Parow en die Kartel

  • 1

Die ou jaar is op sy rug, en om die nuwe jaar in te lyf, loer ons gou na twee nuwe plate op die rakke: Jack Parow se tweede album Eksie ou en Van Coke Kartel se vierde, Wie’s bang.

Ja, maats, Eksie ou wat dit gaan review, so wie’s bang?

Kug.

Wow, dit was flou. Moving swiftly along, then.

Jack Parow – Eksie ou

Iewers het ek eenkeer gelees dat dié album se naam aanvanklik Nag van die Lang Pette  sou wees.

Ek weet nie of Parow moed verloor het weens die politieke konnotasie nie, en of hy eerlikwaar meen Eksie ou is ’n beter titel, en of hy graag die regse Afrikanermark ook wil bereik nie. Wat ek wel weet, is dat die Lang Pette-idee ’n beter een was.

Op ’n vreemde manier is die titel tog ’n kanarie in die myn. Want die nuwe naam is ’n effense teleurstelling, nes die album (maar nie soseer oor dit sleg is nie, maar omdat dit wat dit voorafgegaan het, soveel beter was).

Ek was (en is) mal oor Parow se selfgetitelde debuut. En Eksie ou is ’n great album. Dit het net nie dieselfde impak op my as die voorafgaande nie. Ek weet ek is seker bietjie onregverdig: die eerste album was nogals ’n skop in die maag.

Dié slag het jy die skop verwag en jou spiere geklem. Maar ek kan nie anders as om te dink dat hier tog ’n mate van sophomore syndrome is nie – nie vreeslik nie, mind you, maar steeds.

Parow rym nog steeds lekker en versteek die lewe se harde houe agter skynbaar hedonistiese en selfvernietigende lirieke (soos in “Laat ons suip”: “Laat ons suip/ laat ons suip/ laat die donkerte verdwyn”).

Hy raak nog steeds ernstig, en is dan nog steeds op sy beste (soos in “Welkom terug” saam met Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties).

Hy is nog steeds soms histeries.

In “Katerien”, my keuse vir single van die album, byvoorbeeld: “Sy was nonchalant/ ek was overly impressed/ ek het haar klaar op die dansvloer friend request”; of “ek was overly nice/ sy was meestal kwaai/ ek wou net liefde maak/ en sy wou net naai/ sy wou nie uitgaan nie, ek het haar altyd genooi/ sy’t my drie keer in die week met ’n mes gegooi.”

Of in “Hard partytjie hou”, met Francois van Coke: “Is Tony die Tier/ Grrrrrreat/ Fokken homie, ek’s hier/ so kak fokken kômmin ek maak polony weer duur”.

Hy rap nog steeds saam met ’n eklektiese versameling kunstenaars (onder meer Gazelle, die pas afgestorwe Haezer en uiters verrassend en uiters geslaagd David Kramer).

Die ding is egter dat hy nie regtig die grense wat hy self neergelê het, verskuif of uitdaag nie.

So ja, dalk is ek bietjie hard op hom oor hy self die standaarde so hoog gestel het. Dalk is dit soos morfien: jy’t later meer nodig om dieselfde euforie te ervaar?

Maar weet jy, selfs met dit alles kan jy maar jou hardverdiende bokkies uitgee vir dié album.

As ek dit met The Beatles kan vergelyk: Sgt Pepper’s is dit nie, ook nie Abbey Road nie, maar dit sal heel tuis voel langs Rubber Soul.

Van Coke Kartel – Wie’s Bang

Die Kartel het dit nog met elke album reggekry om hulle klank aan te pas. Dis ook so op hul vierde album.

Waar hulle debuut rou, dalk selfs onafgewerkte, ruk en rol was, en Waaksaam & Wakker daai gepoleer het tot dit blink (maar nie kitsch-blink nie), het Skop, skiet en donner ’n elektroniese inslag gehad.

Wie’s bang, weer, is harde, hárde rock, met lekker rifs (en plek-plek kan jy hulle punk-wortels duidelik hoor). Dis nog steeds nie Fokofpolisiekar 2.0 nie – daarvoor is die lirieke heeltemal te in jou gesig (maar met elke album raak dit beter).

Genoemde lirieke is vol sosiale kommentaar en waarnemings oor Suid-Afrika.

In “Nou of nooit”, die openingsnit, byvoorbeeld: “onder die belt/ onderdeur/ elke keer vat iemand onder die tafel geld/ is daar niks eg oor nie?”.

Of in “Dis ’n land” (ja, dis baie beslis ’n middelvinger of minstens ’n kopknik van erkenning vir Carike Keuzenkamp se lied): “in die land van die blindes is een-oog koning/ koning loop met die losprys weg/ en moordenaars groet mekaar met ’n hi-five … dis ’n land van kleure en klank … dis ’n land van korrupsie en/ goddank/ dis ’n land van liefde vir drank.”

So kan ek aangaan. In “Doodsdreigemente”: “Demokrasie en doodsdreigemente wou lank al hande vas hou.”

Of in “Chaos” , saam met Parow: “Daar is chaos buite/ hoor dit deur ons sitkamer ruite/ kry duidelikheid deur ons TV-stelle/ haatspraak en hofbevele/ oor ons chaos buite hoor”.

Met al die bloed en gemors, is dit dan enigsins ’n verrassing as Van Coke in “Brein verloor” verklaar: “ek sweer ek het genoeg gehad/ verlos my van die daaglikse nagmerrie/ ek wil my brein verloor … ek wil regtig hard partytjie hou.”

Die kitare is hard, die woorde is hard, Van Coke gil hard. Dis nie iets wat jy gaan speel vir jou ma as sy by jou kom tee drink nie, nee, maar dit is beslis VCK se beste album naas Waaksaam en wakker.

Dis eerlik en rou. Hulle sing oor die kak in ons land, maar nes die meeste van ons het hulle nie antwoorde nie. Ook hulle is op soek na Koos Doep se “soeter wyn teen die groter dors”. Ook hulle is kwaad en voel magteloos.

Jy hoef nie ’n fan te wees om daarmee te assosieer nie. Maar as jy is, gaan koop die bleddie album. Jy gaan nog lank luister.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek stem saam oor VCK, maar nie soseer oor Parow nie. Myns insiens het Parow nogals evolve sedert die eerste album, veral bloot in terme van sy kletsrym-vaardighede, nie net vanweë inhoud (wat ook verbeter het) nie.

    Baie lekker reviews, egter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top