vir hulle gaan hy wýs.
Hy het deur die venster geloer na die pryse vir die wenners van die kampioenskap. Die eerste prys is ’n mikrogolfoond en tweehonderdrand. Sy ma wil ’n mikrogolf hê soos haar miesies. Om wat mee te maak? Hulle het nie eens krag nie, maar sy sê as hulle krag kry, dan het sy dit klaar.
***
Terwyl die Fronx se lugversorging oor hom spoel, dwaal Teboho se gedagtes na die tyd toe hy Gary was. Daardie keer toe hy die klubkampioenskap gewen het net voor sy een-en-twintigste verjaarsdag.
Hy het met verbeelding en gevoel houe gespeel waarvoor die Boere net die regte stok kon kies. Hy het die sethoue gelees en met die regte gevoel geslaan. Hy het met drie houe gewen. Drie houe oor agtien putjies is ’n pakslae vir tweede plek en almal verder terug.
Hy kon buite by ’n luidspreker luister na die prysuitdeling. Hulle het die mikrogolfoond en die koevert met die tweehonderdrand vir hom gebring by die caddymaster se hokkie wat daardie dae ’n piepklein wendy-huis was. Hy was bly en bitter gelyktydig. Hy het hulle almal gewys.
Sy ma was so trots. Al die ousies het kom kyk hoe lyk ’n dooie mikrogolfoond in ’n makoek. Hy was op die kruin van die golf. Die volgende paar weke het die Boere geleer hy is Gary, die professor van gholf. Sommige boere het hom meer as die gewone fooi betaal. Daar was ’n kans dat hy vir die wêreld kon wys gholf is nie net die wit man se sport nie.
Toe jaag die taxibestuurder van die pad af, by ’n hoë wal af. Mense is dood, sy linkerbeen het skeef gestaan en sy rug sou nooit weer dieselfde wees nie. Wat die lyf gebreek het, het die kop genees.
Oom Dolf het wit mense bymekaargekry om vir sy operasies te betaal, hom te help om matriek te maak. De Klerk het toe wragtig apartheid gestop. Madiba het president geword.
Teboho is nie meer in die algemeen Gary of Paulus nie. Hy maak ’n middelklaslewe as afrigter en bestuurder van die proshop. Sy vrou is nie ’n ousie nie. Sy het ’n graad en alles en ’n werk met ’n kantoor. Sy en die kinders is trots op hom al loop hy met ’n kruk.
Die wit mense – en baie swart mense ook – betaal hom goeie geld om hulle kinders te leer gholf speel. Wie het ooit gedink dit sal gebeur dat swart mense geld het vir gholf?
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

