Outopsie

  • 0

1
met die valslag moes die subjek
ten gronde gaan teen 120 mpu
met impakslag moes die aorta losskeur
moes die ribbe die hart en longe aan flarde sny

2
jy lê op die tafel van vlekvrye staal
onder die skerp lig soos 'n dooie kuiken
afvlerk en met vliese oor jou oë

3
hoe kry ek afstand om jou lyf te kan dissekteer

4
die splinterbeen het die aorta afgesny
in die linkerhand ineengekramp
'n spesimen vir jou sketsversameling
'n brok been van 'n dassie

5
op die kombuistafel wil ek jou vanaand dissekteer
wil soek na tekens in en aan jou lyf
van god se vraatsug
hy het jou weggevat
hy het jou vermoor die skerpbekaasvoël

6
sny my potlood nie so in die murg in
soos sy skalpel nie

7
ek kan nie jou kadawer oopsny nie
wil nie jou lyf volmaak soos 'n vintage model
met ystersaag en koevoet skend
kan 'n mens jou beminde se gesig
middeldeursaag
soos 'n sjef jou messe slyp
die hart teen 'n 45 grade-hoek reep
vir carpaccio?
hoe in godsnaam kan ek jou borskas
waarop ek kon kom en lê en slaap
oopkraak soos 'n slaaikop?
is dit lykskending om my vinger
te druk in die niere en milt soos rubber?

8
jy word ingestoot op 'n waentjie
in 'n lokaal koud en wit en klinies soos 'n ontwerperswoonstel
jou gesig en lyf bedek onder 'n laken
'n objek om te bewonder met oog van 'n kunskoper

ek tree nader uit die donker hoek waar ek skuil
langs die metaalkas met sy vele deure en knippe
altyd toe-oog aan die slaap

soos 'n barbier gryp die die lykskouer die laken
aan twee punte vas en lig hom
langs hom op die waentjie lê sy lemme uitgepak
dis nie jou lyf en jou gesig wat daar lê so sonder bloed
dis nie jou oë daardie wat eens langs my was op die kussing
sulke lippe opgepof en rooi met rowe het ek nooit gesoen
oor daardie bleek en blou borskas nooit gestreel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top