
Foto: Canva
Pater Noster deur ’n ateïs
Onse Niks wat nêrens is,
laat Niks hier heilig wees.
Laat alles kom tot Niks,
behalwe evolusie.
Dankie, Niks, vir Niks
wat sonde is.
Vir Niks sonde wat
vergifnis vra.
Vir aanneming as lidmaat
het die leraar neergelê:
Vyftig preke opgesom.
Ek’t sy vereiste nagekom.
Die res is min gepla.
Die leraar skrap sy wet.
Toemaar, vir lidmaat word,
glo net.
Aanneming? Nie vir my nie, Niks.
Teleurgesteld en verward,
my rug op God gedraai
en van dienste weggebly.
My moraliteit, my keuses,
als wat sinvol is,
ontwikkel ek vir my.
Dis wat my lewe rig.
Die Bose is Niks.
Daar’s nie hel en Satan nie.
En ook geen Opperwese
en Sy hemel nie.
Ek soek tóg die ware God.
Ek wil hom duid’lik sien.
Maar as my dood voortydig is,
is daar ...
Niks.

