Parkrun

  • 2

Foto: Canva.com

Parkrun 
(Eenmaal lank gelede tydens ’n vakansie)

Parkrun. Nuwe gonswoord, nie vertaalbaar nie. Afrikaanses gôi hom ook, soos in “paakran”. 

Ek verkyk my hier op ’n bankie langs die see aan die massa menswesens wat skielik met die strandpad hier by my verbyhol.

Hol is dalk heeltemal té veralgemenend. Party draf, party skuifel, sommiges seil, ander vaar. Daar is stoomrollendes, daar is hinkepinkendes. 

’n Klompie jong meisies in spandrag trippel al giggelende verby. Lyk of hulle aan ’n klub van ’n soort behoort. Lank na hulle volg nóg ’n klub van ’n ander aard. Ek vermoed dis ’n damesteeklub. Hulle stoom en blaas al swetende verby op ’n aansienlik stadiger pas en daar is geen trippel in hulle tred nie. 

Daar is atletiese sportmanne met stroombelynde sonbrille en geskeerde bene. Heelwat later gevolg deur middeljarige mans wat waarskynlik harder werk aan hulle beursies as aan hulle lywe. Daar is die kappels (paartjies vir die taalkorrektes) wat saamdraf. Een vrou stoot al hollende ’n sportiewe driewiel-prêm met ’n grootoog kleintjie daarin, met haar man wat langs haar draf. Hoop hulle maak beurte. Hier en daar kom een met ’n hond aan ’n leiband verby, want honne moet ook oefen. 

Waar ek sit sien ek hulle aankom en sien ek hulle verbygaan. Met my kop wat soos by ’n tenniswedstryd heen en weer swaai, sien ek voorkante en agterkante. Ek sien rooi gesigte van voor en drillende boude van agter. Ek sien plat magies en boepense aankom en soos hulle na die ander kant toe verdwyn is daar elke vorm van ’n boud om te besigtig. Vetboude, maerboude, langboude, kortboude. Drilboude en stywe boude. Mooi boudjies en minder mooi boudjies. Perdeboude met saalsakke bo-op. Intrekboude en uitstootboude. 

Hardloopbroekies, spanbroeke, skipênts, sweetpakbroeke. Mr Price-sjôts vir die amateurs, Nike-sjôts vir die professionals. En Armani-pênts aan die rykes. 

Die drafskoene is ’n ander affêre. Al wat ’n kleur is, oues, nuwes, no-names en name-brands. Een oubaas kom verby met iets wat soos pantoffels lyk; daar is dié wat lyk soos kouse met ’n sool aan. Ek kyk na my geplakkiede voete en voel soos ’n troep op AWOL wat die twee-punt-vier gemis het. Salig. 

Ek sal weer by die huis inval by die gym en my eie gehollery voortsit. Maar nie nou nie. Dis my vakansie. Dis nou eers wyn-, braai- en rustyd. Dinktyd. Stiltyd.

Behalwe vanoggend. Vanoggend kyk ek parkrun, hier langs die see.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top