![]() |
|
Sêgoed van Patrick Petersen “Maar in ’n tyd soos hierdie waar Afrikaans gemarginaliseer word, het ons elke skrywer in Afrikaans nodig sodat ons mekaar aan die skoenrieme kan optrek om Afrikaanse skryfwerk te laat gedy.” (Insig, November 1996) “Poësie is in hierdie stryd om Afrikaans ’n magtige stuk gereedskap, ’n beitel wat nog nie sy volle potensiaal in swart Afrikaanse skryfwerk bereik het nie. Die feit is dat digwerk ook ’n ander funksie kry in sy swart betrokkenheid: boodskapdraer van die mense.” (Rapport, 15 September 1985) “Digkuns wil die kuns wees wat die swartman direk aanspreek. In dié sin moet die poësie selfs negatief en destruktief wees om konstruktief te raak: tot ons vry sal wees. Niks in Suid-Afrika is neutraal nie, niemand in Suid-Afrika kan neutraal skryf nie.” (Rapport, 15 September 1985) Sy visie vir Prog-uitgewery: “Our part of the struggle is to make those visions and perspectives public that have been hidden from the broader South African community. We are trying to arrest the culture of silence.” (Oorspronklik uit die Duitse referaatbundel Afrikaans literature – recollection, redefinition, restitution, 1996; aangehaal deur Hein Willemse in Karring van Somer 1997, bl 4) In ’n onderhoud in 1991 met Hein Willemse: “Ons het aangekom by die punt waar die swart stem gehoor word. Oor die afgelope klompie jare het ons in Afrikaanse digwerk ’n ander stem gekry wat anders praat as die wit stem. Vorentoe sal daardie stem belangriker word. Hy sal langs ander bane praat, maar dis ’n stem wat nie geïgnoreer kan word nie.” (Karring, Somer 1997) Met die stigting van die ASV: “Die doel is om Afrikaans tot sy reg te laat kom. Harde en ongenaakbare houdings wat dikwels in eie taalgeledere na vore gekom het, moet plek maak vir versoening, inskiklikheid en ’n toemaar-ons-verstaan-ingesteldheid. Afrikaans kan nie sonder meer met die baba by die agterdeur uitgegooi word nie. … Die kragtigheid van die taal moet juis aangewend word om ’n eiesoortige heropbou-en-ontwikkelings-program ten opsigte van die ander swart tale in die land tot sy reg te laat kom.” (Beeld, 10 November 1995) "’n Taal kan nie geforseer word nie. Afrikaans hoef nie ’n amptelike taal te wees om voort te bestaan nie. Dit moet bevry word deur die gebruiker van die taal. Daarom kan ek nie saamsing in Afrikaans se lyksang nie.” (Beeld, 18 Julie 1991) “Dit is jammer dat mense Afrikaans afskryf as ’n sterwende taal. As mense Afrikaans aggressief gebruik sodat dit nog verder bevry kan word, sal dit duideliker word dat Afrikaans ’n versetstem het en nie die taal van die verdrukker is nie. Só sal Afrikaans nie sterf nie. Daarom kan ek nie saamsing in Afrikaans se lyksang nie.” (Beeld, 18 Julie 1991) In sy referaat op Paternoster: “In die skryf van tekste in Afrikaans is die swart Afrikaanse skrywer aktief besig om die dominante beeld van taal as eksklusiewe Afrikaner-besit te bestry.” (Die Burger, 2 April 2008) Hoe hy die Afrikaanse Skrywersvereniging gesien het: “Hierdie moet ’n vereniging wees wat die gevestigde skrywers opneem en die agtergeblewe skrywers moet saamneem.” (Die Burger, 2 April 2008) “Ek sal eerder as ’n swart Afrikaanse skrywer wil bekend staan … in teenstelling met die bevoorregte wit Afrikaanse skrywer.” (Die Burger, 2 April 2008) |
Gebore en getoë
Patrick Petersen is op 6 Julie 1951 op Wolseley in die Wes-Kaap gebore. Hy was die oudste van agt kinders (drie broers en twee susters) van Pieter en Sarah Petersen. Sy pa was ’n polisieman en sy ma ’n tuisteskepper (Wikipedia).
Hy voltooi sy laerskoolloopbaan aan die WF Loots Primêre Skool op Wolseley en behaal sy matriek in 1969 aan die Senior Sekondêre Skool Bergrivier in Wellington.
Patrick het reeds op Wolseley sy liefde vir die toneel uitgeleef toe hy nie net lid was van die Môrester Amateur Toneelgroep nie, maar ook in hulle opvoerings opgetree het.
Verdere studies en werk
Na skool gaan Patrick na die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy sy studies as predikant begin. In 1975 behaal hy sy teologiegraad en word in 1976 beroep as predikant na die NG Sendinggemeente in Oudtshoorn. Hy gaan maak ’n draai op Daniëlskuil, Lime Acres en Hopefield voordat hy in 1982 predikant word op Vredenburg aan die Weskus. In 1995 behaal Patrick sy MTh-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland met ’n empiries-deskriptiewe studie getitel Etiek van luister: ’n analise van swart Afrikaanse poësie in die jare sewentig en daarna.
Hy het met Jacqueline Maart getrou en hulle het ’n dogter, Renata. Hy en Jacqueline is egter later geskei en in 1988 trou hy met Elize, en ’n seun, Amos James, is uit hulle huwelik gebore. Hulle het in St Helenabaai gaan woon en later na Vredenburg verhuis.
Patrick was ’n dominee en nie ’n heilige nie. Hy kon hom in die privaatheid van sy vriendekring heel dikwels uitspreek oor die dekorum wat predikant-wees van hom vereis het en tussen sy vriende kon hy met oorgawe net nog ’n mens wees. Hy was ook digter, sakeman, voorvegter van en vir Afrikaans, kampvegter vir menseregte, spreker en gesinsman – iemand wat ander geïnspireer het om hul ervarings neer te skryf en dit te publiseer.
Hein Willemse het in Karring (Somer 1997) geskryf dat die swartbewustheidsbeweging van die 1960’s en vroeë 1970’s Patrick vir die eerste keer bewus laat word het van swart mense se plek in die geskiedenis van Suid-Afrika, asook van ’n manier om te dink oor wie en wat ons is: “Hy kon met humor vertel van die vertwyfeling wat kwetsende rassespraak by hom as kind teweeg gebring het,” skryf Willemse verder. “Hy kon ook vertel hoe juis swartbewustheid hom die intellektuele toerusting gegee het om ’n dreigende gevoel van minderwaardigheid te bowe te kom.”
Terwyl sy tydgenote egter doelbewus verengels het, het hy bly glo dat Afrikaans “’n krag van Afrika tot bevryding” is.
