
...
Die basis van immunologie, in elk geval van hoe dit in die Westerse wêreld kategories aanvaar word, is dat die self self is en non-self non-self is en dat die twee heeltemal onversoenbaar is. En dat mens se immuunstelsel dienooreenkomstig reageer.
...
Winston Churchill het eenmaal iets beskryf as ’n “raaisel toegedraai in misterie binne-in ’n enigma”. Ek dink hy het na Rusland verwys.
Nou, dis die soort gesegde wat telkemale by my opkom as ek oor outo-immuunsiektes (OIS) probeer dink.
Nie dat OIS enigiets spesifiek met die Russe te doen het nie. Hulle kan darem nie daarvoor ook blameer word nie, maar dis omtrent so enigmaties.
Die verskynsel van OIS omvat omtrent 60 tot 70 uiteenlopende siektetoestande wat baie van die liggaam se organe en weefsel kan aantas. Siektes soos rumatoïde artritis, Crohn-siekte, lupus (SLE), veelvuldige sklerose, tipe 1 diabetes mellitus, psoriase en seliaksiekte word almal hieronder geklassifiseer. Die aaklige paradoks van OIS lê daarin dat jou éie immuunstelsel of weerstand jou eie weefsel aanval en vernietig, die soort van reaksie wat jou immuunsisteem gewoonlik eksklusief reserveer vir vreemde kieme of ander indringers in jou liggaam. Die basis van immunologie, in elk geval van hoe dit in die Westerse wêreld kategories aanvaar word, is dat die self self is en non-self non-self is en dat die twee heeltemal onversoenbaar is. En dat mens se immuunstelsel dienooreenkomstig reageer.
My versugting om dié probleem beter te verstaan het ontstaan uit ’n pasiënt van my met Crohn-siekte, ’n outo-immuun-, inflammatoriese toestand van die derm, wat by my, as sy GP, kom pleit het om hom te help om die siekte beter te verstaan, om op ’n meer eenvoudige of logiese wyse sin te maak daarvan. Die dokters wat hy tot op daardie stadium gekonsulteer het, het vir hom die (waarskynlik onverduidelikbare) probeer verduidelik met moedige pogings deur (onder andere) te verklaar dat dit is “soos om allergies vir jouself te wees” of dat dit is “soos om jouself van binne af aan te val en op te vreet”. Vir hom wat jare lank met selfaanvaarding gesukkel het, was dit die laaste strooi. Toe hy by my uitgekom het, was hy onwrikbaar oortuig dat hy sy vroeëre idealisme en deugsame altruïstiese drome soveel keer moes prysgee in die voorafgaande dekade bloot om liggaam en siel aanmekaar te hou en kos op die tafel te plaas vir sy gesin, dat hy nie sy immuunstelsel kwalik neem dat dié hom nie meer herken nie. Hy sukkel trouens self om die mens wat die jare se gespartel van hom gemaak het, te herken en hou ook nie eers van die ou nie. Te midde van al die vyandigheid van die wêreld rondom hom kon hy darem altyd aanvaar dat hy veilig is binne sy eie lyf. Soos Bart Nel van weleer kon hy homself gewoonlik gerusstel met ’n “ek is nog hý”. Nou word dit hom ook oënskynlik ontneem.
Ek het moedeloos met my beperkte GP-kennis probeer praat oor die behandelingsopsies, middels soos kortisoon en azatioprien wat sy immuunstelsel onderdruk en die siekte op ’n manier beheer al kan dit nie genesing bring nie. Hy wou egter niks weet nie. “Ek ken al hierdie pille, die newe-effekte is baie erg en die onderdrukking stel jou net bloot aan ander infeksies en goed,” het hy gekla. Ek het daarna versigtig en hoopvol probeer praat oor nuwe behandeling soos immunoterapie waar jou eie immuunstelsel gestimuleer word en help om goed soos kankerselle te vernietig en OIS te behandel. Toe hy egter eers uitkom by “my eie immuunstelsel maak eers vernietigende antiliggame teen my eie weefsel en nou wil julle mý immuunstelsel inspan om nóg antiliggame teen die antiliggame te maak”, het die scenario hom met soveel afgryse vervul dat ek eers die aftog moes blaas.
