Bejaarde Jogi,
Die Ou Testamentiese wette waarna jy verwys, kan, anders as wat jy dalk meen, heeltemal versoen word met die Nuwe Testament. Dit is belangrik om te verstaan dat God destyds die Mosaïese wette (sommige waarna jy verwys) uitgevaardig het om vir ’n volk wat omring was deur die wreedste afvallige en barbaarse volke ’n Goddelike dissipline te laat aanleer – ’n verantwoordelikheidsin teenoor God, eerstens en dan ook teenoor mekaar. Die ‘oog vir ’n oog’ wet val in by die Liefdesgebod - die Liefdesgebod (Deuteronomium 6:5; Levitikus 19:18,34; Markus 12:30-31) bepaal opsommend ‘jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, siel en krag en jy moet jou naaste liefhê soos jouself’.
Die naasteliefde gebod bepaal ook ‘alles wat jy dan wil hê dat iemand aan jou moet doen, net so moet jy aan hom ook doen (Mattheus 7:12)’. Dus, as iemand dan ’n ander se oog uitslaan, of tand, ens., moet hy dan ook bereid wees om dit aangedoen te word. Dit is om die mense te leer om verantwoordelikheid te neem vir hulle optrede teenoor mekaar. Die HERE Jesus Christus gaan nou verder en leer die mense om ’n voorbeeld te stel van verdraagsaamheid en vrede, as finale konklusie van die Liefdesgebod, deur eerder nie self vergelding te soek nie (God sal die vergelding waarneem indien nodig)want as mense mekaar verdraagsaam en met liefde hanteer, sal die Gees van Vrede by die gemeenskap posvat.
So ook die Sabbatswet. God het ’n rusdag aangekondig om Hom te eer en mekaar te dien en ’n dag om barmhartigheid te bewys. Mense wat teen Hom gerebelleer het, wou nie. Tóé het God hulle om die lewe laat bring. Nou is daardie hel op die oordeelsdag vir diesulkes, soos die HERE waarsku (Mattheus 10:28). God Self het op die sewende Skeppingsdag gerus. Hy verwag van die mensdom om ook ’n dag opsy te sit om Hom te eer en dít doen die mens deur op te hou werk vir hulleself en veral ook aan mekaar goed te doen. Daarom dat die HERE sê “So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen”. Die mens doen goed deur eerstens sy God te eer en ook sy medemens in nood te hulp te kom. Ons weet dat God die God van die heelal is.
Daar is ongeskrewe natuurlike Goddelike wette, wat deur alle volke eerbiedig word, soos byvoorbeeld die wet teen redelose moord, ens. Net so ook met redelose geweld. Só kan ons aangaan. Kyk bietjie hoe die wêreld verander het sedert die wrede Ou Testamentiese tye, toe die volkere, behalwe ’n paar uitsonderinge, so afvallig van God gelewe het. God het deur die Ou-Testamentiese wette as afskop stelselmatig orde en voorspoed begin skep op aarde. Só het die ou Mosaïese wette hulle doel tot ordeskepping en die kweek van ’n universele verantwoordelikheidsin wel deeglik gedien en is die uitlewing daarvan vervolmaak deur Christus Jesus die HERE se uitlewing en voorbeeld daarvan. Selfs die beroemde Romeinse regstelsel van destyds en waarom meeste moderne westerse regstelsels gebaseer is, bevat talle beginsels vanuit die Mosaïese wette. Dit is maar sedert die laaste eeue dat dinge weer begin agteruitgaan en dit val saam met die toename en verfoeilike invloed van agnostisiteit en veral ateïsme.
Groete,
Kobus de Klerk