Dit was dus nie verbasend dat dit juis Patrick was wat ’n rol gespeel het in die stigting van die Progressiewe Uitgewery op 5 Desember 1987 nie – die uitgewery wat later in die volksmond as Prog Uitgewers bekend sou staan. Oor sy beweegrede vir die stigting van die uitgewery het Patrick gesê: “Ek dink dit het iets te doen met my persoon en my roeping as predikant. Ek glo dat ’n mens mededeelsaam moet wees. Die gedagte van mededeelsaamheid in Handelinge, die verwysing na die oergemeente dat hy niemand gebrekkig moet laat nie, het my tot dié stap beweeg. Wat jy is en wat jy het, wil jy met andere deel.” Die idee met die uitgewery was dat hulle sou sorg dat manuskripte van jong swart skrywers na beoordeling uitgegee sou word: “Die bundels is met eie geld gedruk. Dit was ons beleggings, ons spaarboekies. Want ons het vas geglo in die saak. Ons wou swart Afrikaanse skryfwerk bevorder.” (Beeld, 11 November 1995)
Afrikaans was een van Patrick se passies. Hy dra dan ook sy bundel Vergenoeg op aan Afrikaans. Oor sy sentimente rondom Afrikaans het hy gesê: “Afrikaans het ’n dekselse klomp bagasie wat hy om homself saamdra, maar dit is gerusstellend om te weet dat mense gewillig is om Afrikaans te praat, ook maklik in Afrikaans te skryf. Dit is die Afrikaans wat mense in die woonbuurt praat, dit is daardie manuskripte wat hier na ons toe aankom.” (Beeld, 11 November 1995)
In 1985 is Patrick een van die sprekers by die eerste Swart Afrikaanse Skrywerssimposium en in Oktober 1995 is hy die dryfkrag agter die Tweede Simposium. Hy is ook instrumenteel in die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging in Desember 1995. In 1996 word hy verkies tot voorsitter van hierdie vereniging. Patrick was ook lid van die Idasa-afvaardiging wat na die skrywersberaad met die ANC by die Victoria-waterval gegaan het.
Oor die stigting en doel van die Afrikaanse Skrywersvereniging het Patrick Petersen aan Willem Pretorius (Beeld, 10 November 1995) verduidelik: “Die doel is om Afrikaans tot sy reg te laat kom. Harde en ongenaakbare houdings wat dikwels in eie taalgeledere na vore gekom het, moet plek maak vir versoening, inskiklikheid en ’n toemaar-ons-verstaan-ingesteldheid.
“Afrikaans kan nie sonder meer met die baba by die agterdeur uitgegooi word nie. Ewe min kan die gesonde stand van sake wat die taal betref, afgeskaal word tot ’n posisie van ’n verskoon ons-is-ook-hier-houding.
“Die kragtigheid van die taal moet juis aangewend word om ’n eiesoortige heropbou-en-ontwikkelingsprogram ten opsigte van die ander swart tale in die land tot sy reg te laat kom. Daarom word geen steen onaangeroer gelaat om Afrikaans as taal van die spreker en die skrywer te verstewig nie.”
Oor wat hy lees, het Patrick in Sarie (31 Januarie 1996) vertel: “Ek word eintlik gedwing om te lees, veral teologiese boeke en spesifiek die gereformeerde teologie, om op hoogte te bly van nuwe ontwikkelinge rondom die teologie, soos Die Woord teen die lig-reeks, wat handel oor die verskillende kwartale in die kerkjaar.
“Ek lees ook boeke soos Marlene van Niekerk se Triomf – baie interessant en nie ’n ‘totale aanslag’ teen die Afrikaner nie. Ook Die stoetmeester van Etienne van Heerden, en die boek vir almal wat ernstig lees: Vatmaar van AHM Scholtz. Dis een van die beste vondste in die Afrikaanse letterkunde die afgelope tyd. Dat dit geskryf is deur iemand anders as ’n wit Afrikaanse skrywer maak dit ook merkwaardig.”
Patrick se eerste bundel, Amandla ngawethu (1985), is op Genadendal gepubliseer, maar sy volgende twee, Advent (1988) en Vergenoeg (1993), is albei deur Prog uitgegee. Twee versamelbundels het ook verskyn, naamlik Aankoms uit die skemer (1988) en die predikantebundel Ons kom van ver af (1995), wat benewens gedigte deur Patrick, ook bydraes van Willem Abrahams, Eugene Beukes, André Boezak en Isak Theunissen bevat het. ’n Dokumentêre program oor die predikantdigters is ook in 1997 oor SAUK-televisie uitgesaai met die titel Die Sondagdigters. Patrick was ook ’n bydraer tot, sowel as redakteur van, die bundel Optog wat in 1991 by Domestica Uitgewers verskyn – die eerste swart uitgewery op die Kaapse Vlakte.
Met die verskyning van Amandla ngawethu het Patrick aan Fanie Olivier (Rapport, 15 September 1985) gesê: “Daar bestaan nie so iets soos neutrale poësie in Suid-Afrika nie en elke digter wat die pen opneem, neem dit op as wapenrusting in die stryd om bevryding.”
Die keuse van die titel van sy debuutbundel, wat beteken “Mag aan die mense”, mag dalk simplisties klink, maar dit gaan juis om die “ondubbelsinnige uitdrukking van solidariteit. Mense kan nie voorgee dat hulle nie hoef kant te kies nie: daarvoor is die krisis in ons samelewing te groot. Ook Afrikaans as taal word met so ’n keuse gekonfronteer.”
Wat veral van belang is in Amandla ngawethu is Patrick se voorwoord, skryf Fanie Olivier: “Die bundel gaan spesifiek om die posisie en die rol van Afrikaans, waarin hy sy mening uitspreek oor die bevrydingsrol wat dit moet speel.
“In hierdie inleiding, wat as ’n manifes moet dien vir die stryd waarby Afrikaans betrek word, sê die digter dat swart Afrikaanse digwerk in die teken staan van die swartman se lewe in Suid-Afrika – ’n nimmereindigende opeenvolging van humor waarin die wêreld saam lag, van bitterheid, fanatieke haat, kleurapartheid in eie geledere, grenslose liefde, hoop en wanhoop en uiteindelik die dood. ’n Stryd om oorlewing.”
In sy onderhoud met Fanie Olivier oor Amandla ngawethu het Patrick só afgesluit: “Die digter kan nie verswyg wat om hom gebeur nie. Hy durf veral nie doekies omdraai om ’n uitgewer tevrede te stel nie: om die poorte van die gevestigde uitgewer langs daardie weg met lof in te gaan, waarborg niks blywends nie. Die Afrikaans wat in hierdie bundel bedryf word, word ’n krag van Afrika tot bevryding. Om hierdie sin behoort die mag aan ons.”
In 1988 gee Prog Uitgewery Petersen se volgende bundel, Advent, uit. George Weideman was die resensent daarvan vir Die Burger (30 Maart 1989): “Die titel verwys na komende verlossing, duidelik binne die Suid-Afrikaanse konteks. Die hoop op verlossing is egter veelduidig, aangesien dit ook ’n meer persoonlike verlossing uit dié tyd van kontradiksies impliseer.”
