Titel: Troep: Die dinge wat hulle saamdra
Skrywer: Bun Booyens
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781779860125
In Troep vertel meer as ’n honderd oud-troepe wat hulle onthou van diensplig: om op skool opgeroep te word, te gaan oorlog maak en twee jaar later weer huis toe te kom. Tussenin lê stories van varkpanne, tiekiebokse, twee-komma-viers, boeliebief, die DB, ryloop, pakkies, bosbussies, naweekpas, ratpacks, stof, Buffels, landmyne en skrapnel – en ook herinneringe van vriende, seuns en broers wat nie teruggekom het nie.
Bun Booyens voeg al hierdie stemme saam tot die verhaal van die uitsonderlike dinge wat duisende gewone seuns beleef het. Hierdie stories sal ’n snaar by veterane roer, en hul naastes help om te verstaan watter dinge hierdie mense vandag steeds met hulle saamdra – dit wat hulle onthou, maar ook dit wat hulle nie kan vergeet nie.


Kommentaar
My eie lewe is deur hierdie oorlog van "Troep" tot waarheid geruk. As 20-jarige meisie het ek by 1 Militêre Hospitaal begin werk. Ek is 'n radiografis. Hierdie seuns wat daagliks en snags die Hospitaal ingestroom het dmv ambulanse en vliegtuie uit die grensgebiede was skokkend.
Mans wat soms slegs 3 maande daar in 'n wrede niemandsland vasgevang is, het hul sinne verloor het en hierheen moes kom vir psigiatriese behandeling. Hulle is geknak tot vandag.
Dan kinders waarvan liggame in stukke geskiet of verniel was. Soms blind en doof, hul oë en ore dof agv 'n personeelmyn wat ontplof het, terwyl hy dit onskadelik moes stel.
Dan weer seuns wat hand voet of beenloos opgedaag het, steeds bereid om te help om X-Strale suksesvol af te handel.
Menige nagte het ek tussen X-straalkamers en donkerkamer gehol. Weerman 1, weerman 2 of weerman 3, was name op hul x-strale gemerk, sowel as op hul armbandjies sodat hulle geïdentifiseer kon wees.
Hierdie kinders (waarvan ek ook maar seker een was), het soms vir maande in die hospitaal gelê, dalk vir 7 maande huistoe kon gaan op herstelverlof, voor hul volgende operasie.
Ek kan weke aaneen praat oor die trauma waarmee ek dink hulle moes deel. Party was net meer as 16 jaar oud. Skoolverlaters moes eers Army toe gaan, ongeag van hul ouderdom.
Ek is tot vandag toe dankbaar dat ek nie die brigadier was wat nuus van 'n kind se afsterwe moes deurbel in die middernagtlike ure nie. Erger nog, 'n jong kapelaantjie wat na die kind se ouerhuis moes ry of vlieg om hierdie droewige nuus oor te dra aan die familie.
Ja, ek glo of jy lewendig of dood uit dié oorlog uitgekom het en of jy met 'n geweer of n x-straal masjien geskiet het, ons almal dra steeds trauma saam.