Pad na Eensaamheid deur Kas van den Bergh: 'n boekbespreking

  • 0

Pad na Eensaamheid
Kas van den Bergh
Protea
ISBN: 9781485306207

Spoiler alert: Hierdie bespreking gee besonderhede van die storie weg. Lees op eie risiko.

Wyle Kas van den Bergh se onopgesmukte maar treffende skryfstyl in Pad na Eensaamheid is enduit boeiend. Die verhaal is op die oog af eenvoudig en van oordaad gestroop. Maar lees dieper, tussen die reëls, en ’n juweel ontvou.

Oortuig dat Willem vir moord aangekla gaan word omdat hy homself verdedig het toe Madge se man uit die tronk kom en hom by haar betrap, vlug hy per trein agter in ’n beestrok. Sy paaie kruis met dié van Hans, ’n armsalige tabak- en mielieboer, wat op pad terug is na sy plasie, Eensaamheid, nadat hy vir die soveelste keer in die hof moes verskyn omdat sy eksvrou meer onderhoud soek. Hans nooi vir Willem plaas toe en dié dink dis die ideale geleentheid vir hom om laag (én leeg) te lê vir ’n paar dae.

Willem glo werk is “vir die voëls” en “nie in ’n mens se natuur nie”. Hy beskryf homself só: “Ek is ’n boemelaar. ’n Rondloper. ’n Bedelaar. ’n Boef. ’n Parasiet.” Hy is nie lui nie, sê hy. Hy wérk net eenvoudig nie – dit is sy lewensfilosofie en lewenswyse. Hy verspil g’n sy “kosbare, kort lewetjie” deur te werk nie. “Werk is nie lewe nie.”

Hans gló weer aan werk. “Mens móét werk. Almal werk. ... Die Bybel sê so. In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien. ... As jy eendag moet verantwoording doen, sal Hy vra wat jy met jou talente gemaak het.”

Soos altyd het Willem sy antwoorde gereed: “Dan sê jy Hom jy het gewerk en gewerk en armer en armer geword. ... Die Bybel sê baie dinge. Daar staan ook dat die seun van die mens soos die lelies van die veld is wat nie weef en spin nie. Ek is van daardie soort. ... Kyk jou hande. Jy werk jou dood en jy’t nie ’n bed om op te slaap nie. ... Die lewe is so kort, Hans, jy kan nie jou jare om werk nie.”

Hans stel Willem voor aan die bure: oom Daan Dreyer, sy vrou tant Maraai en hul dogter Dina, ’n oujongnooi en onderwyseres. Dina reken Willem is ’n “gentleman”. Madge het ook gedink Willem het “class”. Sy pa was immers “’n gesiene man, ’n prokureur op ’n plattelandse dorp, lid van die Volksraad. Sy moeder was ’n edel vrou ...” Só het almal gedink, maar eintlik het sy moeder haar “toevlug tot drank geneem” en sy vader het ’n “vieslike straatvrou” as minnares gehad.

Ook Willem het later sy toevlug tot drank geneem toe ’n “ongelukkige insident sy eie geluk verwoes”. Hy het geleerdheid en selfs ’n vrou gehad. Toe kook sy kantoordame die boeke en hy kry die skuld en word van die rol geskrap, want hy het dan die “veranderinge geëndosseer”. Dit het nie gehelp dat hy probeer verduidelik het dat hy elke dag in die hof geboer het en byna nooit op kantoor was nie. Dat Hilda die eintlike “baas” van die kantoor was nie. Dit het ook nie gehelp dat Hilda se selfmoordbriefie gelui het: “Moenie hulle vertel wat ek regtig gedoen het nie.” Sy vrou trou die dag nadat sy hom verlaat met ’n ander man. Hy word opgesluit vir dronkbestuur, beland in ’n inrigting vir dranksugtiges en later ook die tronk.

“En nou, ses jaar later, sit hy op Eensaamheid.”