Weideman het uitgebrei: “Oor die geldigheid van so ’n vooruitsig bestaan daar by hierdie leser geen twyfel nie, ook nie oor die onafwendbaarheid van politieke verandering nie. Maar kies ’n mens die poësie as medium om te sê wat jy wil sê, verbind jy jou onlosmaaklik tot, onder meer, innoverende taalgebruik, tot ’n taalorde en -ordening wat tog geheel en al anders is as ’n politieke toespraak. […]
“Petersen se sterkte is die skryf van werklike protesliedere en in die meer musikale verse sluit protes en poësie ’n sterker bondgenootskap. […]
“Ter wille van die protes en die saak sélf moet die peil van protespoësie egter bo verdenking wees – tensy die verse uitsluitlik bedoel is vir voorlees tydens politieke byeenkomste. Pamflet-poësie soek nie die ‘luuksheid’ van bundelinge nie – anders sal mens, as jy eerlik wil wees, moet sê die protes is alte pretensieus. Petersen kan hieruit leer. Ten slotte: ook dié bundel toon dat Prog-uitgewers ’n strenger keurder en redigeerder nodig het.”
In Rapport van 8 Augustus 1989 is Melvin Whitebooi van mening dat Advent polities baie sterk is: “Die dominee-digter draai geen doekies om vir sy weersin teen apartheid nie. Advent bestaan uit sewe dele wat elk ’n sekere deel van ’n Suid-Afrikaanse situasie belig. […]
“Petersen het ’n stryd aan die gang teen apartheid. In die deel getiteld ‘Exodus vir apartheid’ het hy baie voorstelle hoe om apartheid te straf vir alles wat die ondier aan ons gedoen het. […] Advent is sterk struggle-gedigte wat veral in die townships gelees sal word. Petersen hanteer sy vak met insig en laat die leser soms benoud … en yskoud. Dis ’n goeie opvolg vir sy debuutbundel.”
In 1994 het Vergenoeg van Petersen by Prog verskyn en Joan Hambidge (Beeld, 4 April 1994) het haar resensie van hierdie bundel só begin: “Vergenoeg? Digby Vergenoeg? Onvergenoegd? As ’n mens eers met die titel van ’n bundel begin speel, is die kritiese mallemeule aan ‘t draai. Meer nog so wanneer ’n digter ’n mens – à la Dan Roodt – van ’n paar bladsye ‘Aantekeninge’ voorsien. Is dit om mee te doen aan die kreatiewe proses? Is dit waar jy, liewe leser, jou kritiese menings mag neerpen? Of is dit ’n plek vir jou kleuterkind se prentjies?
“Maar daar staan ’n paar pragtige verse in dié bundel van ongelyke gehalte, soos ‘Aai niedit joe’ (p 23):
ek het op die N7 gekom na jou
Oukraalfontein se mense se skinnery ten spyt
ek het jou bergop by Saldanha geneem
Peperbaai jou gewys ons liefde daar ingeseën […]
“In die geheel beskou, is die meeste gedigte so ’n bietjie studentikoos en rammelrig in aanbod. […] En dit is juis die kruks van die probleem: hierdie bundel is deur die digter self uitgegee, en gevolglik mis ’n mens die hand van ’n keurder of streng redigeerder. En die digter moet hom beslis steur aan wat die laaste paar jaar verskyn het.
“Selfs al word die kwalifikasie people’s poetry / struggle poetry of wat ook al gebruik, mis die meeste gedigte daardie onfatsoenlike klap op die solar plexus. Die bundel word pretensieus ‘Vir Afrikaans’ aangebied en versier met motto’s à la Lady Anne. […]
“Te veel gedigte moet nog ’n bietjie stywer saamgetrek word, soos ‘Vergane liefde’ (p 47) met sy navrante gegewe. Die verse is nog te prosa-rig, te praterig om ten slotte daardie impak van skok te hê waarop die digter gehoop het.
“Met hierdie kritiek word daar allermins gesê dat Patrick Petersen nie kan poësie skryf nie. Dis net jammer dat die verse onaf gepubliseer is en dat ’n mens dikwels die gevoel het dat jy nog hier te make het met ’n gedig in-wording.”
Riëtte Botma het Vergenoeg vir Die Burger (22 Junie 1994) bespreek, en by haar het die bundel ’n mengelmoes van reaksies uitgelok: “Die titel word byvoorbeeld nooit duidelik nie, en laat tog ’n gevoel van onvergenoegdheid! Van begin tot end skep die uitleg en keuse van lettertipe ’n slordige tuisgemaakte indruk – die lastigste is die ‘knipsels’ wat hier en daar skuins oor die bladsy ‘geplak’ is.
“Boonop dra Petersen die boek aan ‘Afrikaans’ op, maar dan word die sewe reëltjies van die eerste aanhaling deur nie minder nie as drie setfoute bederf. So sonder afdelings is die inhoudsopgawe nogal oorweldigend, en glad nie oorsigtelik nie. En, hoewel Adam Small en Ernst van Heerden ’n bietjie rondspook in die bundel, is dit die moeite werd, en is daar genoeg stof tot nadenke. In die eerste plek ter wille van die régte Afrikaans, soos gepraat deur égte mense, wat in party gedigte deur die standaard-Afrikaans loer, maar in ander ’n oortuigende eie taal word. […]
“Dis ’n ruwe bundel, so eg Suid-Afrikaans soos die Boland en die Weskus waaruit dit ontstaan het, bevolk deur die stemme van allerhande soorte mense … […]
“Daar is politiese betrokke verse, ongewone liefdesange, kontreistories, sportberigte, gesprekke met God en nogmaals politiek. En tussen die veelkleurige en onpretensieuse handvol Smarties sal elke leser ’n paar gunstelinge raakloop om te bêre vir anderdag se lus.”
En hoewel Jan Buscop (Volksblad, 29 Mei 1995) kritiek teen Vergenoeg het, soos die bundelkomposisie en die willekeurige rangskik van die tekste, probeer die tekste tog ook iets nuuts bied, soos woordeksperimente. Maar ook Buscop noem die setfoute wat in die bundel voorkom.
Dan sluit hy af: “Wat Vergenoeg tans veelbetekenend maak, is dat Afrikaans deur middel van ’n verskeidenheid variëteite herkleim word. Wisselend word tekste in standaard-, bruin-, alternatiewe, en selfs intertaalafrikaans aangebied. Die taal behoort immers aan ál die mense, want dit is ’n bundel ‘Vir Afrikaans’ word in die begin gesê. Hierdie bevestiging alleen is klaar ’n besondere wins.”
