Panda
Net vinnig. Eintlik is alles reeds deur my gesê wat gesê kan word oor jou nonsens.
Dit help nie jy herhaal skool rekeningkunde vir my nie – ons ken dit almal. Maar oor wiskundige en rekenkundige filosofie, weet jy regtig niks nie en dit is duidelik – jou byvoeglike naamwoorde vir my sal jou mos nou ook nie daarmee help nie. Julle agnostiese ingesteldheid inhibeer julle só dat julle nie meer vrydenkend kan wees nie.
Oor die Sceptics South Africa-webblad waarvan die uitgesproke ateïs George Claassen van Stellenbosch die beskermheer en skepper is, kan jy maar jouself probeer flous dat dit nie bedoel is om ’n platform vir agnostici (wat ateïste insluit) teen Godsdiens is nie. Net jý sal redeneer dat gelowiges saam met julle sal skepties wees oor God en Godsdiens – hoe belaglik is dit nie. Nee wat, ongeag die oënskynlike “oop vir almal”, is dit duidelik ’n kubergrot vir Godloënaars. Enigeen wat dié webblad besoek het in die verlede, sal, na aanleiding van jou kommentaar, besef dat jy dit al weer moeilik vind om by die feite en die waarheid te bly.
So ook met jou gebrekkige taalvernuf – ’n fabel is ’n storietjie, ja, maar met ’n verskil – dié fabel storietjie onderskei hom juis dat hy vermaaklik is, maar géén tred hou met die werklikheid nie, veral nie om die werklikheid aan waarheid te bevorder nie. Jy verwar ook fabels met mites, wat die sogenaamde "lessie" betref.
Jy kan nie sê dat Bileam se storie ’n fabel is nie. Dat diere wél kommunikeer, is ’n welbekende feit. Dat daar mense is wat in staat is om óók met diere te kommunikeer, selfs vandag nog (die sogenaamde “whisperers”) ’n feit. Dit is uit en uit spirituele akkies, waarvan jy mos nou sekerlik niks weet nie. Onthou, Bileam was ’n baie spirituele mens, hy was ’n gehuurde geestebesweerder, maar juis daaroor sy spiritualiteit teen God se wil beoefen het, wat hom uiteindelik sy lewe gekos het. In die spirituele realm kan daar met diere gekommunikeer word. Jou eie onvermoë en onkunde in daardie verband is weereens besig om jou met kettings van onkunde vas te bind.
Soos ek nooi – besin oor alles en kom by die punt uit dat jy ophou om jouself oor God te mislei. Aanvaar dat God die Skepper is, want daar is níks wat jy daaraan kan doen nie, hoe verbete jy nou ook al teen daardie prikkels probeer skop.
Kobus de Klerk
Panda
Ek stel werklik nie belang in dié trant van gesprek met jou of enigeen van julle, nie. Ek stel eenvoudig nie belang in ’n poging van jou om my met ’n taalles te verveel nie, veral as jy self nie die betekenis van jou eie kwaal verstaan nie.
Kom ek help jou reg:
atheism (n)
Synonyms : nonbelief, unbelief, doubt, skepticism, incredulity, freethinking, disbelief, godlessness, agnosticism, humanism
Bogenoemde kom uit die Encarta-thesaurus. Kry gerus vir jou ’n behoorlike thesaurus en dan voed jy jouself omtrent jouself op.
Jy praat ook louter snert as jy sê ateïsme is niks behalwe sommer net ’n “weiering om … ” soos jy dit stel. Inteendeel! Wie dink jy, flous jy dalk, behalwe jouself? Dit is een van die jongste volbloed religieë, maar ek handel in ’n ander brief meer volledig met dié aspek.