...
Maar die postmodernistiese filosoof Jacques Derrida, van die dekonstruktiewe benadering, het soos ek dit verstaan aangevoer dat die konsep van tegelykertyd self en non-self wees die tradisionele binêre idee van teenoorgesteldes uitdaag.
...
Ek het mettertyd besef hy aanvaar die realiteit van sy siekte grootliks, maar sukkel met die absurditeit van oorlog verklaar teen jouself. Ek het self geweldig hiermee begin sukkel. Ek het al tevore te doen gehad met ’n leweroorplantingspasiënt wat met depressie en angstigheid gesukkel het rondom die nuwe orgaan binne-in sy lyf; hy’t amper gevoel soos ’n “hibriede wese”, het hy gesê. Het die orgaan nog die identiteit van die donor of is dit deel van hom? het hy gewroeg. Hy het later ook op alle vlakke gesukkel toe sy liggaam die oorgeplante lewer verwerp het, maar dit was ten minste sy eie immuunstelsel wat die oorgeplante orgaan verwerp het, nie sy eie immuunstelsel wat hóm aanval nie.
Ek het toe besluit om die dissipline van die filosofie en die denke van filosowe en ander wysgere te nader vir meer insig, aangesien ons betreffende die mediese wetenskap hier in ’n doodloopstraat beland het. Sou dit moontlik wees dat dit wat Westers medies-immunologies onmoontlik is, te wete dat mens tegelykertyd self en non-self kan wees, dalk net filosofies moontlik is?
Die Switserse psigiater en analis Carl Jung het sy befaamde konsep van individuasie beskryf as die proses van transformasie waardeur die persoonlike en kollektiewe onderbewuste van ’n persoon in kontak gebring word met die bewustheid en die self gestroop word van alle valse omslae of omhulsels. So vind mens dan sin en betekenis in jou lewe en word wie jy werklik is. In Shakespeare se Hamlet gee Polonius insgelyks vaderlik raad aan sy seun Laertes met sy gevleuelde woorde: “This above all, to thine own self be true. And it must follow as the night the day. Thou canst not then be false to any man.” In albei hierdie voorbeelde word die self as ’n redelik onaanvegbare en onwrikbare realiteit voorgestel.
Die ouer filosowe het gereeld oor die self gespekuleer. Sokrates het geglo dat die self uit twee dele bestaan, liggaam en siel, en dat die twee verkleef is en eers ná die dood geskei word. Descartes het gevoel die gees of gemoed (“mind”) is die setel van ons bewustheid en verskaf aan ons ons identiteit en gevoel van self. Plato weer het aangevoer dat die ware self van mense die intellek of rede is wat die siel uitmaak, en dat dit skeibaar van hulle liggame is. Nêrens word die moontlikheid van tegelykertyd self en non-self wees geopper nie. In elk geval nie sover ek kon sien nie, maar dit word ook nie ontken nie.
Die Oosterse filosofie, insluitend die Boeddhisme en Hindoeïsme, daarenteen beweer onteenseglik dat die idee van ’n self ’n illusie is en glad nie in werklikheid bestaan nie. Hulle ontken die bestaan van ’n vaste menslike self en ondersteun die idee dat ons almal verbind is aan en beïnvloed word deur ’n groter entiteit of mag buite onsself.
Dan kom meer moderne filosowe egter en dan raak dinge meer interessant. Vir ’n leek is dit voorwaar nie maklik om duidelik sin te maak van hierdie ouens se gevoel oor so ’n konsep nie en die taal is soms nogal verhewe.
...
Ek en my tydgenote voel soms as ouer wit Afrikaanse mans dat ons amper daagliks uitgedaag word om te transformeer, om ons “ou self” op te gee, ons “ou natuur te kruisig” as’t ware, en oor ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit te besin.
...
Maar die postmodernistiese filosoof Jacques Derrida, van die dekonstruktiewe benadering, het soos ek dit verstaan aangevoer dat die konsep van tegelykertyd self en non-self wees die tradisionele binêre idee van teenoorgesteldes uitdaag. Hy voel dit kan die grense wat die self definieer, bevraagteken en daarmee saam die begrip van selfheid en dit kan ons help om te ontdek hoe taal, konteks en interpretasie aan ons persepsie van self vorm gee. Dis nogal interessant veral in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse realiteit.