Vir Louise Viljoen is Patrick Petersen se lang gedig “Ons kom van ver af”, wat oorspronklik in die gelyknamige versamelbundel verskyn het, ’n hoogtepunt in Patrick se oeuvre: “Dit is ’n gedig waarin die persoonlike en die publieke verenig om die lang tog van onderdruktes na vryheid te beskryf. Dit verwys tegelykertyd na die verlede (vergelyk die herhaalde verwysings na die ‘lang pad’ wat afgelê is vanaf slawerny en swerwerskap) én na die toekoms (vergelyk die pleidooie om samewerking aan sy ‘Xhosa-broers en susters’ om die hande van die ander onderdruktes in die land te vat en hulle nie alleen te los op die pad vorentoe nie).” (Tydskrif vir Letterkunde, 2022)
Patrick het in 1995 besoek ontvang van twee Nederlandse outeurs, Roger Wastijn en Ton Luiting, wat ook redakteurs was van die literêre tydskrif Concept. Tydens die besoek het Wastijn ’n onderhoud met Petersen gevoer oor Afrikaans en die stand daarvan ná die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.
Wastijn wou by Patrick weet of Suid-Afrika se 11 amptelike tale ná die verkiesing almal “gelijkwaardig” is. Hierop het Petersen só gereageer: “Volgens die grondwet, ja. Maar ek het vrese dat Engels ’n bevoorregte posisie gaan inneem ten koste van die ander tien amptelike tale en dat Engels later die lingua franca gaan word. Die gedagte tot dit alles is dat die ander tale beter aangebied moet word. Maar ek het vrese dat die afstand tussen Engels en die ander tale te groot is sodat dit in ’n kort tyd reggestel sal word.”
Aan die einde van die onderhoud wou Wastijn by Patrick weet: “Kunnen we misschien in sloganvorm zeggen: ‘Die koloniale tyd is verby, ons praat weer Afrikaans’ en ‘Afrikaans is onze identiteit’?”
En Patrick se antwoord: “Ek dink ons kan dit inderdaad sê dat ons Afrikaans gaan praat en dat ons ’n besef het van ons het vrygekom van alle verdrukking uit. Die koloniale tyd is verby. Maar wanneer ’n mens dit sê kan ’n mens dit ook met vrymoedigheid vir die ander mense sê? Ons praat nie namens ander nie, waar wat kan die Xhosa-mense, die Vendamense, die Zoeloemense byvoorbeeld sê dat hulle met vrymoedigheid hulle taal kan praat? Maar hulle moet ons die geleentheid gee om werklik Afrikaans te praat, soos ons dit wil praat.”
In April 1997 het Petersen sy televisiebuiging gemaak toe hy saam met vier ander dominees te sien was in die program Die Sondag digters. Die ander predikante wat saam met hom verskyn het, was Eugéne Beukes van Malmesbury, Peter Abrahams van Hopefield en André Boezak van Oudtshoorn. In die program het hulle vertel van hulle emosies gedurende die vorige politieke bestel en hoe hulle die verdrukkende apartheidsera ervaar het, het Con January in Die Burger (8 April 1997) geskryf.
Petersen bly op Vredenburg in die bediening tot sy voortydige afsterwe in ’n motorongeluk op die Paternoster-Vredenburg-gruispad op 7 Junie 1997. Hy word oorleef deur sy vrou, Elize, sy seun Amos en sy dogter Renate.
Huldeblyke
- Willem Fransman jr, by gedenkdiens te Vredenburg by die herdenking van Petersen se 60ste verjaardag: “Dalk word die invloed wat Patrick James Petersen op ons letterkunde gehad het, en steeds sal hê, nog onderskat. Maar dis ons taak om te sorg dat hy nie vergeet word nie. Patrick was nie jou gewone dominee nie. Eerder ’n ware kampvegter vir Afrikaans. En hy was menslik. En ek, ek sal Pat altyd onthou as die dominee wat, net soos ek, nie kon dans nie, omdat ‘ons mos deur die kerk grootgebring is!’” (Rapport, 7 Augustus 2011)
- Hein Willemse, letterkundige, professor en vriend van Patrick: “Pat Petersen was ’n dominee, ’n digter, ’n gemeenskapsleier en ’n sakeman. Vir my was hy veral ’n mens van die letterkunde, dié een wat digbundels versamel het en met nougesetheid die jongste poësie-eksperimente kon ontrafel en dan self navolg.
“Hy was vir ’n jonger geslag Afrikaanse digters ’n herder, bekend vir sy onafhanklikheid en die toonaangewende rol wat sy uitgewery, Prog, gespeel het. Op eie stoom, en later saam met andere, versamel hy in ’n aantal bundels onbekende en jong digters – meesal finansier hy hierdie bundels met duur banklenings of uit sy eie sak. […]
“Vir Pat was Afrikaans as middel tot kommunikasie belangrik. Die geskiedenis van 1976 het op hom soos op talle sprekers van Afrikaans ’n verreikende invloed gehad. Terwyl sy tydgenote doelbewus verengels het, het hy bly glo dat Afrikaans ‘’n krag van Afrika tot bevryding’ is. Die speelsheid van Afrikaans kom in talle van sy gedigte voor, waar die verwringing en die herbekyk van taal vooropstaan. […]
“Sy poësie het die spektrum van menslike ervaring bestryk. Naas die politieke strydgedigte waarin die sosiale kondisie van ons land beskryf word, kon hy met deernis ’n liefdes- of elegiese gedig skryf. Hy het bewustelik ’n poëtiese gesprek tussen digters probeer volhou. […]
“Sy heengaan is vir die Afrikaanse letterkunde ’n ramp, en hy laat ’n leemte wat ons eers later ten volle sal besef. Hy het nog so baie planne en so baie idees gehad, maar helaas …. Hamba kahle qabane, hamba kahle.” (Karring, Somer 1997)
- Joan Hambidge, digter:
Lykdig
Sou jy voel hoe hierdie vers, hierdie vers
die pyn skandeer van iets so wrakkig
as ’n lewe wat eindig in ’n ambulans
onbetyds om die hartlongmasjien te haal,
’n suurstofmasker of intensiewe eenheid …
Maar die digter bly asemhaal, sy hart bly klop
In sy woorde, in die intensiewe eenheid van die poësie.
(Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1997)
- Diana Ferrus, digter:
Vir Patrick Petersen (gesterf 7.6.97)
Vader van die Afrikaanse Skryf
stil lê jou lyne
in die nag afgeëts.
Op jou lippe verstar
die eind van die vers –
skielik voltooi
verskyn die verhaal.
Resensente skryf: onvolledige slot –
die lesers vra wat het gebeur,
maar tussen die reëls
in die hart van die woord
het kripties die leidraad
verweef gelê.
Met die koue van die winter
in die middel van die jaar
verys die ink in jou pen se punt –
verhuis die gees in die stil van die wind.
Armer steeds die Afrikaanse taal –
’n kryger, ’n vegter, die skrywersoldaat
voor in die linie op die oorlogsfront
vader van die Swart Afrikaanse Skryf,
leier van mense, kind van jou God –
jou memoires vervolg
in die taal wat ons praat
in winter; in somer –
selfs diep in die nag
nooit is jou gees van ons verlaat.
