Reg onder die Eiffeltoring
in ’n somerse Parys
reën dit (and I’m singing in the rain)
en vele sambrele wág
om die stad van mites te besigtig
in al haar arondissements.
’n Kleuter soek sy pa,
twee verliefdes vroetel vervaard
in die bedompige hysbak.
Die stad is onder rekonstruksie:
tuimelend van metro tot bus,
tot reg voor Alexandre Gustave Eiffel
se staaltoring, 1652 trappies tot bó.
Marie Antoinette bespied
die stad van Liefde en Lig.
“As sy nie liefde het nie, gee haar ’n gedig.”
Jou sms (ek-het-jou-nie-meer …)
breek op – vanuit die poskantoor
stuur sy, ’n afkophoender
én Vrou van Staal, ’n brief:
“Je ne regrette rien!”