Willem raak kriewelrig en wil weer die pad vat, want “as ek hier bly en jou kos eet, sal ek voel ek behoort te werk, en voor ek weet waar ek is, is ek onder verpligting teenoor jou.” Hy nooi Hans gulhartig om saam met hom te kom “en kyk hoe hou jy van daardie lewe”. Sannie, Hans se eksvrou, woon immers saam met haar nuwe man in Ferreirasdorp en sy “kan darem soen, jong”. Maar Hans skop teë. Dis planttyd. “Ek kan nie sommerso wegloop van Eensaamheid af nie.”

Hans breek sy been die dag waarop Willem weer pad wil vat. “Ou maat, hy’s gebreek. Ek weet nie of jy vanmôre kan loop nie. Wat gaan van my word?” Hans het nie plaaswerkers nie en die Landbank gaan die verband op sy plasie “oproep as hy nie betaal nie. Hy’s al twee jaar agter.” Dina reken dadelik Willem moet help, want hy het “al die tyd in die wêreld” en leef kwansuis “op sy rente”. Hans sal maande lank buite aksie wees en Dina lag, want “Hans gaan jou in die werk steek. Dis planttyd en inboet-tyd.” Eers protesteer Willem heftig: “O nee, o nee, o nee ...”, maar sê dan tog vir Hans: “(E)k kan nie nou hier wegloop nie, anders vrek jy van die honger.” Willem, die argelose leeglêer wat nie werk nie, “omdat werk ’n verantwoordelikheid, verpligting en gebondenheid aan tydelike dinge meebring”, sê “(E)k het self gedink om vir Hans te help.”

So begin die transformasie. Willem wat graag spog “Ek doen wat ek wil”, lag “’n (h)eerlike, dawerende lag”, “want hy weet hy lag omdat hy gelukkig is” en “in sy are is ’n vreemde drang om iets te doen”. Hy melk die koeie en toe Hans opmerk dat hy nie geweet het Willem kan melk nie, antwoord dié: “Ek ook nie.” Willem, wat bang is vir die noodlot se strikke, plant ’n paar tabakplantjies en seël daarmee sy eie lot, want hy vind “die sensasie is vreemd” en reken by homself hy “het ook groen vingers”. “Dis die eienaardigste gevoel. Ek voel of elkeen ’n persoonlike stukkie seën uit my wegdra. Ek dink ’n man voel so as hy na sy kinders kyk.”

Dan is daar Vlekkie, die babahondjie wat ook Willem se verantwoordelikheid word nadat hy vir Bles moet skiet toe ’n pofadder haar pik. “Willem is skoon broeis oor die hondjie.”

Dina raak lief vir Willem, al weet sy “hy is ’n swakkeling”. Hans waarsku haar: “Laat hy net naby ’n trein kom, dan’s hy weg.” Dina reken egter “Willem is nou ’n ander mens. Ek dink hy het geleer om vreugde in werk te vind.” Sy “wens amper dit moet droog word”. ’n Droogte, “’n soort van vuurtoets” sal Willem “smelt” of laat “harder word”. Die droogte kom wel, en Willem begin vernuwend dink om water vanuit die kloof aan te lê, maar Hans wys hom daarop dat daar nie geld is vir pype nie.

Die geleidelike veranderinge wat in Willem én Hans plaasvind, begin wys. Toe Dina ophou om kos vir hulle aan te dra, moedig Hans, wat net nou die dag nog vir Dina teen Willem gewaarsku het, vir Willem aan om haar, ter wille van sy maag, te gaan vry vir kos. Willem “worstel met sy gewete”, want “sy was so goed vir hulle.” Hy skimp egter wel aan oom Daan se tafel teenoor Dina: “Ek sal Eensaamheid onthou vir sy brood.” Wanneer Albert, ’n predikant en ook Dina se broer, wonder of Hans se boerdery agtergeraak het weens sy besering, antwoord Hans: “Willem werk soos ’n bees” en hy het “wragtig die brood verdien wat Dominee se ma altyd gestuur het”.