(Karring. Somer 1997)
- Vernie Plaatjies, skrywer:
By die dood van ’n digter (vir Patrick Petersen)
Nie ’n engel nie,
maar Radio sonder Grense het die nuus gebring
die gevoel verklaar
van ’n hartseer iewers in die dag
en wolke wat weskus toe –
soos in die bygeloof van sterfte lê
En in my het die dag gekrimp,
het ’n wind glasbleek en skraal gewaai;
het ’n son oor ’n volk ondergegaan;
het ek jou as digmaat aangeraak –
Nie as mens van God nie,
maar mens van mens
van die siel en die smart van ’n arm volk
van miskende lewens en (swart)stom krete
van vryheidsvegters en gestorwe stryders;
van ’n Afrikaanse son vol ontkende monde
’n stukkie van die reënboog in elke kleur ...
Met jou heengaan weerklink steeds die refrein
dat die reënboog nog nie oral oor die aarde span
dat die reën nog hard in die gopse val,
’n volk oor die vlakte steeds berg toe bid;
dat hande steeds verlore op plase raak,
ons Xhosa-broers en -susters ons nie moet verlaat …
Jou sterfte is ons seer: en het geen dood:
in woord en mens leef jy grensloos voort.
(Karring, Somer 1997)
- Leonard Koza, skrywer:
Op die Paternoster-pad
Op die Paternoster-pad
ja die Paternoster-pad
ja die Paternoster-pad
op die Paternoster-pad
alleen in die donker
alleen in die donker.
Op die Paternoster-pad
ja die Paternoster-pad
met ysterwiele wat sny deur die koue
ja, die koue wat ook sny deur
murg en been,
alleen in die koue
ja, alleen in die koue.
Alleen,
ja, alleen,
stoksielalleen toe die donker teerpad
die grondpad soen,
ja die grondpad
ja daardie grondpad waar die
warrelwind gereeld die stof en
sand teen windskerms waai,
ja, daardie grondpad wat nooit
sy wraak teen die teerpad
vergeet.
Op die Paternoster-pad
ja daardie Paternoster-pad
het die wrede grondpad ’n man
uit sy motor geslinger.
Stof laat byt,
ja, daardie grondpad het ’n siel geëis
vir sy grond, stof tot stof.
Op daardie grondpad is die ink van
’n pen opgedroog,
Is gedagtes wat
gestrewe het na verbeeldings ryk
vir altyd gedemp.
Daardie grondpad
Daardie grondpad –
al word dit eendag geteer
sal skrywers, lesers en digters
dit as ”daardie grondpad” nooit vergeet.
(Karring, Somer 1997)
- Heindrich Wyngaard, joernalis (ná Patrick Petersen se roudiens): “Luister na wat die Amerikaanse digter Langston Hughes eens gesê het: ‘There are people who have the unconscious faculty of making the world spin around themselves. Then, when they are gone away, you feel sick and lonesome and meaningless …’” (Die Burger, 17 Junie 1997)
“Miskien was die dominee-digter Patrick Petersen nie jou gewone soort dominee nie, miskien was hy te eerlik en reguit; hy was veral ’n gerekende digter, ’n lieflike mens. Nou is hy weg, en hy was net 45.
“’n Mens het hom leer ken as iemand wat ’n totale afkeer gehad het in pretensie en grootdoenerigheid: ’n plat-op-die-aarde soort mens. Hoe spyt is ek dat ek hom net twee jaar geken het. Maar hoe bly, terselfdertyd, dat ek in dié tyd met hom betrokke kon wees by belangrike gebeurtenisse soos die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging, waarvan hy die voorsitter was, en vóór dit die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium op Paternoster.
“En dis dáár waar ek geleer het dat Petersen weet hoe om mense te laat lag, oopmond na sy stories te laat luister, sonder skroom sy mening te lug, en jong skrywers bekend gemaak het deur sy betrokkenheid by die Weskus-uitgewery Prog.” (Volksblad, 11 Junie 1997)
- Robert J Pearce, skrywer en vriend (gedeelte uit sy huldigingsgedig):
Patrick James Petersen (6 Julie 1951 – 7 Junie 1997)
aa
my Xhosa broer
ons het ’n lang pad gekom
tot hier op Vredenburg
waar ons afskeid kom neem het van jou
’n Groter Gees as die een wat jy gegee het
Ja-nee
jou koms was ver
vanaf Eerstelaan op Wolseley
deur na Bellville, Oudtshoorn, Paternoster en
Vredenburg
waar jy uiteindelik tot ruste gekom het
en begrawe lê op Vredenburgse maan […]
Pat
laat my toe in afwesigheid
jou aan te spreek in nog ’n vers:
nalatenskappe sal geboorte en gestalte gee
aan nuwe beginne en embrio’s wat om die beurt
jou visie sal volbring.
As een gelowige dominee hoort jy mos te weet my broer
dat die geeste wat jou vervul en verlaat het moes,
om gestalte te gee in jou geskrifte en nagelatenis.
’n Leemte het jy gelaat my Xhosa broer
wat gedwonge gevul sal word deur: Amandla ngawethu / Advent / Optog / Vergenoeg /
Aankoms uit die skemer en Ons kom van ver af
Laat my dan toe om af te sluit met ’n laaste vers
en saam met die struggle- en Afrikaanse digters te uiter:
“Lank lewe die gees van Patrick James Petersen, lank leef!”
en: “Hamba kahle Pat, Hamba kahle.”
“Stil mense, daar lê ’n Man op Vredenburg begrawe.’”
(Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1997)
- Abraham H de Vries, skrywer: “ In ons breë Afrikaanse gemeenskap wat steeds op soveel gebiede verdeel is, is daar veels te veel mense (ja, selfs boekemense) wat nie weet watter enorme rol Patrick Petersen gespeel het nie. Nie net as digter nie, maar as digter wat só in sy werk geglo het dat hy sy eie uitgewery begin het, ook tot voordeel van dié van vele ander wat by hom gedebuteer het, tot verlede jaar nog met Ons kom van ver af. Patrick was nie net kerkleier, leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk op Vredenburg nie, hy was die soort leier wat weerbare woorde, strydpoësie, voorsien het in Amandla ngawethu vir die vele begrafnisse waartoe ons land so lank gedoem is. Nie net ’n stil, saggeaarde taalmens nie, maar ’n versetdigter wat sy bundel Vergenoeg spesifiek opgedra het ‘Aan Afrikaans’. Hy was die dryfkrag agter die byeenkoms vir alle Afrikaanse skrywers op Paternoster, hy was die voor die hand liggende keuse as eerste voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.
“En hy was Pat. Liewe, verleë, byna weifelende ou maat, wat steeds op die regte tyd by die regte, wyse woord uitgekom het.