Die ander aspekte wat jy in jou brief so puntsgewyse onder mekaar noem, is só ongefundeerd en só ooglopend bevooroordeeld en subjektief getint en in sulke onvolwasse terme gestel, dat dit werklik nie enige hantering behoef nie. Almal kan sien dit is jou persoonlike mening, geskoei op jou persoonlike onkunde en dit laat ons jou dus maar mee. As jy so wil wees, dra jy maar self die las daarvan. Jy kan niks staaf wat jy daar kwytraak nie. ’n Kort voorbeeld – jy dig die donker Middeleeuse Katolieke kerk se gruwelike vergrype aan die onderdane vir politieke doeleindes aan die Christendom toe, maar die werklikheid is dat die ware Christendom, die Protestantse beweging eers onder Luther aan later Calvyn, juis weggebreek het van dié ongeregtighede en toe self deur die Katolieke vervolg is, ens.
Dan weer, in bitter kort tydjie wat ateïsme sy beslag gekry het, sedert die 1800’s het dit al deur sy proponente soos Lenin en Stalin, om maar net twee te noem, ongekende wreedhede bedrywe. Ja-nee, die ateïsme is maar ’n liefdelose, gruwelike ding …
En nou iets meer oor ateïsme. Een van die eerste bekende ateïste van die moderne era, Thomas Huxley, was juis die een wat die term “agnosticism” geskep het en hy het eenvoudig gesê dat hy in geen godheid glo nie, maar ook nie kan bewys dat ’n Godheid nie bestaan nie.
Kan jy bewys God bestaan nie, hmmm?
Vandag kan jy maar sê dat ateïsme (daar is al klaar meer as een weergawe daarvan) ’n uiterste vorm van agnostisisme is. Die woord “ateïs” is afgelei van die Griekse woord “atheos” wat “sonder god” beteken, nes die woord “agnostikus” se betekenis is “a person who believes that nothing is known or can be known of the existence or nature of God”. Aldus die Oxford-woordeboek.
Daar het jy dan die onmiskenbare ooreenkoms. Jy moet eers ’n agnostikus wees voor jy regressief kan “vorder” tot ateïs.
Maar ek het dit nie soseer teen die feit dat jy my probeer wysmaak wat jy van die begrip “ateïs” dink nie, ek het dit teen die feit dat jy ook maar, soos die ander, probeer om die wesentlike issues van julle oortuiging wat ek voor julle deur lê, ignoreer omdat julle gewoon géén verweer daarteen het nie en dan dit te wil afmaak met ’n bewering dat ek julle beledig en dan probeer julle die onderwerp van julle dilemma aflei deur allerlei onbenullighede en beuselagtighede op te werp en die hoop dat ek my aanvanklike argument sal byster raak en in julle rookskerms verstik sal raak, soos julle probeer het met die beledigings-bewering, die God Hypothesis-sage en nou dié storie oor die semantiek rakende jou oortuiging. As dit dan beledigings is, wys uit waar ek verkeerd is, met feite … maar julle kan nie, want dit is nie beledigings wat ek julle toevoeg nie, maar feite.
Dit slaag nie met my nie.
Dus, vir bogenoemde redes is daar geen verwagting om ’n sinvolle gesprek met julle soort te hê oor spirituele sake, nie.
Ek het nie na die Dover-saak per se verwys toe ek sê jy praat snert nie. Die Dover saak is ’n feit, maar jou interpretasie en afleidings van wat daar gebeur het en die feit dat jy die saak se ontrafeling in die spesifieke omstandighede en plek waar dit plaasgevind het, met al die teatraliteit waarmee jy dit aanbied hier, dít is snert, soos mens maar net van julle desperado’s kan verwag.
En terloops – ek het nuus vir jou – jy ken my blykbaar sleg. Jy kan die trustfondsmerrie, soos jy daarna verwys, ry soos jy wil , selfs doodry (is al lánkal dood), maar dit sal my beslis nie van stryk bring nie (julle probeer net dié ou afgesaagde merrie, waarvan die rug al gebreek is, opsaal as julle nie raad het met wat ek julle voor die deur lê nie en álmal weet dit) – baie het al probeer, sien. Die feit is, wat jy ook al van my mog sê of dink, is maar net so ongefundeerd soos die ander bewerings wat jy teen my sou maak, en belangriker nog, maak in ieder geval géén jota of tittel afbreuk aan dit wat ek van julle sê en vir julle voor julle deur lê, nie. Hanteer dit!
Kobus de Klerk