Pasop vir die bose engel, maan ATKV-hoof

  • 1

LAPA se skrywers kuier by die ATKV se algemene jaarvergadering. Martin Steyn, Koelsoem Kamalie, Riette Rust en Flori Schrikker is genooi om die AJV by te woon. Hier saam met Japie Gouws, die uitvoerende bestuurder van die ATKV-Groep.


Die algemene jaarvergadering van die ATKV vind tans plaas by die ATKV-Goudini Spa. Op Woensdag 25 Mei 2016 het Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV-Groep, sy toespraak op ’n baie positiewe noot begin deur die suksesse van die ATKV-Groep uit te lig, maar toe skiet hy van die heup af met hierdie woorde van NP Van Wyk Louw:

            ... dan kom die bose engel na die domstes van so ’n vol
            en fluister vir hulle: “Julle kultuur is die hoogste, ja, die
            enigste werklike kultuur op aarde.”

            En hulle glo hom, want hulle ken nóg hulle eie kultuur, nóg die van ander
            volke.

Daar is verskeie redes waarom ons mismoedig kan wees oor die manewales in die parlement, beurtkrag, opruiende uitsprake deur demagoë en die skending van standbeelde, maar ons moenie toelaat dat politici ons land se onseker situasie uitbuit nie, sê Gouws. “Die regering en politici praat baie van sosiale kohesie en nasiebou, maar op die beste kom daar dadels van.”

Daarteenoor is die ATKV onlangs in koerantartikels beskryf as “aktief-inklusief”. Daarop is Gouws trots. “Dit ondersteun die ATKV se standpunt dat dit moontlik is om nasiebou deur middel van taal en kultuur te bewerkstellig.”

Die ATKV werk dus skaamteloos vir Afrikaans, maar doen dit deur inklusief te wees en nie na die bose engel te luister nie. “Die ATKV wil nie noodwendig as taalstryders bekend wees nie, maar eerder as die bouer van inklusiewe taalgemeenskappe tot voordeel van nasiebou en verbetering van die omstandighede van sprekers van inheemse tale.”

Voorbeelde hiervan is die insluiting van die ander inheemse tale saam met Afrikaans in alle kategorieë by vanjaar se Pendoring-toekennings vir Afrikaanse reklame, die hoogaangeskrewe meertaligheidsprojekte in Soweto, die ongekende suksesse van die ATKV se rieldansers, ook in die buiteland, die skep van die nuwe Afrikaanse resepikone Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker uit Bonteheuwel wat deur LAPA Uitgewers uitgegee is, die uitkomste van die ATKV se verskillende koorkompetisies, die oorweldigende suksesse van die ATKV-Tienertoneel, en die wêreldgehalte van die ATKV-Muziq- en ATKV-Muziqanto-wenners.

Die ATKV beywer hom ook skaamteloos vir die uitbou van moedertaalonderrig vir alle tale in Suid-Afrika, asook die behoud en die uitbou van die hoë funksies van Afrikaans én elke ander amptelike inheemse taal in Suid-Afrika. Dit is immers ’n feit dat ongeveer 90% van Suid-Afrikaners se huistaal nie Engels is nie.

Die ATKV is ook in gesprek met universiteite oor die hantering van Afrikaans. Wat veral pla, sê Gouws, is die openbare debatvoering oor die onderwerp wat dikwels tot polarisering lei. Die ATKV gaan dus voort met privaat gesprekke in hierdie verband.

Daar word ook gereeld met die Departement van Kuns en Kultuur, en spesifiek ook met hulle taaldirektoraat, geskakel rakende die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet Nr 12 van 2012. Hierdie wet verplig staatsdepartemente, semistaatsinstellings en staatsentiteite om oor ’n taalbeleid te beskik wat, in die praktyk, landsburgers in die amptelike taal van hul keuse moet bedien.

Die ATKV het oor die afgelope jare ook ’n goeie verhouding met die nasionale uitsaaier opgebou en is baie opgewonde oor die nuwe digitale kanale wat talle inheemse tale, waaronder Afrikaans en die onderskeie Khoisan-tale, insluit.

Ander voorbeelde van die werk wat die ATKV vir Afrikaans doen, is die borgskap van en direksieverteenwoordiging by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA); die ondersteuning van die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; samewerking met die Afrikaansdepartemente van die betrokke universiteite waar Afrikaans nog as vak aangebied word en ’n betrokkenheid by die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Die ATKV is ook betrokke by die aksies om wel in 2016 ’n Aardklop Kunstefees in Potchefstroom aan te bied.

“Ons is bekend as die mees inklusiewe Afrikaanse kultuurorganisasie, nie net ten behoewe van Afrikaans huistaalsprekers nie, maar ook toenemend tot die voordeel van addisionele sprekers van Afrikaans,” sê Gouws.

Ons is soos slaai

Vroeër het Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur, die suksesse van die ATKV se Kultuurafdeling uitgelig. Sy toespraak het ook gefokus op samewerking, maar, sê hy: “Dink aan ’n slaai. Al die stukkies bly uniek, tog saam maak hulle ’n geheel. Dis anders as ’n sop waar alles later oplos en eenders word.”

Titus is baie trots op sy Europese wortels. Dit is deel van die mengelslaai en deel van Afrikaans, maar dan het die ATKV in Soweto ook begin om Sotho-klasse aan te bied aan Afrikaanssprekendes. “Ons breek stereotipes af wat bestaan oor taal,” sê Titus. “Wat verhoed ons om ander tale aan te leer?"

Uitstekende finansiële posisie

Die ATKV is uniek as burgerlike en niepolitiese organisasie wat homself kan finansier en op hierdie vlak gaan dit ewe goed.

Die herstrukturering van die ATKV, wat verlede jaar deur die algemene jaarvergadering goedgekeur is, is geïmplementeer en die ATKV se sakebelange is nou gesetel in die 100%-filiaal ATKV-Sake. In hierdie maatskappy word die ATKV se belange in toerisme, leefstylbehuising en die Hartenbos Seefrontontwikkeling gehanteer.

Schalk Cilliers, die besturende direkteur van ATKV-Sake, het ook tydens die jaarvergadering vertel oor die opgradering van die oorde, sodat die ATKV mededingend kan bly.

Daar word ook baie gedoen om al die oorde meer omgewingsvriendelik te maak.

Twee van die oorde, ATKV-Drakensville en ATKV-Hartenbos, het Vuvuzela-toekennings gekry en Hartenbosstrand het hul Blouvlagstatus behou.

Verskeie sprekers het ook daarop gewys dat die ATKV die afgelope jaar deel geword het van die Verenigde Nasies se Global Contact (UNGC). Hiermee verbind die ATKV hom tot die UNGC se beginsels rakende menseregte, arbeid, die omgewing en antikorrupsie.

Ons mag nie laer trek nie

Japie Gouws het ná die toesprake van Titus en Cilliers afgesluit deur te sê: “Die Afrikaanse gemeenskap beskik oor die kennis en kreatiwiteit om nasiebou en versoening te bevorder en daardeur wesenlike bydraes tot die suksesse van Suid-Afrika te lewer.

“Die ATKV nooi u almal uit om met ons hande te vat en skouer aan die wiel te sit om die potensiaal van taal en kultuur en erfenis, tot voordeel van almal in Suid-Afrika te ontgin. Op hierdie wyse kan ons die bose engel ontbloot en eerlik met onsself wees. Ons durf nie laer trek nie. Ons moet die wa deur die drif trek.”


Daar was verskeie jeugtakke wat die AJV bygewoon het.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top