“Laat ons hom groet met sy eie woorde, eens by ’n ander dood:
‘die gang slaak nie meer ’n sug van verligting nie
en jou portrette teen die muur hang eenkant verlam
die koning klap nie hande nie
en die foto groet nie meer goeie môre dêddie nie
vrydagaande bak ek nie meer pizzas nie
en die stilte is lewenloos sonder verwagting
o, die tyd lê stukkende stukkend’
“Namens ons almal wat van woorde leef: Rus sag, Patrick. Amandla ngawethu.” (Insig, Julie 1997)
- Elias P Nel, skrywer (by die huldigingsgeleentheid op die dag van Petersen se 47-jarige verjaardag):
jy kon
met woorde speel
’n eiesoortige praatstyl bedryf
“welkom hier by vanmiddag”
jou geliefkoosde woorde
wat ons met vele ander uit jou pen
altyd sal bybly
(Die Burger, 7 Julie 1998)
- Hans Ester, Nederlandse letterkundige: “Tot de verdiensten van Patrick Petersen behoort niet alleen dat hij het leven van de mensen in de Wes-Kaap poëtisch heeft weergegeven in bundels as Vergenoeg en Ons kom van ver af, maar heel in het bijzonder dat hij anderen inspireerde tot het opschrijven en publiceren van hun ervaringen. […] Hoe sterk Petersen zich verbonden voelde met de Afrikaanse taal blijkt wel uit het feit dat hij zijn bundel Vergenoeg opdroeg ‘Aan Afrikaans’. Hij was de stuwende kracht achter de grote bijeenkomst van Afrikaanse schrijvers in Paternoster en werd vorig jaar gekozen tot de eerste voorzitter van de Afrikaanse Skrywersvereniging.” (Zuid-Afrika, Julie/Augustus 1997)
- Ingrid Geldenhuys, vriendin en skrywer: “By Patrick Petersen het ek geleer hoe om konfrontasie te ontlont, hoe om selfs aan die onbenulligste dinge aandag te gee, en hoe om die beste uit die lewe vir jouself en ander mense te haal. Saam het ons gedink (ons vier direkteur van Prog-uitgewers) ons gaan berge versit vir die swart Afrikaanse skrywer in die besonder, en Afrikaans in die algemeen. In sy 47 jaar was hy digter, dominee, sakeman, voorvegter van en vir Afrikaans, kampvegter vir menseregte, spreker, gesinsman …
“Hy was ’n dominee, nie ’n heilige nie. ‘Laat ons nou nie hoogheilig opgee oor dinge nie,’ het hy graag gesê. […] ’n Dubbele whisky met water en baie ys, ’n vinnige motor, ’n lekker partytjie en goeie geselskap was so deel van hom soos gedigte skryf en preek. Hy het die lewe met passie liefgehad. Daar was egter ook pyn in sy lewe. Een mislukte huwelik, en baie jare as slagoffer van diskriminasie wat op laerskool begin het met ’n onderwyser wat hom en ’n maatjie verkleineer het deur te sê dat hulle die swartste in die klas was, die platste neuse en die kroesste hare gehad het. […]
“Sy liefde vir die lekker lewe het hom baie gemeentelike kritiek op die hals gehaal, maar Sondae as hy op die preekstoel klim, het die mense aan sy lippe gehang en hom enigiets vergeef.
“Sy vrou, Elize, se bestendigheid was die soberende faktor in sy lewe. Dit was sy tweede huwelik en daar was by hom in sy laaste lewensdae ’n amper maniese dryfkrag om sy gesin gelukkig te hou. Hy was bang om ’n tweede mislukking te maak. As hy saans langs Elize ingekruip het, was sy onbewus daarvan dat hy eers vir ’n uur op sy rug gelê en mediteer het. Dan het hy in gesprek getree met die Opperwese om van hom ’n suksesvolle lewensmaat, pa, voorsiener, gemeenskapsbouer te maak. […] Dis Patrick.” (De Kat, Augustus 1997)
- Pieter Fourie, skrywer en destyds hoofdirekteur van die KKNK: “Die dood van Patrick Petersen laat ’n ingrypende leemte in die huidige klimaat van ontginning en breë bekendstelling van Afrikaans in sy volle Josefskleed. Tydens vanjaar se KKNK het hy die voortou geneem om met die program Uit die perd se bek juis hierdie ontginning en breë bekendstelling daadwerklik aan te spreek. Met die wyse en venues van aanbieding het hy die poësie, wat so dikwels in elitisme verval het, teruggebring straat toe.
“Die uitwerking hiervan het nie ongesiens verbygegaan nie en hy het drie dae voor sy dood ’n aanstelling as Adviseur: Woordkuns & Poësie aanvaar. Hy was so besiel dat hy ’n dag later reeds sy eerste gedagtes deurgegee het aan die Feesbestuur. Ook die KKNK sal die leemte wat sy vroeë dood vir die volledige wêreld van Afrikaans, ten sterkste voel.” (Die Burger, 20 Junie 1997)
- Louise Viljoen, in haar resensie van Ons het […] ver versit in 2022: “Sy ontydige dood in ’n motorongeluk op ouderdom 46 in 1997 is ’n gevoelige verlies vir die Afrikaanse letterkunde, veral omdat hy as skrywer bereid was om op kompromislose wyse die rol van die Afrikaanse letterkunde in die politieke landskap ná 1994 te bedink.” (Tydskrif vir Letterkunde, 2022)
In 1999 roep die Afrikaanse Skrywersvereniging die Patrick Petersen-gedenkfonds in die lewe, en die Patrick Petersen-gedenkprys word jaarliks toegeken aan persone wat ’n substansiële bydrae tot die opbou van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur lewer. Na Patrick se vroegtydige afsterwe publiseer digters soos Joan Hambidge, Vernie Plaatjies, Diana Ferrus en Leonard Kôza gedigte om hulle medelye te betoon. Die voorsitter van die Skrywersvereniging, Elias Nel, het die volgende gesê oor hierdie Gedenkfonds: “Ek glo dit is ’n gepaste manier om Pat vir sy rol te vereer. Die geld wat met die fonds ingesamel word, sal gebruik word om sy werk voort te sit.” (Insig, Julie 1999)
Van die ontvangers was Adam Small (2000), Elsa Joubert (2001), AHM Scholtz (2002), Marzanne Leroux- Van der Boon (2003), Abraham de Vries (2004), Ivan Sylvester en Peter Braaf (2005), Riana Scheepers (2006), Willem Fransman jr (2007) en Ronnie Phillips (2008). (Die prys is hierna nie weer toegeken nie.) (Stilet, Junie/September 2019)
Patrick Petersen is in 2008 postuum vereer toe die Klein Karoo Nasionale Kunstefees die Afrikaans Onbeperk-toekenning aan hom toegeken het vir sy lewensbydrae. Hein Willemse het op versoek van Elize Petersen, Patrick se vrou, die commendatio by die geleentheid gelewer. Hy het dit so afgesluit: “Die demokrasie van 1994 het nuwe ontwikkelinge gebring en Petersen het vir hom nuwe vooruitsigte gestel. Hy het hom aktief beywer vir ’n oorkoepelende Afrikaanse skrywersvereniging, hy wou groter skakeling met gevestigde uitgewers bewerkstellig, hy wou in die sakewêreld betrokke raak. Die nuwe Suid-Afrika het soveel moontlikhede ingehou en hy wou daarby betrokke wees. Ek hoor nou nog die afwagting in sy welluidende baritonstem:
in die hitte van die stryd
wanneer die nag sy aantog begin op ons melk- en koffieweë
as ons mooi luister, hoor ons die voetstappe van die maan in die gange van ons vrees
ons luister so omineus
ons kyk na alles wat dreigend terugkyk
ons blaai deur die stiltes van die woestynnag
broos vra ons:
wat wag môre?
wat bring oormôre?
