Patricia de Lille en etniese politiek

  • 0

Die tersydestelling van die beëindiging van Patricia de Lille se DA-partylidmaatskap deur die Kaapstadse hooggeregshof verskuif nou die fokus na haar politieke toekoms buite die DA.

Dit is ’n gegewe dat De Lille, Kaapstadse burgemeester, in die afsienbare toekoms die DA sal moet verlaat omdat haar verhouding met dié party en ook met die partyleier, Mmusi Maimane, onherstelbaar verbrokkel het.

Ook plaas dit die fokus op die verwagting van sommige bruin mense, veral in die Wes- en Noord-Kaap, dat De Lille weer ’n politieke party moet stig om – soos hulle dit stel – “ons mense se belange en aspirasies te verteenwoordig”.

Veral onder werkersklas bruines word geglo dat daar nog baie politieke skop in De Lille oor is en gevolglik word daar oproepe op sosiale media en in koerantbriewe gedoen dat die eertydse Onafhanklike Demokrate (OD) weer moet herleef.

Die ongelukkigheid met die DA onder bruines spruit nie net uit die manier hoe die DA De Lille behandel nie, maar ook oor dié party se besluit in 2016 dat al sy strukture met hoofsaaklik etniese swart mense gevul moet word.

Die “verswarting” van die DA is in lyn met die uitslag van die 2014-verkiesing. Voor dié verkiesing was die Wes-Kaap as die DA se bakermat beskou omdat dié party altyd meer stemme daar getrek het. Dié provinsie – met sy hoofsaaklik wit en bruin konserwatiewes uit die geledere van die nou gestorwe Nasionale Party – was dus ’n veilige hawe vir die DA.

Nie meer nie, want die DA het in dié verkiesing meer stemme in Gauteng gekry. Die magsbalans in die party het dus na die noorde verskuif en het dus ’n plafon met sy wit en bruin steun bereik.

Reeds daarom word daar gewag gemaak onder (sommige) bruines dat die DA hulle klaar misbruik het en nou nie meer nodig het nie. Die De Lille-geval word as ’n tipiese voorbeeld voorgehou.

Daar word ook geglo dat die ander bestaande politieke partye liewer vergeet moet word omdat hul gevestigde belange elders is.

Dit is egter ’n wanopvatting dat ’n politieke party met ’n bruin leier noodwendig die meerderheid bruin mense se steun sou trek. Die geskiedenis die afgelope 53 jaar sedert die stigting van die Arbeidersparty in 1965 deur Richard van der Ross vertel ’n storie dat bruin leiers sukkel om hul eie mense se politieke steun te trek.

Dit kan aan verskillende faktore soos identiteitskwessies toegeskryf word.

Trouens, dit sou veilig wees om te vra of bruin mense wel vir ’n “bruin” politieke partye soos die AP en ander tussen 1965 en 1994 sou gestem het, indien apartheid nie bestaan het nie.

Dié vraag sou geldig wees omdat FW de Klerk (NP), Tony Leon (DP/DA) en Helen Zille (DA) baie meer suksesvol was om bruin stemme te trek as bruin leiers voor en na 1994. Trouens, die feit dat ’n beduidende aantal bruin mense in die onlangse verlede by die verregse Vryheidsfront Plus aangesluit het sou dié argument nog verder versterk.

Waarmee die oproepers vir die herlewing van die OD moet rekening hou, is die feit dat dié party nooit as ’n bruin politieke party in 2003 gestig was nie. Dit was as ’n breë Suid-Afrikaanse politieke party gestig met die doel om alle mense op ’n gelyke basis te verteenwoordig.

Die OD het wel later ’n bruin etniese kleur in veral die Wes- en Noord-Kaap gekry. Dit het spontaan gebeur sonder dat ’n etnies-ideologiese agenda deur die leierskap gedryf was.

De Lille het haar politiek in die nie-rassige “kongres-politiek” geleer. Nadat sy die DA verlaat het, sal De Lille beswaarlik wil bekend staan as ’n leier van ’n bruin politieke party.

Bruines wat De Lille tot leier verhef is heeltemal binne hul reg, maar hulle moet onthou dat nie-rassige politiek ons toekoms is. Ons kan nie weer terugval op etniese politiek nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top