Ouderdom

  • 1

Foto: osteoarthritisblog.com

Die kierie kraak
al slepend slof die voete voort
met  moeite, moeg
kneukels dik en seer
are dun, wat swaar die bloed vervoer
na vingers wat traag tas en soek vir vashouplek
bene blou
en swak die liggaam regop beur
oë bleek van jare se tuur
                             die uur loop stadig uit.
Rimpelvel wat kan vertel van soveel son
en gloed
en moed kon skraap uit jonkwees se baldadigheid
koesterhou die lewe in die holte van die hand
tiekiedraai en vrolik swaai
op die dansvloer van die jeug
armsvol die lewe kan omhels
sorgeloos te bloos vir die eerste wilde soen
Maar nou net wag
     vir die dag se trae baan
tot skemer soos 'n vaal ou lap
kom toevou in sy warm soom.

  • 1

Kommentaar

  • In die Bybel lees ons:
    Psalm 90:10
    As for the days of our life, they contain seventy years, Or if due to strength, eighty years, Yet their pride is but labor and sorrow; For soon it is gone and we fly away.
    In die Bybel in hedendaagse Afrikaans is dit soos volg vertaal met die voorafgaande vers in gedagte waarin die skrywer tot die slotsom kom .”Die lewe skiet soos 'n gedagte by ons verby.” Die psalm verskyn dan onder die opskrif : 'n Gebed wat opgedra is aan Moses, die Groot man van God,
    10. Die meeste van ons word maar so sewentig jaar oud.
    Mense wat sterker is, kan dalk nog tagtig haal. Maar die lewe loop hand aan hand met swaarkry en hartseer.
    En dit gaan so bitter gou verby.
    Die dood kom nog vinniger as wat ons dink.
    Lees 'n mens die hele psalm dan is dit duidelik dat wat die ouderdom betref daar eintlik niks nuut onder die son is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top