Willem se plan was om tot Nuwejaar nog op Eensaamheid te wees, maar Hans breek op Kersdag sy been ’n tweede maal en moet dié keer hospitaal toe. Willem skink vir hom ’n sopie in, maar die reuk van drank walg hom. “Hy bly so staan, in verwondering met die oomblik.” Hy wat al vir Hans gesê het: “Kom ons suip, wat de heng!” Hy wonder of die Here hom nie “regtig hierheen gestuur” het “om Hans te kom help” nie. Hy soen vir Dina, maar sê ook vir haar: “Ek is jammer vir jou. Ek wil jou nie seermaak nie.” Dina antwoord: “Ek sal ’n kans waag met jou.” Willem laat haar goed verstaan dat “as Hans terugkom, gaan ek weg.”

Willem is baie trots op die mielies en twak in die lande. “Jy sien hulle geleidelik groter word en elke dag hou jy so ’n bietjie meer van hulle, tot hulle later voel soos jou eiendom.” “Ek het nooit geweet dis so lekker om iets te plant en dit te sien groei nie.” “... as iemand nou kom sê ek moet weg van Eensaamheid af, sal ek baie, baie ongelukkig wees.” Oom Daan reken Willem ervaar ’n “bekering” en nie net ’n “nuwe lewensbeskouing nie”. Willem ervaar “geen storm in sy siel nie”.

Hans, steeds in die hospitaal, se “petrol is op” en hy “idle” net. Hy was amper bokveld toe en hy “praat nou soos Willem van al die goed wat hy nog wil doen ...” “Mens raak die lewe te gewoond en jy besef nie hoe mooi dit is nie. Hulle sê mos jy moet doodgaan om te kan lewe.” Dina sê vir Willem oor Hans: “Ek dink hy’s in ’n stryd. Hy’t nooit iets van die lewe verwag nie, en hy’t ook nooit iets van die lewe ontvang nie. ... Toe kom jy en jy leer hom ’n klomp nuwe dinge, en nou verwag hy meer van die lewe as voorheen.”

Willem woeker op die plaas. “En elkeen, elke mielie, elke lang tabakplant, elkeen is syne. ... Hy het hulle geskoffel en natgelei en vertroetel en gedoen wat hy kon.” Die reën kom nie en “Sy hart is seer vir elke mielie.” “Hoe kan my kindjie ooit doodgaan?” Willem woon selfs die biduur vir reën by. “Ek glo nie die biduur gaan help nie, maar dit kan nie skade doen nie. Daar is slimmer mense as ek wat glo dit help wel, so kom ons bid. ... Die Here het my hierheen gebring en Hy sal my wel wys wat sy plan is. ... Êrens in die misterie van die heelal moet daar iets wees wat God is.”

Dan kom die hael. Dit “het soos ’n sekel deur die land gegaan, een helfte gesny, die ander helfte gelos.”

“Willem loop op en af met die mielierye en streel die koppies een vir een.” “Dit is nog droog. Baie droog, maar sy kinders is nog hier by hom.” “Here, my kind het polio. Ek gee nie om as sy ou beentjies krom is nie, spaar hom net vir my.” “Here, ek sal my kindjie waardeer soos nooit voorheen nie. Ek sal met hom speel, vir hom werk, vir hom lewe ...” Willem leer bid.

Willem sê vir Dina: “Ek was dood, sien, en ek het weer opgestaan ...” Hy vra haar om te trou en vertel haar sy regte naam, dat hy geskei is en twee dogters het. “Ek gaan nooit weer lieg nie en ek gaan nooit weer bedrieg nie. ... Ek gaan nooit weer weg van Eensaamheid af nie.” Hy stoot sy eie geld in die plaas in en koop pype en sement om die klipwal heel te maak en die fonteinwater aan te lê.

Dit begin reën, sag en egalig. “Lewe het teruggekom na dinge wat lankal dood gelyk het.” Hy beplan om ’n droogoond te bou en wil koring, koejawels, vye, lemoenbome en druiwepriële aanplant. Hy bel Hans om hom van sy planne te vertel, maar dié praat net oor die man in die bed langs hom wat dood is, al het hy tot die end geglo hy sal lewe. Die man het soos Willem gepraat oor hoe “hy die lewe gaan geniet en alles doen wat hy nog wou doen”. Willem “voel soos ou dokter Frankenstein wat ’n monster gemaak het wat sterker as hy is”. Hy reken egter Hans “is baie slim en as ek hom ’n week hier het en hy sien die water voor die deur verbyloop, dan’s hy weer reg”.

