Patagonië deur Maya Fowler: ’n resensie

  • 0

Patagonië
Maya Fowler
Umuzi
ISBN: 9781415209288

Maya Fowler is bekend as vertaler en skrywer van meestal jeugromans. Met Patagonië, haar eerste fiksiewerk in Afrikaans, maak sy ’n indrukwekkende toetrede tot die volwassene-mark. Die subtitel van hierdie roman dui daarop dat die teks as ’n fuga aangebied word en Fowler slaag uitmuntend daarin om haar verhaalgegewe vanuit hierdie ietwat ongewone perspektief te struktureer, aangesien die fuga ’n streng kontrapuntale en meerstemmige komposisie is, met as grondbeginsel die stemme wat mekaar nabootsend opvolg. Die kontrapuntale struktuur ontstaan weens twee verhale wat aan die hand van vier “stemme” vertel word, ’n eietydse (2015) en ’n historiese verhaal (1902).

Volgens die eietydse verhaal, wat eerste aan bod kom en ook die narratief sluit, is Tertius de Klerk as akademikus verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en sy lewe is besig om uiteen te val: daar is spanning, met gepaardgaande onvergenoegdheid, by sowel die werk as in sy huwelikslewe. Tertius se teenstem is sy vrou, Alta, wat ’n professionele musikant is en by die US Konservatorium werksaam is. Ná Tertius oor die hoof gesien word vir ’n professoraat, verloor hy totale beheer oor sy lewe en toe sake een nag verskriklik verkeerd loop, is hy genoodsaak om na die buiteland te vlug ten einde vervolging vry te spring. Hy besluit om uit te wyk na Patagonië, waar daar steeds van sy familie, wat na afloop van die ABO daarheen geëmigreer het, woonagtig is.

Alta ontdek egter wat die ware toedrag van sake is en besluit om nié haar man aan die polisie uit te lewer nie, maar om hom na die buiteland te volg ten einde hom dáár te konfronteer en tot verantwoording te bring.

Die historiese verhaal sentreer rondom Tertius se oupagrootjie, Basjan, en dié se verloofde, Salome. Na hy tydens die ABO sy familie aan die Kakies “uitverkoop” het – wat tot die dood van sy broer gelei het – besluit Basjan om die Argentynse regering se uitnodiging aan die verslane Boere te aanvaar om hul in ’n afgeleë gebied in Argentinië te hervestig. Hy vlug inderhaas en laat Salome agter. Soos Alta in die eietydse verhaal, besluit ook sy om haar geliefde te volg in dié se vlug na die vreemde.

Waar daar met die eietydse verhaal gefokus word op die spanning wat rondom Tertius, sy werk en huwelik sentreer, lê die spanning in die historiese verhaal weer ingebed by Basjan en die uitgeweke Boere se aanpassing by en stryd om oorlewing in die vreemde.

Deurlopend in beide verhale is die refrein van “hier moet ek weg” (Tertius en Basjan), met as teenstem “vir my laat jy nie agter nie” (Alta en Salome). Nog ’n ooreenstemming is dat elkeen van die verhale met ’n graftoneel (dood) begin en met versoening eindig. Hierdie vervlegting van deurlopende temas word besonder knap en geloofwaardig deur die skrywer hanteer.

Nog ’n tegniek waarvan die skrywer met groot sukses gebruik maak, is dit wat ’n mens as uitsteltegniek kan beskryf. Bykans al die belangrike wendings in die narratief word nie net eensklaps aan die leser voorgehou nie, maar deeglik deur middel van veral suggestie voorberei. Nie net wek dit spanning nie, maar wanneer die wending dan uiteindelik plaasvind, besef die leser eers presies hoe knap die bepaalde toneel (of situasie) tekstueel voorberei was. As voorbeeld kan Basjan se eerste toetrede as fokalisator geneem word: dit is eers drie bladsye later dat die inkleding ten opsigte van tyd en ruimte (kort na afloop van die ABO) plaasvind, maar die vertelling is sodanig dat die leser van meet af aan besef dat hierdie verhaalgegewe nie verband hou met die voorafgaande passasies nie: die stadiger tempo; die ietwat ouderwetse taalgebruik; die besonderheidsbeskrywings van ’n landelike omgewing; en bowenal is die dialoog bepalend in dié opsig.

Patagonië was inderdaad ’n besonder aangename en boeiende leeservaring wat my telkens verras het met die gemak waarmee daar naatloos tussen die historiese en eietydse gegewe beweeg word; ’n intelligente en sjarmante roman met ’n stewige dosis deernis en humor wat lesers nié teleur sal stel nie.

Gewis is Maya Fowler ’n nuwe Afrikaanse stem om oor opgewonde te raak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top