(Uit: Ons kom van ver af, bl 79)
By die Woordfees in 2012 was Petersen en sy werk die onderwerp van die Immergroen-profielprogram. Dorothea van Zyl het onder meer gepraat oor sy dubbele beroep as digter en dominee. Ander deelnemers aan die program was David Pieters, Willem Fransman jr, Annette Fransman en Monty Isaacs. Victor C Fredericks het van Petersen se gedigte getoonset en dit uitgevoer.
Tydens die Suidoosterfees 2017 is daar ook hulde gebring aan Patrick Petersen as deel van Die Burger enSuidooster se Boekeprogram. Vriende en tydgenote, soos Diana Ferrus en Elias P Nel, het uit Petersen se werk voorgelees, asook uit hulle eie. Hulle het ook staaltjies oor hom gedeel. (LitNet)
Om vir Petersen in 2021 te gedenk op wat sy 70ste verjaardag sou gewees het, is daar ’n huldigingsprogram aangebied by die Historium-konferensiesaal in Esterville in die Paarl. Hein Willemse het aan Laetitia Pople (Netwerk24, 8 Desember 2021) gesê dat die belangrik is om Petersen op so ’n wyse te erken: “In die jare ’80 en ’90 was hy ’n baie belangrike figuur wat Afrikaanse versetpoësie betref. Hy het ook ’n onafhanklike uitgewery bedryf en ’n tradisie van versetpoësie onder jong digters laat posvat.”
Ander persone wat te sien en te hoor was by die geleentheid was Petersen se suster, Saidie Jaftha, sy seun, ds Amos Petersen, en die akademici Willemse self en Steward van Wyk.
’n Video, Patrick Petersen 70: digter en dominee wat deur die Taalmuseum saamgestel is, is vertoon en Heindrich Wyngaard het ook gesels met Courtneigh Ess, junior dosent aan die UWK, en Eugéne Beukes, digter, oor die digkuns van Petersen.
In 2021 gee Abrile Doman-uitgewers ’n versameling van Petersen se werk uit onder die titel Ons het […] ver versit. Daarin is sy gedigte, asook toesprake en onderhoude met hom, saamgevat. Die versameling is aangevul met ’n essay deur Hein Willemse wat ook die bundel bekendgestel tydens bogenoemde huldiging.
In Tydskrif vir Letterkunde (2022) skryf Louise Viljoen só oor hierdie publikasie: “Die naam Patrick Petersen is een van dié wat uitstaan wanneer ’n mens dink aan die 1980’s en 1990’s toe die Afrikaanse letterkunde as instelling ter take geneem is vir die wyse waarop dit skrywers wat nie wit is nie uitgesluit het. Petersen was een van ’n groep skrywers en akademici wat die begrip ‘swart Afrikaanse skryfwerk’ ’n bepaalde invulling gegee het en met groot dringendheid op die literêre agenda van die tyd geplaas het. […]
“Sy digbundels, toesprake en onderhoude word hier saamgebring met ’n besonder insiggewende essay waarin Willemse sy bydrae takseer teen die agtergrond van die swart Afrikaanse skrywersbeweging, die sosiopolitiese konteks en belangrike teorieë oor die verhouding tussen die estetiese en die politiese, ’n saak waarmee Petersen homself deurlopend besig gehou het. Hiernaas is daar ook Willemse se voorwoord waarin hy sy redigeringsbeleid uiteensit en Petersen se werk plaas binne die konteks van die swart Suid-Afrikaanse letterkunde in Engels en ook die postkoloniale letterkunde, iets wat interessante navorsingsmoontlikhede in verband met dié skrywer se werk open. Die netjiese versorging van die geheel sowel as die nuttige lys woordverklarings en indeks maak hiervan ’n keurpublikasie. […]
“Hierdie saambring van Petersen se versamelde werke erken die belangrikheid van sy nalatenskap en gee vir die leser sig op ’n belangrike periode in die geskiedenis van die land en die Afrikaanse letterkunde. Terugskouend is dit duidelik dat die dink-, skryf- en aktivistiese werk wat Petersen en sy tydgenote gedoen het die grondslag gelê het vir die werk van ’n volgende geslag skrywers soos Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Lynthia Julies, Ryan Pedro, Ashwin Arendse, Churchil Naudé en Veronique Jephtas. Ons het […] ver versit is dus ’n belangrike en tydige huldiging van sy werk wat vir studente en ander belangstellendes van groot nut sal wees.”