Emmanuel Levinas, ’n filosoof wat bekend is vir sy etiek van die Ander, lê oënskynlik klem op hoe belangrik dit is om die Ander as fundamenteel anders as jyself te erken en te herken en die gepaardgaande verantwoordelikheid hiervan. Levinas voel insgelyks dat die begrip van om tegelykertyd beide self en non-self te wees die inherente verbondenheid van menswees beklemtoon en dan ook die gepaardgaande verpligting om die medemens se behoeftes en uitkyke te ag en te respekteer. Weer eens nie so baie oor self en non-self nie.
Maar miskien die interessantste invalshoek het gekom van ’n toevallige gesprek met ’n jong filosoof van Kaapstad, ’n groot aanhanger van die Duitse filosoof Hegel, en sy begrip van die sogenaamde dialektiese. Laasgenoemde behels die teorie dat enige konsep neig om oor te gaan na sy eie negering of weerspreking as gevolg van konflik tussen sy inherente teenstrydige aspekte. Sjoe, nogal ’n bekvol. Nou, samehangend met Hegel se denke, aldus my jong filosoofvriend, is dié van die Franse psigoanalis Jacques Lacan en sy argument dat ons almal ’n fundamentele leemte (“lack”) in ons ronddra en dat idees oor ons identiteit of gevoel van self almal voortspruit uit ons reaksie op hierdie leemte.
Soos ek dit op die ou end uitgepluis het, voer Hegel aan dat niks bestaan sonder die realiteit van sy teenpool of teenoorgestelde nie. En dat binne elke individu daar dus ook ’n teenstryd tussen identiteit en non-identiteit, self en non-self woed. Mens se kop draai so effens. Maar Hegel gee duidelik te kenne dat self en non-self saam kan bestaan?! Klink dit vir my.
Ek is nie seker of enige van die insigte of spekulasies my pasiënt gaan help nie. Ek sal probeer. Maar ek was op die ou end die onverwagte en onbeplande begunstigde van dié projek.
Ek en my tydgenote voel soms as ouer wit Afrikaanse mans dat ons amper daagliks uitgedaag word om te transformeer, om ons “ou self” op te gee, ons “ou natuur te kruisig” as’t ware, en oor ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit te besin. Nou, baie hiervan is vir my opwindend; een van my groot vrese is dat die land so vinnig gaan verander dat ek agtergelaat gaan word in ’n bittere kokon van wanbegrip en onaanpasbaarheid. Somtyds is dit egter asof ek nie my hele “ou identiteit” wil of kan opgee nie.
Ek wil byvoorbeeld my liefde vir en selfs verknogtheid aan Afrikaans behou, maar terselfdertyd oop wees om ’n ander inheemse Suid-Afrikaanse taal aan te leer en diep te verstaan dat Afrikaans sy ou status verloor het maar steeds ’n belangrike plek het in die hedendaagse Suid-Afrika. Ook dat die taal oneindig baie het om te wen deur die teenswoordige erkenning van en opgewondenheid oor die variëteite van Afrikaans wat tans baie in die nuus is.
Ek was ook van 1994 af baie positief oor die politieke verandering in die land, maar vanaf die Zuma-era baie verward oor my negatiewe gevoelens jeens die regerende party oor wie ek eens so gejuig het. Gelukkig het NP van Wyk Louw my daaraan herinner, deur sy konsep van lojale verset, dat kritiek op die heersende elite nie noodwendig onpatrioties is nie, inteendeel.
So, as dit soms voel of ek twee dinge of twee selwe gelyk moet wees, is dit dalk maar hoe dit moet wees. Die een is nie noodwendig die ware self en die ander ’n non-self nie, dalk net tegelykertyd ’n nuwe self ook? Vreemd dat ek aan die hand van OIS hierby moes uitkom...
Lees ook:
Van aktiwiteit na radikale passiwiteit: die ontplooiing van etiese agentskap in Levinas

