Pandemieprobleme: Hoe help ek my kleinkind met die Wiskunde wat hy verlede jaar verloor het?

  • 2

Prent: Pixabay

Goeiemiddag!

Ek is die ouma van ’n knapie in graad 4.  

Hy het in 2019 en 2020 ’n tuisskoolprogram gevolg by ’n sentrum en die gevolg was … leë boeke.

Ek kan uitbrei op ’n hele klomp goed, maar die slotsom is my kleinseun sukkel met lees, Afrikaans en Engels, en Wiskunde is ’n allamintige probleem.

Hoe stel ek as leek vas waar hy die Wiskundetrein verloor het? 

Hy is tans by ’n leesjuffrou om te help met lees Maandag tot Donderdag. As Mamma by die skool met die Wiskundemeneer praat, is sy antwoord: "Hy sukkel met Wiskunde en verstaan dit nie. Jy (Mamma) moet dit vir hom verduidelik."  

Mamma is nie ’n juffrou nie, sy weet nie hoe om hom te verduidelik dat hy verstaan nie en om iemand in Richardsbaai te soek vir ekstra Wiskundeklasse is hopeloos.  

Skool van agt tot twee, lees van drie tot vier. Waar of liewer hóé pas ons alles in, want ons sukkel regtig en ek is desperaat.

Ongeag sy ouderdom, hoe kan ons hom van graad een af met Wiskunde help om vas te stel waar hy die "som" verloor het en hoe ons dit kan herstel?

My idee is om ongeag sy ouderdom, hom op graad een te begin en van voor af Wiskunde te leer. Maar waar kry ek die boeke van graad een tot graad drie en hoe help ek, as leek, hom?

Asseblief help!

Vriendelike groete, Madelien Liebenberg

  • Hierdie leser is gewys op die gratis oefenvraestelle wat op LitNet beskikbaar is. Hierdie brief verskyn met haar toestemming. Ander lesers, onderwysers en kundiges word hartlik uitgenooi om verdere raad te gee. Die LitNet-redaksie
  • 2

Kommentaar

  • Amanda+le+Roux

    Jy kan my gerus kontak. Dis ongelukkig nie 'n eenvoudige antwoord nie. Dit hang baie af van die onderrig wat jou liewe kleinkind ontvang. Indien dit is om prosedures te probeer memoriseer, is dit ongelukkig 'n hartseersaak want kinders kan onmoontlik nie alles memoriseer nie. Jy kan gerus die Ukuqonda webwerf besoek en kyk of jy die handboeke en onderwysersgids wat gratis afgelaai kan word in die hande kry. Ek sal graag help as jy bepaalde vrae het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top