Paternoster

  • 7

In 2009, daar rond, het ek met wederhelf die Weskustoer gedoen. Ons was al by die Muisbosskerm aan, vanaf Darling af al langs. In Darling self  in ’n “toeriste-vriendelike”  kafee gesit en wurg aan ’n stuk steak. G’n belang gestel in ene Evita se alter ego, of perron nie.

Het ook Paternoster aangedoen. Op en af gestap. Stofstrate, Halfmaanbaai. Hier aangedoen en daar aangedoen. Rustige vissersplekkie. Daar gehoor van die ou wat volstrek geweier het om sy vissershuis op die strand aan ’n “ontwikkelaar” te verkwansel, en ek onthou van “Paternoster Laundery”. ’n Geroeste wasmasjien en daarnaas ’n ewe geroeste “tumble dryer” buite in die stofstraat met die eienares wat op ’n seilstoeltjie die gapende toeriste probeer betower. Miskien, net dalk, het hulle ’n ou hempie?

Nou, 10 jaar later lees ek in my geliefkoosde Sondagkoerant van Paternoster se “kuns in die strate”.

Ek lees “toe die kreef begin min word, moes die Paternoster Visserye ’n plan maak”. En daar in die Weskus.. Afrikaans hartland ... ontspring ’n “Crayfish Wharf”. Daar ...! Wat van Kreef-kaai?

Daar is ’n "Mattat"- (Hebreeus vir geskenk vir die lewe) geldmaakplek. En langsaan sê Uro sy werke is donker, maar die lig straal daaruit in die vorm van ’n figuur, en jy kan by hom ’n Van Gogh-burger bestel.

En die Hungry Monk (Katolieke hier?) en Whale Rib.

En moet tog nie die eklektiese skuur misloop met sy kuns uit Chinese dinastieë en Indië nie.

Nou ook, deesdae, “in die middel van die dorp” is daar die “Stone Fish-galery” wat dekoratiewe harte, kersvoete en kleibakkies soos soetkoek verkoop.

By die “Ceramic Works-ateljee” deel hulle kreatiewe ruimte - jy kan 200 jaar-oue bottels op die strand optel, stukkend moer en dan met ’n blaasvlam en gereedskap die gekleurde glasware tot krale omtower.

Daar’s ’n  plek waar jy “moonshine” (my beskrywing) gin kan suip en kuns kan kyk deur sketse van botaniese bestanddele en plante op die bottel se ontwerp te waardeer.

Daar’s ’n spa waar jy in die slaapkamer verras word met Trechikoff-figure en badeendjies.

Paternoster was eens die plek vir toeriste. Rustig en salig.  

Nie bekend as ’n “kunstenaarsmekka”  nie.

Waar toeriste is, daar bevloed  die “kunstenaars” dit mos alewig.

Hulle moet mos ’n bestaan maak, nè.

(Wonder hoe lyk Tietiesbaai.)

Snoekgroetnis.

Raed-na-Gael

  • 7

Kommentaar

  • Die "Arty Farty's" bring snob waarde aan 'n plek. Hulle betrek enige ou dorp of plek met karakter, restoureer dit met enige verf behalwe die oorspronklike. Verf ou meubels wat van egte soliede hout gemaak is. Open vegan-koffiewinkels wat kolwyntjies, pannekoeke en vleislose "meatpies" verkoop. Mense met ringe aan die tone, lang rokke, baarde en blommetjies in die hare en ringe op ondenkbare plekke beweeg in en verleen 'n eksentrieke "vibe" aan die plek. Moenie die Tjinese se negosie ook vergeet nie. Plekke soos Cullinan, Magaliesburg en Pelgrimsrus kom by my op. Ek weet nie van ander nie want ek sit nie my pote op sulke plekke nie. Geld praat.

  • Reusedwerg... hê hê hê!

    "Arty Farty's"? Ek het lanklaas iets skerp gehoor. Anders as Dirty Harry se "make my day .. punk", hèt dit my dag gemaak. Ek vertaal dit na "kunspoeppers" ( kwasi kunstighede wat uitgepoep word) deur soos jy sê 'mense met ringe aan die tone, lang rokke, baarde en blommetjies in die hare en ringe op ondenkbare plekke'. Ek voeg "Arty farty" tot my Engelse en "kunspoeppers" tot my Afrikaanse woordeskat toe! Dankie.

  • O ja, kry nou die dag 'n omsend Whatsapp. These arty people talking about Mozart and all and has never even seen one of his paintings.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Het Mozart ge"paint"? Deesdae is fotos op glanspapier wat reg gedokter was op die rekenaar ook "kuns", blykbaar net soos karaoke-sangers ook kunstenaars is.
    Waar is die werklike kunstenaars wat met 'n paar blikkies spuitverf graffiti op mure spuit, soos bv Banksy? Ek dink enige persoon wat blokkies gebruik om te teken of projektorskyfies, is bloot besig om verf plagiaat te pleeg.
    Rommelwerwe by afdakke met 'n paar duur potplante en 'n koffiewinkel, is ook deesdae "kuns"! Taaldag word met uitheemse klassieke musiek "gevier", as deel van "kultuur"? Die geroeste afval uit 'n skrootwerf wat aanmekaar gesweis is, is beeldende kunste...
    Ryg 'n paar vloekwoorde in 'n rympie en jy dig?
    Dan, was "kuns" al omskryf? Bv hy/sy verstaan die kuns om te bullshit?

  • Oorlé oom Koos Meyer het 'n storie van aanstellerige mense vertel. Die ou het glo moerse klomp geld gewen of sy plaas verkoop. Hulle gaan bly toe in Wtarekloof. Koop kar en kry alles wat "gegoedes" het. Hulle word toe ook in die sosiale sirkels opgeneem. Die detail kan ek nie onthou nie maar toe die twee nuwe gegoedes later die aand huistoe gaan sê pappie vir mammie, "vrou jy moet vir jou 'n nuwe kostjum gaan koop die mense het ons Swan Lake toe genooi". Die pretensies wat swaar is om aan te sluk.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Reusedwerg, hêhê, nuwe baaibroek?
    Laat my dink aan "nuwe geld" vs "ou geld"! Die "nuwe geld" het alles oorvol van duur blink goed. Die "ou geld" het afgeleefde meubels en selfs ouerige kar, sonder pretensie.
    Styl is nie noodwendig die nuutste modes nie of etiket klere nie, dis 'n aangebore waardigheid.

  • Hans, grond kan jy koop, maar agtergrond nie. Ek beweeg nie in daardie kringe nie. Ek het 'n weersin aan aanstellerigheid en spoggerigheid. Ek raak mos dan moedswillig in sulke mense se geselskap. Ken sulke mense. Neusoptrekkerig, snobbe. Plein pyn waar die son nie skyn nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top