Publikasies:
|
Publikasie |
Amandla ngawethu |
|
Publikasiedatum |
1985 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Genadendal: P Petersen |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Advent |
|
Publikasiedatum |
1988 |
|
ISBN |
0620128208 (sb) |
|
Uitgewer |
St Helenabaai: Prog |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Aankoms uit die skemer [versamelbundel] |
|
Publikasiedatum |
1988 |
|
ISBN |
0620119926 (sb) |
|
Uitgewer |
St Helenabaai: Prog |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Optog [versamelbundel]; redakteurs Willie Adams, Leonard Koza en Patrick Petersen |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
062015098X (sb) |
|
Uitgewer |
Grassy Park: Domestica |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vergenoeg |
|
Publikasiedatum |
1993 |
|
ISBN |
0620170824 (sb) |
|
Uitgewer |
Vredenburg: Prog |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ons kom van ver af |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
0958403619 (sb) |
|
Uitgewer |
Vredenburg: Prog |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ons het […] ver versit: gedigte, toesprake, onderhoude. Met ’n essay deur Hein Willemse |
|
Publikasiedatum |
2020 |
|
ISBN |
9781991219374 (sb) |
|
Uitgewer |
Wildernis: Abrile Doman |
|
Literêre vorm |
Huldigingspublikasie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Patrick Petersen:
- Burger, Kobus: TV-reeks oor die bruin mense: vier episodes van môre af oor SA se eerste “reënboogmense”. Beeld, 5 Februarie 1996
- Coetser, Johan: Swart Afrikaanse skrywersberaad [resensie van Die reis na Paternoster]. Beeld, 2 Februarie 1998
- Daar is erger woorde as dié, sê leraar oor skildery. Beeld, 4 April 1997
- De Vries, Willem: Petersen se bydrae opnuut in die kollig. Die Burger, 10 Maart 2012
- Digter Petersen en ander gehuldig by Suidoosterfees 2017. LitNet, 20 April 2017
- Europa, Simon: Patrick Petersen: dit begryp hy nie [brief]. Die Burger, 27 Junie 1997
- Fransman, Willem, jr:
-
- Digter was “nie gemaak vir Engels nie” [Onder my literêre laken]. Rapport, 7 Augustus 2011
- Patrick James Petersen as bemagtiger: ’n response. Stilet, 2019
- “Sondagdigter” en swart Afrikaanse skrywers. Netwerk24, 8 Julie 2019
- Stryder vir die digkuns. Die Burger, 2 April 2008
-
- Gedenkfonds. Insig, Julie 1999
- Hambidge, Joan en Willem Fransman jr: Poësie oor Patrick Petersen. LitNet, 22 Augustus 2011
- Hefer, Stefanie: Skrywers wroeg en stoei by beraad op Paternoster. Beeld, 5 Oktober 1995
- Jansen, Valda: Identiteit dalk dié slag weg van etniese terme bespreek. Beeld, 19 Oktober 2005
- January, Con: Vier digter-dominees maak saam buiging op TV-skerm. Die Burger, 8 April 1997
- Leroux-Van der Boon, Marzanne: Hy het die stilte help oopbreek [toespraak by die ontvangs van die Patrick Petersen-prys]. Beeld, 26 November 2004
- [Patrick Petersen]. Rapport, 17 Februarie 1991
- Patrick Petersen (Wikipedia)
- Petersen, Patrick:
-
- Bloktyd – gedigvoorlesings: “Dienaar van die nagereg” deur Patrick Petersen. Huisgenoot, 27 Julie 2023
- Dienaar van die nagereg [bespreking van gedig]
- Dít lees ek. Sarie, 31 Januarie 1996
- Etiek van luister: ’n analise van swart Afrikaanse poësie in die jare sewentig en daarna. Universiteit van Wes-Kaapland, MTh-skripsie, 1995
- Vat hande vir die taal. Insig, November 1996
- Verrotte wette [gedig]. Supertaal, Mei 1997
- Wedstryd “alleen vir wittes” ’n skok [brief]. Die Burger, 17 Julie 1996
-
- Pietersen, Jeffrey: ATM herdenk unieke Petersen. Nuusbrief van Afrikaanse Taalmuseum en -Taalmonument, Desember 2021
- Pople, Laetitia: Ontslape digter se 70ste gevier met bundel en gedenkprogram. Netwerk24, 8 Desember 2021
- Pretorius, Willem: Afrikaanse skrywers kry ’n nuwe organisasie. Beeld, 10 November 1995
- Swart Afrikaans sal groei. Beeld, 18 Julie 1991
- Van de Rheede, Ikey: Dié uitgewery bevorder swart skryfwerk. Beeld, 11 November 1995
- Van Niekerk, Douglas: Vloekwoord: hier tas dominee mis [brief]. Die Burger, 14 April 1997
- Van Wyk, Steward: “ons is nie halfnaaitjies nie / ons is Kaaps”: Die wroeging met identiteit by enkele swart Afrikaanse skrywers. Literator, Augustus 1997
- Vriend van NALN: Patrick J Petersen: [huldigingsartikel]. Facebook, 5 Julie 2025
- Wasserman, Herman: Skrywersgroep lui nuwe tydvak in vir Afrikaans. Die Burger, 1 April 1996
- Whitebooi, Melvin: Digter-dominee gee nou sy eie bundels uit. Rapport, 6 September 1987
- Willemse, Hein:
- Wyngaard, Heindrich:
-
- ASV voel nog gestrem, sê sy voorsitter. Die Burger, 30 September 1996
- Patrick Petersen se lewe gedenk. News24, 16 Julie 2011
- Petersen vol moed vir ASV, Afrikaans. Volksblad, 6 Maart 1996
- Taalliggame ontsteld oor “wit” skryfwedstryd. Die Burger, 17 Julie 1996
-
Artikels oor Patrick Petersen se afsterwe
- De Vries, Abraham H: Die saggeaarde versetmens. Insig, Julie 1997
- Digter Petersen ’n jaar ná sy dood vereer. Beeld, 2 Julie 1998
- Dominee-digter dood in ongeluk. Vrydag, 13 Junie 1997
- Ester, Hans: Patrick Petersen 1951–1997. Zuid-Afrika, Julie/Augustus 1997
- Ferrus, Diana: Vir Patrick Petersen [gedig]. Karring, Somer 1997
- Fourie, Pieter: Petersen: KKNK sal leemte voel [brief]. Die Burger, 20 Junie 1997
- Geldenhuys, Ingrid: Patrick se lewe: huldeblyk. De Kat, Augustus 1997
- Hambidge, Joan: Vir Patrick Petersen, ’n vriend, ’n gedig: Lykdig [gedig]. Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1997
- Hattingh, Marion: Patrick Petersen: die digter as identiteitskepper. Stilet, Maart 1998
- In ’t kort: Petersen onthou met voorlesings. Die Burger, 27 Junie 1998
- Jansen, Valda: Maar lééf: Herinneringe aan Patrick Petersen. Karring, Somer 1997
- Keyser, Gawie: Nederlandse blad huldig Petersen. Die Burger, 23 September 1997
- Koza, Leonard: Op die Paternoster-pad [gedig]. Karring, Somer 1997
- Pearce, Robert J: In memoriam Patrick J Petersen. Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1997
- Plaatjies, Vernie: By die dood van ’n digter [gedig] Karring, Somer 1997
- Van Heerden, Etienne: Noodlot verseël dalk era met Petersen se ontydige dood [Kommapunt]. Die Burger, 19 Junie 1997
- Wastijn, Roger en Ton Luiting: In memoriam. Concept, September 1997
- Willemse, Hein:
-
- Hamba kahle Pat. Karring, Somer 1997
- Huldeblyk: Patrick J Petersen (1951–1997). Radio sonder grense: Skrywers en boeke, 22 Junie 1997
-
- Wyngaard, Heindrich:
-
- By die besoek aan die graf van ’n geliefde dominee-digter [Van alle kante]. Die Burger, 7 Julie 1998
- Dalk was Patrick Petersen te eerlik. Beeld, 12 Junie 1997
- Herinneringe aan Pat … en ’n “lewende” storiekarakter [Van alle kante]. Die Burger, 9 Junie 1998
- Patrick James Petersen: “Amandla ngawethu” [Van alle kante]. Die Burger, 17 Junie 1997
- Petersen se dood ’n ramp vir Afrikaanse letterkunde. Volksblad, 11 Junie 1997
-
(Daar mag dalk leemtes in die publikasielys wees – die opsteller vra om verskoning, maar is afhanklik van berigte in die pers, NALN se knipselversameling en die internet vir die inligting.)
Patrick Petersen se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-06-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


