Ouverture op kykNET

  • 0

Sondag 2 Desember

14:00   Ouverture

Carmen – Bizet

Bizet se Carmen word beskou as die beroemdste opera in die wêreld. Daniel Barenboim lei die orkes en koor van die Staatsopera in Berlyn in hierdie opname. Die titelrol word vertolk deur die mezzo-sopraan Marina Domashenko. Teenoor haar sien ons die gevierde Mexikaanse tenoor Rolando Villazon, wie se vertolking van José dit dubbel en dwars die moeite werd maak om na hierdie opera te kyk.

 

14:30   Ouverture

Andre Rieu in Maastricht V

Die hoogs populêre en gevierde Andre Rieu, wat Suid-Afrika vanjaar weer besoek het, lei sy groot geselskap in ’n meesleurende uitvoering in sy tuisstad Maastricht in Nederland.

 

Sondag 16 Desember

14:30   Ouverture

Andre Rieu en die Wals Leef Voort

Die moderne walskoning, Andre Rieu, lei sy talentvolle en veelsydige geselskap in ’n viering van populêre walse.  Dis ’n uitbundige viering van ’n nostalgiese era wat ongekende roem behaal het hoofsaaklik a.g.v. die beroemde Strauss familie van Wene.

 

Sondag 23 Desember

14:00   Ouverture

Die Tygerbergse Kinderkoor Kersprogram

Vir vier glorieryke dekades neem Tygerberg Kinderkoor, onder leiding van Hennie en Theresa Loock, koorliefhebbers op 'n spesiale musikale reis. Die koor tree gereeld op vir staatshoofde, konings, koninginne en prinse en is een van Suid-Afrika se trotse uitvoerprodukte. Tygerberg Kinderkoor se kenmerkende legatosang, klankvolwassenheid, musikale krag en dinamiese interpretasievaardigheid ken geen gelyke onder internasionale kompetisiekore nie. Die afgelope dekade het die koor se jaarlikse Kerskonserte in die Endlersaal in Stellenbosch 'n instelling op die Kaapse kunskalender geword, en die konserte is gewoonlik lank voor die tyd reeds uitverkoop. Daarom dat dit vir KykNet 'n plesier is om 2010 se uitmuntende Kerskonsert, getiteld Vrede op Aarde, aan 'n breër publiek te bring. Met treffers soos Jannie du Toit se Gee Ons Vrede, Pie Jesu, Laudate Dominum en Santa Claus is Coming to Town, sal hierdie produksie oud en jonk met 'n glimlag en 'n warm gevoel om die hart laat.

 

Sondag 30 Desember

14:30   Ouverture

Die Fledermaus

Die Fledermaus met sy bruisende energie en subtiele humor vorm al jare lank deel van die Oujaarsaand-program van baie operahuise wêreldwyd.   In hierdie weergawe is die soliste Gundula Janowitz, Eberhard Waechter, Renate Holm en Erich Kunz.    Die Weense Filharmoniese Orkes en die Koor van die Weense Staatsopera word gedirigeer deur Karl Böhm.

 

Sondag 6 Januarie 2013

14:30   Ouverture

 

Die geniale komponis, Johann Strauss jnr.    - die Walskoning  -  het wêreldroem aan die Weense wals besorg.    Hy het ook ’n reuse bydrae tot die skep van oorspronlike operettes gemaak.   Wienerblut was sy laaste werk.  Dit was onvoltooid toe hy dood is en is deur Adolf Müller voltooi.    Danksy Müller se briljante verwerkings  word die operette vandag aanvaar as ’n volwaardige skepping van 29 van Johann Strauss jnr.    In hierdie weergawe is die soliste Ingeborg Hallstein en René Kollo.   Die Kurt Graunke Orkes word gedirigeer deur Anton Paulik.

 

Sondag 13 Januarie 2013

14:30   Ouverture

World Orchestra for Peace by die Abu Dhabi Fees

Die konsert, onder leiding van Valery Gergiev, sluit musiek in van Prokofiev en Tchaikovsky.    Gergiev is die hoof van St. Petersburg se Mariinsky Teater en hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes.   Die Vredesorkes, wat in 1995 deur Sir Georg Solti begin is, sluit die beste musici uit die beste orkeste in die wêreld in, en het ten doel om aan die wêreld te wys dat musiek unieke krag het as ambassadeur van vrede.

 

Sondag 20 Januarie 2013

14:30   Ouverture

De Falla:  La Vida Breve

Manuel de Falla se kort opera is waarskynlik die grootste opera in die hele Spaanse repertoire.    Die koor en orkes van die Valencia Operageselskap word gelei deur Lorin Maazel.  Die soliste is die Chilleense sopraan Cristina Gallardo-Domas, Jorge de Leon, Maria Luisa Gorbacho e.a.

 

Sondag 27 Januarie 2013

14:30   Ouverture

Cecilia Bartoli  - Sacrificium

Die Italiaanse mezzo-sopraan, Cecilia Bartoli, een van die suksesvolste klassieke kunstenaars van haar tyd,  is bekend vir haar passie om minder bekende werke te ontgin en te vertolk.    In hierdie opname verken sy die werk van die castrati in sy volle kompleksiteit:   sy skoonheid, glans, omstredenheid en wreedheid.

<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top