Die “Stasies van die kruis” (ook bekend as Via Dolorosa) is ’n reeks van 14 artistieke voorstellings – meestal skilderye of beeldhouwerk – wat momente langs Jesus se lydingsweg vasvang.
Winand Grundling, ’n bekroonde jong orrelis van Stellenbosch, het ’n opwindende reeks improvisasies geskep vir sy uitvoering “Die 14 Stasies van die kruis”.
Sy eerste uitvoering hiervan was op Goeie Vrydag 2011 in die Welgelegen NG Kerk, waar hy die orrelis is. Sy orrelspel het konsertgangers in trane gehad en vir staande applous gesorg.
En nou, byna ’n jaar later en met Paasfees om die draai, gaan hy vanaf Maart ’n reeks uitvoerings in onder meer Durbanville, Brackenfell, Piketberg, Wellington, Caledon en Heidelberg (Gauteng) lewer. Die toer sluit af op ’n hoogtepunt met drie uitvoerings by die KKNK op Oudtshoorn, met die laaste konsert op Goeie Vrydag.
Winand het ook pas ’n CD met sy improvisasies opgeneem by die Universiteit Stellenbosch se Endlersaal. Die bekende klankingenieur Gerhard Roux, wat ’n stemlid is van die Grammy-toekennings se Recording Academy, het die tegniese aspekte behartig.
Die 14 Stasies is al tevore op die orrel geïmproviseer, vernaamlik deur die beroemde Franse orrelis en komponis Marcel Dupré. Winand het egter sy eie reeks improvisasies geskep en sy invloede is eklekties en verrassend: Mozart, Mike Oldfield (Tubular Bells), die Liedboek en selfs musiek vir rekenaarspeletjies!
“Ek het deur die jare ’n aantal patrone, motiewe en lukrake stukkies musiek geïmproviseer en neergeskryf,” vertel Winand. “Ek wou dit als bymekaarbring in een groot siklus. Die Stasies bied die perfekte platform om kerklike en sekulêre elemente te gebruik om die storie van Jesus se lydingsweg uit te beeld.
Winand (24), het tien jaar gelede by Colin Campbell begin orrel speel en is vandag een van Suid-Afrika se mees gerekende jong klassieke musikante. Hy het reeds verskeie groot kompetisies en beurse gewen, onder meer die Absa Nasionale Jeugmusiekkompetisie (2004), die UNISA Oorsese Musiekbeurskompetisie (2009) en die ATKV Musiq Nasionale Jeugmusiekkompetisie (2010).
Hy is tans besig met sy M.Mus aan die Universiteit Stellenbosch en ’n orrelleerling van Mario Nell. Later vanjaar beplan hy om Meestersklasse by te woon in Suid-Korea, Nederland en die V.S.A.
Vir Winand was die Stasies ’n heerlike en kreatiewe uitdaging. “Ek het probeer om vir elke Stasie ’n lied te kies wat daarby pas,” vertel hy. “In Stasie 4 (Jesus sien sy Moeder) gebruik ek die kerklied “Al was ek nie daar nie”, met die subteks dat wanneer Jesus vir Maria sien, hulle albei terugdink aan sy geboorte en kinderjare.
“Of by Stasie 12 (Jesus sterf) gebruik ek die kerklied “O, die goeie tyding”, met die subteks dat die onderwêreld juig oor Sy dood, maar die ironie is dat Hy juis die dood oorwin het.”
Winand tree op 3, 4 en 6 April by die KKNK op in die NGK Park. Kaartjies kos R80, bespreek by Computicket.


Kommentaar
Waar kan ek die CD te koop kry?
Dankie