’n Week nadat die leiwater uiteindelik ná maande se werk op die werf aankom, kom Hans terug. Willem is opgewonde en wag die bus in. “Vandag kom Hans terug en hulle sal nou saamwerk.” Hans arriveer sonder ’n suitcase met net die klere aan sy lyf. Sy oë is “koud en vyandig”. Hy “haat daardie kaal huisie” op die plaas. “En daardie twak en mielies, ek wil nie eens aan die gemors dink nie.” Hy het net gekom om Willem te kom haal, want dié het hom darem gehelp.

 “Maar Hans ...  die water ... die twak ... Dina ... Eensaamheid ... jou grond!” stotter Willem verslae.

“Klaar verkoop,” sê Hans; “ ... ons gaan ’n hêllofa tyd hê.”

Die wind het gaan lê en die blare ritsel nie meer nie. Willem vra sonder klank in sy stem dat Hans’n paar minute moet wag. Hy wil net sy stiggies wat hy geplant het en wat almal groei, gaan uittrek. “Ek is bang iemand onthou my eendag hier ... Ek is nou terug ... sommer nou ...” Hans kyk na Willem soos hy aanstrompel oor die kweek, net soos iemand wat nie kan sien nie ...

Die leser weet nie wat van Willem word nie. Miskien het hy saam met Hans weggegaan nadat hy sy stiggies gaan uittrek het. Dalk het hy die haelgeweer gaan haal waar dit teen die boomstam staan en homself geskiet, want “(d)aarna sal my hart nie meer seer wees nie”. Toe Dina hom eendag gevra het of hy weer teruggaan Johannesburg toe, het hy geantwoord: “Hulle sal my eers moet doodskiet. Ek sal veg vir Eensaamheid en vir my watervoor.” Was Willem se aanvanklike siening dan tóg reg? Dat “die mens en die daeraad nietigheid is en ’n gejaag na wind?” Is alles dan tevergeefs? “Alles doelloos en sinneloos en wreed, en ergste van alles: onverklaarbaar.”

Dis interessant hoe die skrywer Willem se lewensbeskouing op Hans projekteer en hoe Hans s’n weer in Willem posvat. Hans, die hardwerkende persoon, wil die lewe gaan ervaar sonder enige verantwoordelikhede of sorge oor wat môre inhou. Willem, wat lyf weggesteek het, neem die pligte op die plaas oor en beplan vir die toekoms. Ironie loop soos ’n blink watervoor deur die verhaal. Nadat Hans sy been gebreek het en hy nie kon werk nie, vra hy: “Wat gaan van my word?” Toe die hael Willem se mielies raakslaan, vra hy hom af: “Maar hy, hoe gaan hy môre en oormôre lewe? Wat van hom nadat tyd tot stilstand gekom het?”

Die innerlike veranderinge wat die karakters ondergaan, is geloofwaardig en goedgemotiveerd. Die skrywer se groot liefde vir die natuur skemer deur. Mens lees van verskeie voëlsoorte, soos kommandovoëls, meelogies, kwêvoëls, aasvoëls, fisante, kwikkies, tarentale, bosluisvoëls, windvalkies en duiwe. Hy noem ook dikbasbome, wilgerbome, seringbome, populiere, doringbome, adamsvye, boekenhoutbome, blinkblaarbome en mispelbome.

Kas van den Bergh is in 1997 oorlede en was rubriekskrywer vir onder meer Huisgenoot. Verskeie romans, speurverhale, kort- en vervolgverhale het uit sy pen verskyn. Pad na Eensaamheid het wel in 1964 vir die eerste keer verskyn, maar die universele temas daarin vervat sal ook deur die hedendaagse leser van waarde gevind word. Protea Boekhuis gee die tweede uitgawe van Pad na Eensaamheid in 2017 uit.

  • Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top