Oukersaand

  • 0

Sal ‘n engel die eensames op Oukersaand
in hul hotelkamers bymekaar raap?
Met hulle, wat deur die newels van goedkoop wyn
staar na flittergoud op Kersbome,
onder sy blad vlieg
oor die stad van aangebrande vleis?

Sal die engel die ellendelinge
by die skoorstene van ouerhuise afgooi?
Op die gras neersit? Die klokkie druk
of bedmaats verras?

Sal die engel met die verlooptes en verglydes
vlieg tot in sopkombuise en skuilinge?
In die kore van die Heilsleër hul opstel?

Of sal die engel op Oukersaand
sy vlerke invou onder sy baadjie,
eenkant,
vir ‘n dop, gaan sit by die kroegtoonbank?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top